Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Plathoender met feta, kruie & songedroogde tamaties

Aug 13, 2021 | Mains, Poultry

So geurig
Kyk, party bestanddele is nou maar eenmaal ’n wonderlike kombinasie, soos vars kruie en suurlemoen. Of basiliekruid en tamatie. Sit nou ’n bietjie fetakaas by en almal gaan hul lippe aflek. Hierdie kombinasie van geure kan op baie maniere gebruik word, of dit nou vir ’n pastagereg, met groente, in ’n slaai of selfs ’n toebroodjie is. Ek het dit onlangs as vulsel vir ’n plathoender (spatchcock-hoender) gebruik en gaan dit gaan beslis een van my gesin se gunstelinge word.

Maak ’n plathoender só
Moenie huiwerig wees om ’n heel hoender soos dié plathoender voor te berei nie – volg net die stappe in die resep, dis regtig maklik. Die platter vorm van die hoender maak dit maklik om meer vulsel eweredig onder die vel in te druk. En as die hoender só gaargemaak word, lyk dit indrukwekkend, word mooi eweredig gaar en is baie maklik om in porsies op te sny. Vir dié resep is die hoender in die oond gerooster, maar ons het dit ook al met groot sukses in ’n kettelbraai gaargemaak en die ekstra rokerige smaak is baie lekker. Sit die hoender met slaai en groente voor. ’n Besonderse ete!

 

Resep

Plathoender met feta, kruie & songedroogde tamaties

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

1,5 kg heel hoender

60 ml (¼ k) olyfolie

sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

45 ml (3 e) grofgekapte vars basiliekruidblare

15 ml (1 e) vars tiemieblare

15 ml (1 e) grofgekapte vars Italiaanse pietersielie

sout en peper

2 skywe fetakaas, gekrummel (verkieslik sagte feta, soos ’n Deense-styl feta)

8 gemarineerde songedroogde tamaties, gekap

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C.

2. Sit die hoender met die borskant na onder op ’n snyplank. Knip met ’n skerp kombuisskêr dwarsdeur die ruggraat van die hoender, van die holte tot bo in die nek.

3. Draai die hoender om, vou die twee helftes ‘oop’ en druk met die palm van jou hand op die borsbeen om die hoender plat genoeg te druk. Moenie skrik as dit kraak nie – hoe platter die hoender lê, hoe egaliger word dit gaar.

4. Meng die olie, suurlemoensap, -skil en kruie saam. Geur na smaak.

5. Meng die helfte van die olie-mengsel met die feta en songedroogde tamaties tot ’n dik ‘pasta’ vorm.

6. Plaas die plathoender, met die vel na bo, op ’n groot bakplaat. Maak die vel van die nek se kant versigtig los en smeer helfte van die fetamengsel eweredig onder beide borsgedeeltes se vel. Maak die vel verder los soos jy die mengsel smeer, maar wees versigtig dat die hoendervel nie skeur nie.

7. Maak die vel tussen die dy en boudjie aan die ‘buitekant’ (weg van die borsgedeelte) los. Smeer nog ’n kwart van die fetamengsel onder die vel van elke dy-boudjie se kant.

8. Skink die orige olie-kruiemengsel oor die hele hoender en geur na smaak.

9. Rooster vir 40-45 minute of tot goudbruin en gaar. Om te toets of die hoender gaar is, prik die dikste deel van die boudjie of dy met die punt van ’n skerp mes. Die vloeistof wat uitloop moet helder wees en glad nie ’n skynsel van pienk wys nie.

10. Sny in porsies (sien wenk) en sit dadelik met suurlemoenwiggies en ’n groot groen slaai of enige bygeregte van jou keuse voor.

Wenk

1. Die maklikste manier om ’n hoender in porsies te verdeel, is deur dit met ’n skerp kombuisskêr, deur die litte, in porsies te sny.

In September – November 2021 was hierdie deel van ’n artikel oor kos vir die lente in LiG Tydskrif.
Foto’s: Adel Ferreira Photography en Myburgh Du Plessis.
Foto-agtergronde: Heinstirred backgrounds.

Pin It on Pinterest

Share This