Kleurvolle groente-kebabs

Resep
Kleurvolle groente-kebabs
Hierdie groente-kebabs is so maklik en eenvoudig om te maak, dat mens maklik kan dink dit gaan nie baie geurig wees nie. Maar moenie dat die eenvoud jou flous nie! Die kombinasie van olyfolie, suurlemoen en vars kruie is altyd ‘n wenner. Groente wat oor die kole gerooster is, is ongelooflik geurig omdat die natuurlike smake meer prominent word en amper karamelliseer. Die effens rokerige smaak is ook altyd spesiaal en iets wat net daardie ekstra geur gee. Maak seker dat al die groente in ewe groot stukke gesny is, sodat dit eweredig gaar word en moenie laat dit brand nie. Die kebabs sal letterlik by enige vleis pas – van vis of hoender tot vark en beslis steak.
Lewer 6-8 porsies
Bestanddele
12-16 hout- of metaal-kebabstokkies
3-5 murgpampoentjies, in dik skywe gesny
125 g bruin sampioene, in wiggies gesny
200 g babatamaties
1 wit of rooi ui, in dik wiggies en elk dan in die helfte gesny
1 elk geel en 1 rooi soetrissie, ontpit en in groot stukke gesny
omtent 20 vars suurlemoen-, lemmetjie- of lourierblare (opsioneel)
80 ml (⅓ k) olyfolie
45 ml (3 e) suurlemoensap
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
15 ml (1 e) elk gekapte vars tiemie, origanum en Italiaanse pietersielie
1 knoffelhuisie, fyngedruk
sout en peper na smaak
basiliekruidpesto of chimichurri om mee voor te sit (opsioneel)
Metode
- Week houtkebabstokkies vir 30 minute in water voor die groente daarop geryg word – dit help dat die stokkies nie so maklik oor die kole brand nie.
- Sit die murgpampoentjies en sampioene in twee aparte bakkies en bedek met kookwater. Laat vir 8-10 minute so blansjeer – dit keer dat die groente breek as dit geryg word. Dreineer deeglik en druk met kombuispapier droog.
- Ryg die groentesoorte om die beurt op die stokkies en ryg ’n blaar of twee tussen-in op elke kebab.
- Meng die olie, suurlemoensap en -skil, kruie en knoffel saam in ’n bakkie. Geur na smaak.
- Verf die oliemengsel oral oor die groentekebabs. Laat vir 30 minute marineer.
- Braai die kebabs oor matige kole tot die groente net gaar, maar steeds helder van kleur is. Verf die kebabs met enige orige marinade terwyl dit gebraai word. Sit warm of teen kamertemperatuur as bygereg met pesto of chimichurri voor.
Wenk
- Pynappel is heerlik op die kebabs, veral as dit as bygereg met vark of hoender voorgesit gaan word.
Foto deur Adel Ferriera vir LiG Tydskrif, Somer 2025
