Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

1 Pizza op 2 maniere

Oct 21, 2024 | Mains, Meat

Pret met tuisgemaakte pizza
Met ’n betroubare deegresep, aromatiese tamatiesous en bolae van jou keuse, is daar eindelose moontlikhede met tuisgemaakte pizza. Maak dit saam as gesin, dis baie pret!

Pizza by restaurante en wegneem-eetplekke is deesdae baie algemeen, maar ’n tuisgemaakte pizza is altyd ’n wenner. Dis vir baie mense bederfkos, maar kan redelik ongesond wees, omdat pizza tipies baie sout en ongesonde vette bevat en baie hoog is in stysel, veral ’n pizza met ’n dik basis. As jy self pizza maak, kan jy besluit wat as bolaag gebruik word en ’n paar gesonder keuses maak. Die ander lekkerte, is dat elkeen dan hul eie pizza, met hul gunstelingbestanddele kan ‘bou’.

Alles wat jy nodig het vir die beste pizzas:
1. Goeie deegresep: tuisgemaak bly die beste, maar as jy regtig nie vir die kniewerk kans sien of tyd het nie, kan jy brooddeeg by ’n bakkery of supermark koop. Vra vir die deeg wat vir sagte broodrolletjies gebruik word – sowat 750 g behoort genoeg te wees vir 4 dun-basis pizzas. Maar as jy, soos ek, hou van die amper terapeutiese gevoel van deegknie, en jou eie deeg wil maak, deel ek my resep hier onder.
2. Tamatiesous: vir ekstra geur en om te keer dat die pizza uitdroog. Ek deel twee opsies in dié blog.
3. Bolae: die lys is eindeloos, maar kyk vir inspirasie na die kombinasies wat ek voorstel, en die lys hier verder aan in die blog.
4. Warm oond: pizza-restaurante het ’n pizza-oond, wat baie warm gemaak word. Voorverhit jou oond tot 200 °C sodat die pizzas vinnig bak.
5. Pizza-steen of ’n groot bakplaat: ideaal om die hitte so vinnig as moontlik na die deeg te gelei, vir ’n bros basis. Die steen (’n spesiale keramiek-, of metaalplaat) word vooraf in die oond warm gemaak. Dis deesdae redelik algemeen beskikbaar.

Hierdie is ’n lang blog, maar hou aan lees, want ek deel alles wat jy vir ’n prettige pizza-ete nodig het. Van ’n goeie deegresep, tamatiesouse en bolae tot handige wenke.

SIEN ook hierdie blog vir nog 2 lekker pizzas met ’n interessante kinkel.

Tuisgemaakte pizza-deeg

Lewer 8 middelslag-pizzas

Bestanddele

1 kg steengemaalde of gewone witbroodmeel

1 x 10 g-pakkie (15 ml) kitsgis

10 ml (2 t) sagte bruinsuiker

7,5 ml (½ e) sout

45 ml (3 e) olyfolie

ongeveer 700 -800 ml louwarm water

ekstra meel om mee uit te rol

ekstra olyfolie

Metode

  1. Plaas die meel, gis, suiker en sout in ’n mengbak. Maak ’n holte in die meel en giet die olie daarin. Meng goed deur – dit sal lyk of dit klonte wil maak.
  2. Giet eers net so twee-derdes van die water by die meel en roer met ’n houtlepel of jou hande deur. Voeg geleidelik meer water by, net tot dit ’n sagte, maar hanteerbare deeg vorm. Moenie al die water gelyk byvoeg nie. Steengemaalde meel sal dalk meer water as gewone witbroodmeel benodig.
  3. Keer die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en knie vir 7-10 minute met jou hande tot glad en elasties. Knie in ’n vorentoe-rolbeweging met die agterste gedeelte van jou een palm en vou die deeg met jou ander hand weer na jou toe terug. Of gebruik die kniehaak aan jou elektriese menger.
  4. Knie tot die deeg in netjiese bal gevorm kan word. As jy liggies met jou duim ’n duikie druk, moet dit dadelik weer begin terugspring na sy oorspronklike posisie. Anders moet jy vir nog ’n paar minute knie.
  5. Smeer ’n paar druppels olie in ’n skoon bak en plaas die deeg daarin. Smeer ’n klein bietjie olie oor die deeg, sodat dit nie uitdroog nie – maar moenie te veel olie smeer nie, want dit verhoed dat die deeg rys.
  6. Bedek die bak met kleefplastiek en sit ’n afdroogdoek of ’n kombersie bo-oor. Sit die bak op ’n warm plek, soos op ’n sonnige vensterbank of naby die oond. Laat rys vir 20-30 minute of tot dubbel in volume.
  7. Keer die gerysde deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit en verdeel in agt ewe groot dele. (OF as jy net 4 pizzas wil maak, gebruik helfte van die deeg. Vries die res dadelik in ’n sak, voor dit weer begin rys. Sien wenk.)
  8. Voorverhit intussen die oond tot 200 °C en verhit twee groot bakplate of pizza-stene. Rol elke stuk deeg in ’n sirkel of ovaal van ongeveer 0,5 cm uit. Dit hoef nie ’n perfekte vorm te wees nie.
  9. Verf elke stuk deeg met ’n bietjie ekstra olyfolie en prik deeg met ’n vurk. Strooi ’n bietjie meel oor die warm bakplate of pizza-steen, sit die pizza bo-op en bak vir 5-8 minute of tot byna gaar, maar nog nie goudbruin nie.
  10. Smeer jou keuse van tamatiesous (sien die twee opsies in die blog) oor elke pizzabasis. Pak die bolaag opsies van jou keuse op en bak vir nog 8-10 minute of tot gaar, goudbruin en tot die kaas gesmelt het, of afhangende van die bolaag wat jy gekies het. Hierdie dubbele bakproses gee ’n lekker bros basis.

Wenk

1. Ekstra deeg kan vir tot ’n maand gevries word. Laat dit ontdooi, rol dadelik uit, sonder om dit weer te laat rys en bak. Of bak sommer dadelik met die orige deeg ’n brood vir die volgende dag.

Tamatiesous op twee maniere:

BELANGRIK: Beide tamatiebolae is genoeg vir 4 pizzas, so besluit self wat jy wil maak en verdubbel soos nodig.

Tamatiebolaag 1:

Bestanddele

1 x 410 g blikkie gekapte tamaties

15 ml (1 e) rooiwyn- of balsamiese asyn

1 x 50 g (50 ml) pakkie tamatiepasta

15 ml (1 e) gekapte vars origanum of Italiaanse pietersielie

peper na smaak

Metode

  1. Meng al die bestanddele in ’n klein kastrolletjie saam en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut sonder ’n deksel vir 10-15 minute, of tot die sous verdik het. Geur met peper. As jy ’n gladde sous verkies, kan dit eers met ’n stokmenger verpulp word. Smeer met die agterkant van ’n lepel, dun lagie sous op elke pizza.

Tamatiebolaag 2:

Bestanddele

1 x 50 g (50 ml) pakkie tamatiepasta

60 ml (¼ k) gekapte vars kruie van jou keuse, soos origanum, basiliekruid, tiemie en Italiaanse pietersielie

15 ml (1 e) balsamiese asyn

peper na smaak

Metode

  1. Meng al die bestanddele saam en smeer met die agterkant van ’n lepel, ’n dun lagie op elke basis.

 

Bou ’n pizza
Hier is TWEE geurkombinasies wat jy beslis moet probeer, maar gebruik enige bolaagbestanddele van jou keuse op tuisgemaakte basisse. Sien ook my lys van bestanddele vir nog voorstelle, hier onder. Na dit gebak is, kan die eerste twee pizzas met roketblare, skyfies avokado, basiliekruidblare en ’n lekker draai peper afgerond word.

Pizza 1: Die Italianer (genoeg vir 2 pizzas)

Bestanddele

tamatiebolaag 1 of 2 volgens keuse (sien resep hier bo)

150-200 g gerookte ham, salami of parma-ham, in dun skyfies gesny

sowat 500-750 ml (200-300 g), grofgerasperde mozzarellakaas

basiliekruidpesto om mee voor te sit

vars basiliekruidblare

Metode

  1. Smeer ’n dun lagie tamatiesous oor elke basis. Sit die ham of salami op en strooi die kaas oor.
  2. Bak vir 5 minute of tot die kaas gesmelt het. Skep lepeltjiesvol pesto op, garneer met basiliekruidblare en sit dadelik voor.

Pizza 2: Spek & gekaramelliseerde uie (genoeg vir 2 pizzas)

Bestanddele

tamatiebolaag 1 of 2 volgens keuse (sien resep hier bo)

sowat 500-750 ml (200-300 g), grofgerasperde beleë wit cheddder- of mozzarellakaas

2-3 groot ryp tamaties, in dyn skyfies gesny

200-250 g spek, gaargemaak en in repies gesny

gekaramelliseerde uie, tuisgemaak

1-2 sprietuie, in dun diagonale skyfies gesny

Metode

  1. Smeer ’n dun lagie tamatiesous oor elke basis. Strooi die kaas oor en pak ’n paar skyfies tamatie op elke pizza.
  2. Pak die spek en lepelsvol van die uie op die pizzas. Bak vir 5-8 minute of net tot die kaas gesmelt het. Skep nog uie op elke pizza en garneer met sprietuie.

Nog bestanddele om mee kreatief te wees:
Vars
uie, (gewoon of rooi) of gekaramelliseerde uie;
sampioene, rou of pangebraai; geroosterde groente soos soetrissies of murgpampoentjies
vars tamaties of gemarineerde songedroogde tamaties; songedroogde tamatiepesto
pynappel, piesang of avokado

Geurmiddels
knoffel, brandrissies, jalapeños, pikantrissies (Peppadews®), olywe of kappertjiesade (capers);
vars kruie soos basiliekruid, origanum, Italiaanse pietersielie, roket of mikrokruie;
pesto

Vleise
gaar vleis soos spek, hoender, steak, flentervark (pulled pork) of selfs maalvleis
koue vleis soos enige gerookte of ander ham, pepperoni, of chorizo-worsies;
geblikte tuna, gerookte salm of forel of ansjovisfilette (anchovies)

Kase
amper enige kaas werk op ’n pizza, soos cheddar, mozzarella, bloukaas, feta, parmesan, pecorino, brie, camembert en selfs sagte kase soos roomkaas en suurroom

Hierdie resepte was deel van ’n kos-artikel in LiG Tydskrif, Lente 2024.
Fotos: Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This