Tortilla-wiggies & quesadillas
Lekker eet – of soos die Meksikaane sê: Buen provecho! Die geure, kleure en smake wat met Meksiko vereenselwig word, is opwindend, helder en iets waarvan Suid-Afrikaners baie hou. Heelwat van die bestanddele wat in Meksikaanse geregte gebruik word, is ook tipies aan ons mooi land. Hul koskultuur is vir hulle net so belangrik soos wat dit vir ons is om lekker te eet. En die samesyn om ’n tafel is net so kenmerkend van ’n Meksikaanse ete as ’n hartlike Suid-Afrikaanse ete.
Die quesadilla-resep en idees met tortilla-wiggies hier onder, kom almal uit my LiG Tydskrif kosartikel vir Mei 2019. Dit was so ’n lekker storie om aan te werk, dat ek graag van die idees en interessante inligting hier deel. In die volgende twee blogs in Mei, is daar ook ’n geurige hoendergereg met tipiese bykomstighede en dan ’n nagereg-idee uit die boonste rakke om teen die einde van die maand na uit te sien.
Meksikaanse kos in ’n neutedop
Meksikaanse kos is met die verloop van tyd deur verskillende lande se koskulture beïnvloed. Die smullekker geregte is beslis nie net sterk of warm smake wat met speserye en brandrissies geassosieer word nie. Maak gerus van die eenvoudige resepte wat ek hier gaan deel, want jy gaan dalk verbaas wees oor die geurkombinasies met bekende bestanddele, sonder dat dit noodwendig ‘sterk’ is.
Bestanddele om van te kies en keur
Vars produkte soos mielies, tamaties, soetrissies, komkommer, aartappels en natuurlik avokado’s is tipies Meksikaans, maar kon net sowel ’n lys Suid-Afrikaanse bestanddele gewees het. Vars vrugte soos mango, papaja en pynappels is ook gewild. Sitrusvrugte soos suurlemoene, lemoene en veral lemmetjies word dikwels gebruik om ander bestanddele se sout, vetterige of soet smake te laat balanseer.
Brandrissies in elke grootte, kleur, vorm en grade van warmheid word op verskillende maniere in Meksikaanse kos gebruik maar beslis nie in elke gereg nie. Dit word gereeld met ander geurmiddels soos knoffel, gemmer en ’n lang lys speserye in geregte, souse en bykomstighede gekombineer. Komyn, paprika, koljander, origanum, rooipeper, kaneel, naeltjies, steranys, wonderpeperkorrels en vanielje vorm ’n belangrike basis. Kruisement, koljanderblare, tiemie, salie en basiliekruid is van die kruie wat deel is van die Meksikaanse geurprofiel. Suiwelprodukte soos kase, suurroom en ongegeurde jougrt is bekende elemente en word graag ingespan om skerper smake te balanseer. Vis, pluimvee, vark en rooivleis, maar ook verskillende soorte droë bone is tipies in Meksikaanse kos. En dan drie belangrike bestanddele: kakao, sjokolade en koffie. Dit word in beide soet en soutgeregte ingespan.
Tortillas in al die gedaantes
Tortillas is amper ’n stapel-item in Meksiko. Dis ’n sagte, plat tipe brood wat van mieliemeel gemaak word en amper aan ’n stewige pannekoek herinner. Dit word op ’n warm plaat gaargemaak en daar is eindelose maniere waarop dit gebruik word. Kos word daarop voorgesit, daarin toegevou of selfs in sop gedoop. Tortillas word net só, gerooster of gebak gebruik. Elke manier waarop tortillas as ’n gereg gebruik word, het ook ’n ander naam, van tostadas (gerooster met ’n vulsel of bolaag) tot nachos (in wiggies gesny en vars of gerooster as happies geniet) of quesadillas. Hier word twee tortillas met ’n kaasvulsel tussen-in, in ’n groot braaipan gerooster en in wiggies gesny. Tacos (opgerol of toegevou met ’n vulsel) en enchiladas (gevul, opgerol en met ’n sous en kaas bo-oor gebak), is maar net van die ander opsies. En dis nie eers al die geregte op die lys nie. Quesadillas is ’n heerlike voorgereg of ligte ete, en die vulsel sal bepaal hoe vullend dit is. Ons is lief vir warm wiggies quesadilla met sop of maak dit as tortilla-wiggies en eet dit soos nachos om aan te peusel. Maak sommer ’n bordvol met altwee opsies, soos hier onder, of kies dit waarvan jou gesin of gaste gaan hou. Die vulsel is genoeg vir die 6 tortillas op enige manier voorberei.
Resep
Tortilla-wiggies & quesadillas
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
500 ml (200 g) gerasperde mozzarellakaas
180 ml mieliepitte (vars of bevrore)
1-2 sprietuie, in dun skyfies gesny
45 ml (3 e) gekapte vars koljanderblare
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
6 sagte volkoring- of multi-saad tortillas (ongeveer 20 cm in deursnee)
200 g klein tamaties, in dun skyfies gesny
ekstra vars koljanderblare vir garnering
Metode
1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier of foelie uit en smeer liggies met olie.
2. Meng die kaas, mieliepitte, sprietuie en gekapte koljander saam en geur na smaak.
3. Tortilla-wiggies: Sny 2 van die tortillas in 8 wiggies, soos ’n pizza, en hou die res heel.
4. Pak die wiggies op die bakplaat en skep helfte van die kaasmengsel met van die tamaties eweredig bo-op.
5. Skakel die oondroosterelement aan en rooster vir 10 minute of tot die kaas gesmelt het.
6. Quesadillas: Verhit intussen ’n groot braaipan (AMC 28 cm Chef’s Pan) oor ’n matige hitte. Verdeel die orige kaasmengsel en tamatieskyfies tussen 2 van die heel tortillas. Sit ’n tweede tortilla bo-op elkeen en druk liggies vas.
7. Plaas een quesadilla op ’n keer in die pan. Rooster aan die een kant tot goudbruin en die kaas begin smelt. Draai versigtig met twee groot eierligters om en rooster die ander kant tot goudbruin.
8. Sny quesadillas in wiggies en sit dadelik warm voor met warm tortilla-wiggies. Garneer met vars koljanderblare.
Wenk
1. Indien jy van vars brandrissies of jalapeños hou, kap dit fyn en roer dit by die kaasmengsel of sit met die warm wiggies voor.
Trackbacks/Pingbacks