Chilli con pollo & tortillas
’n Meksikaanse fees
Hoender in ’n geurige Meksikaanse sous van tamatie, soetrissies, gemaalde komyn, koljander, paprika en rooi nierboontjies – koesterkos. Dalk ken jy dit meer as chilli con carne met maalvleis, maar glo my, dis die perfekte kombinasie met hoender. Die lekkerte van ’n Meksikaanse ete is al die bakkies bykomstighede waarmee die hoofgereg geniet kan word. Die geure van die souse en salsa is ’n ontploffing van smake in jou mond.
Die hoenderresep en bykomstighede hier onder, is heerlik as volledige maaltyd, of kies die resepte waarvan jy hou en maak dit deel van ’n geurige feestafel. Lees ook hier meer oor Meksikaanse kos en die bestanddele wat tipies gebruik word. Die resep en idees kom uit my LiG Tydskrif kosartikel vir Mei 2019.
Gaarmaakmetodes speel ’n belangrike rol in die geur van ’n gereg en die Meksikane benut dit ten volle. Bestanddele soos brandrissies, knoffel, soetrissies, uie en tamaties word soms eers gerooster omdat die geure te beklemtoon en ’n meer volronde smaak te gee. Eenvoudige geregte word in tortillas toegevou of met ander vorms van stysel geniet, en dan is die variasie van salsas, souse en ander bykomstighede waarmee dit voorgesit word, juis dít wat die geure interessant maak.
Baie bakkies met bykomstighede
Almal ken guacamole as ’n tipiese Meksikaanse sous of bykomstigheid, maar daar is ook wonderlike souse en salsas wat deel van ’n geurige ete kan wees. Soms is dit so eenvoudig soos ’n bakkie met suurroom of jogurt, vars kruie, gesnyde brandrissies of jalapeño’s of suurlemoen- of lemmetjiewiggies om met ’n vleisgereg te kombineer. Laat elkeen hul eie ete ‘bou’, sorg net vir ’n stapel tortillas op die tafel en al die opsies om daarin toe te vou – dis so ’n gesellige manier om saam te eet.
Kyk ook na die heerlike nagereg wat perfek by hierdie ete pas: Klein doughnuts met spesery-sjokoladedoopsous in ‘n Meksikaanse-styl.
Resepte
Chilli con pollo (Hoender met Meksikaanse geure)
Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
20 ml (4 t) olyf- of avokado-olie
4-6 hoenderborsies aan die been, gehalveer (sien wenke)
2 middelslag uie, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
1-2 klein rooi brandrissies, gekap (sien wenke)
5-10 ml (1-2 t) rooipeper, of na smaak
5 ml (1 t) paprika
10 ml (2 t) gemaalde komyn
10 ml (2 t) gemaalde koljander
125 ml (½ k) lemoensap
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
50 ml tamatiepasta
30 ml (2 e) gekapte vars origanum
2 lourierblare
1-2 heel steranys
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 x 410 g-blik rooi nierboontjies, gedreineer
Metode
1. Verhit helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol (AMC 24 cm Gourmet High) en verbruin die hoenderborsies aan beide kante. Skep dit uit en hou eenkant.
2. Verhit die orige olie en soteer die uie, knoffel en soetrissie tot sag. Roer die brandrissies en speserye by en soteer tot aromaties.
3. Voeg die hoenderborsies, lemoensap, tamaties, -pasta, origanum, lourierblare en steranys by die groente en roer goed deur. Verhit net tot kookpunt en sit die deksel op.
4. Verlaag die hitte en prut 20 minute of tot die hoender net gaar, maar beslis nie droog is nie.
5. Skep hoender uit en laat effens afkoel. Ontbeen en ontvel die hoender en pluis die vleis in repies. Plaas weer terug in die warm sous.
6. Geur na smaak en roer die boontjies by. Prut nog 10 minute met die deksel tot deurwarm en geur verder indien nodig.
7. Sit hoender met warm tortillas, vars koljanderblare, ’n salsa van jou keuse (sien resepte hiernaas vir idees), gesnyde vars tamatie, avokadoskyfies, suurroom of ongegeurde jogurt en suurlemoenwiggies voor.
Wenke
1. Sny heel honderborsies aan die been met ’n skerp kombuisskêr in die helfte, dan word dit vinniger gaar.
2. Skep die hoendermengsel op ’n laag tortilla- of mielieskyfies. Strooi gerasperde kaas oor en smelt die kaas onder ’n warm oondroosterelement.
3. Die hoendermengsel is selfs nog geuriger as dit die vorige dag berei word.
Guacamole
Lewer ongeveer 250 ml
Roer die volgende bestanddele saam: 2 ryp avokado’s, fyngedruk; 10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie; 15 ml (1 e) suurlemoen– of lemmetjiesap; ¼ rooi soetrissie, ontpit en in klein blokkies gesny; 1 klein groen brandrissie, ontpit en gekap of ’n knippie rooipeper; 2 sprietuie, fyngekap en 45 ml (3 e) gekapte vars koljanderblare. Geur die mengsel met 10 ml (2 t) gemaalde komyn, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.
Wenk
1. As ryp avokado’s moeilik is om in die hande te kry of buite seisoen is, is daar voorafbereide guacamole in supermarkte beskikbaar, soos Westfalia Guacamole. Kies een met min ander geure en geur dit self met die res van die bestanddele in dié guacamole-resep.
Vrugte-salsa
Lewer 6 – 8 porsies
Meng die volgende bestanddele saam: ½ klein pynappel of papaja, in blokkies gesny; ½ rooi soetrissie, ontpit en in klein blokkies gesny; 250 ml (1 k) fyngekerfde rooi- of witkool; ’n handvol kruisementblare, grofgekap en 1-2 gepiekelde jalapeños, gekap. Geur dit met ’n groot skeut lemmetjie- of suurlemoensap en olyfolie na smaak.
Wenk
1. Voeg fyngekapte brandrissie of jalapeños by die mengsel, indien verkies.
Bone-salsa
Lewer 6 – 8 porsies
Meng die volgende bestanddele saam: 1 x 410 g-blik swartbone, gedreineer; 125 ml (½ k) mieliepitte; ¼ komkommer, in blokkies gesny; 5 ml (1 t) gemaalde komyn en ’n handvol koljanderblare, grofgeskeur. Geur met ’n groot skeut lemmetjie– of suurlemoensap en olyf– of avokado-olie na smaak.
Wenk
1. Voeg fyngekapte brandrissie of jalapeños by die mengsel, indien verkies.
Groen kruiesous
Lewer ongeveer 200 ml
Plaas dié bestanddele in ’n mengbak en verpulp met ’n stokmenger of in ’n voedselverwerker tot ’n gladde mengsel: 60 g vars koljanderblare en -stingels, grofgeskeur; 1-2 klein rooi brandrissies, ontpit en gekap; 1 knoffelhuisie, gekneus; 15 ml (1 e) witwynasyn; 15 ml (1 e) suurlemoensap en 90 ml (6 e) avokado- of olyfolie.
Wenk
1. Voeg fyngekapte brandrissie of jalapeños by die mengsel, indien verkies.