Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Stiekie-bees met gegeurde rys (Sticky beef)

Jul 4, 2025 | Mains, Meat

Resep

Stiekie-bees met gegeurde rys (Sticky beef)

Dié gereg is deesdae baie gewild op restaurant-spyskaarte. Dit word in baie lande, soos Korea, China en Thailand, as tipiese gereg gemaak, elkeen in hul eie styl. Die geure in die rys pas perfek by die marinade vir die vleis en is ‘n heerlike kombinasie van soet-suur geure, vars gemmer en ‘n bietjie byt. Jy kan self besluit hoe ‘warm’ jou gesin daarvan sal hou, deur die hoeveelheid brandrissie aan te pas. As jy byvoorbeeld nie die brandrissiepitte uithaal nie, sal die gereg baie meer branderig wees. Nie alle geregte met ‘n oosterse aanslag is ‘brand’ warm nie en daar is baie weergawes van stiekie-bees. My resep is regtig nie moeilik om te maak nie en dan sit jy in ‘n japtrap ‘amper-wegneemkos’ voor.
Moenie verby die langer lysie bestanddele blaai nie, want dis ’n volledige maaltyd en wonderlike ete-in-‘n-bakkie. Die rys word in twee stappe gaargemaak wat dit regtig geurig maak. Eers word dit saam met die ui en knoffel gekook en dan, net voor dit voorgesit word, vinnig geroerbraai. Die kombinasie van die geroosterde sesamsaad en spinasieblare is so lekker. Chinese 5-speserypoeier is by groot supermarkte beskikbaar. As jy dit nie kan kry nie, kan jy ‘n knippie gemaalde kaneel, naeltjies en kerriepoeier, na smaak in die rys gebruik.

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

Gegeurde rys

30 ml (2 e) olie

1 ui, gekap

1 knoffelhuisie, fyngedruk

250 ml (1 k) bruin basmatirys

625 ml (2½ k) water

2,5 ml (½ t) Chinese 5-speserypoeier (opsioneel)

30 ml (2 e) sesamsaad, gerooster (sien wenk)

2-3 handevol baba spinasieblare

2 sprietuie, in skyfies gesny

vars kruisementblare, sprietuie, geroosterde sesamsaad en suurlemoenwiggies om mee voor te sit

 

Steak

20 ml (5 t) olie

800 g steak, soos lendeskyf of kruisskyf, oortollige vet verwyder

 

Stiekiesous

10 ml (2 t) mielieblom, met ’n bietjie water tot ’n pasta gemeng

90 ml (6 e) water

60 ml (4 e) olie

60 ml (4 e) sojaous

30 ml (2 e) heuning

30 ml (2 e) fyngerasperde vars gemmer

1 klein rooi brandrissie, ontpit en fyngekap, of meer na smaak

Metode

  1. Rys: Verhit helfte van die olie oor matige hitte in ’n kastrol en soteer die ui tot amper sag. Roer die knoffel en rys by en soteer vir ’n paar minute.
  2. Voeg die water by en draai die plaat laer. Sit die deksel op en prut oor ’n lae hitte vir 20 minute of tot die rys net gaar is, want jy gaan dit nog weer soteer. Moenie die rys te ver kook nie en dreineer dadelik enige water. Hou die rys in die kastrol warm, terwyl die ander bestanddele voorberei word.
  3. Steak: Verhit intussen ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Braai die heel steaks aan beide kante tot net gaar, maar nie droog nie. Of tot so gaar soos wat julle dit verkies, maar onthou dat dit nog weer met die sous gemeng gaan word, so wees versigtig dat dit nie te gaar word nie. Moenie met sout of peper geur nie – die sous is redelik sout.
  4. Laat die steaks vir ’n paar minute rus en sny dit dan in dun repies. Hou eenkant.
  5. Stiekiesous: Meng intussen al die bestanddele goed saam en skink dit in die pan waarin die vleis gebraai is. Verhit oor late hitte terwyl dit voortdurend geroer word. Laat die sous liggies begin prut om te verdik. Roer die steakrepies deur die sous tot dit deeglik daarmee bedek is.
  6. Verhit intussen weer die kastrol met rys oor matige hitte tot die rys begin braai. Giet die orige olie oor en soteer die rys vinnig vir ’n paar minute. Roer die Chinese 5-speserypoeier, sesamsaad, spinasie en sprietuie deur tot die spinasie net begin sag word, maar nie pap is nie. Moenie die rys te veel roer nie.
  7. Sit die vleis en sous op die rys voor en garneer met enige van die ekstra bestanddele.

Wenk

  1. Om sesamsaad te rooster: Verhit ’n braaipan oor matige hitte en rooster die saadjies sonder enige olie, tot goudbruin. Skud die pan gereeld sodat die saadjies nie brand nie. Hou dit dop – dit brand maklik.

Foto deur Adel Ferreira vir LiG Tydskrif, Winter 2025. 

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This