Bou ’n slaai
In die lente- en somermaande pryk daar meer gereeld slaaie op ons tafels en dit hoef beslis nie net blare, tamatie en komkommer te wees nie. Dié seisoene bederf ons met ‘n verskeidenheid bestanddele om mee kreatief te wees. ’n Slaai hoef ook nie net ’n bygereg te wees nie, maar is ideaal as ’n ligte somer-maaltyd.
Wees kreatief met bestanddele en die manier waarop die slaai voorgesit word. Gebruik ’n plat slaaibord in plaas van ’n bak – dan vertoon die slaaibestanddele nog mooier. Sit die individuele elemente in aparte bakkies en laat elkeen hul eie slaai ‘bou’.
Begin met dié tabel
Om ’n mengsel vars bestanddele in ‘n indrukwekkende slaai te omskep, kan iets uit elkeen van die volgende groepe ‘n groot verskil maak.
- Basis: ‘n Goeie keuse van blare, as basis vir die slaai – daar is verskillende opsies en jy kan besluit of jy ‘n mengsel of net een soort wil gebruik. Selfs klein, jong slaaiblaartjies en vars kruie is heerlik.
- Geure: Seisonale en ander vars bestanddele gee geur en tekstuur. Onthou ook om vrugte te gebruik, een voorbeeld is perskes of aarbeie, komkommer en groenboontjies as ‘n goeie kombinasie.
- Sous: Slaaisous of selfs net ‘n skeut olyfolie maak die slaai klam, maar moet ook die ander geure komplimenteer. As jy nie van slaaisous hou nie, is iets soos ‘n paar skyfies avokado ideaal om dit klam te maak.
- Afronding: Gebruik neute of sade vir interessante tekstuur en as dié bestanddele gerooster is, is dit selfs nog geuriger. Dukkah is bv. heerlik oor ‘n slaai.
- Vul dit aan: Kies ‘n bron van proteïen, soos peule of vleis, veral as dit ‘n ligte ete is. Andersins ‘n kaas van jou keuse, bv. Feta, pecorino, mozzarella of bloukaas.
Met hierdie riglyne as beginpunt, is die moontlikhede eindeloos.
Vars uit jou tuin
Moenie die voorraad vars bestanddele uit jou eie tuin vergeet nie. Selfs net ‘n paar vars kruieblaartjies of eetbare blomme kan ‘n gewone groenslaai opkikker. Dis nou ook die seisoen vir basiliekruid, wat perfek pas by tamaties en ‘n paar stukkies feta- of mozzarellakaas. Ander goeie kombinasies is komkommer, ertjies, kruisement en basiliekruidblare met feta- of ricottakaas.
Minder is meer
Dié stelling is beslis waar as dit by slaaie kom. Kies liewer drie bestanddele wat mekaar aanvul as ‘n oneindige lys ‘goed’ wat uit jou yskas kom en nie regtig pas nie. Slaaie is meestal ‘n bygereg, maar kan met gemak as voorgereg of ligte hoofgereg geniet word. Pas dieselfde basisiese bestanddele aan om as ‘n ete te geniet of verander een of twee vars elemente of dit wat jy oorsprinkel, dan is dit weer ‘n ander slaai.
Tuisgemaak is die beste
‘n Slaaisous is dikwels die geheime agent om ‘n gewone slaai in ‘n gourmet een te omskep. Hier is die moontlikhede ook wyd. Deur verskillende speserye of vars kruie af te wissel, kan ‘n basiese vinaigrette elke keer ‘n nuwe baadjie kry. Het jy al gemaalde komyn probeer of wat van gekapte kruisement?
Basiese slaaisous: 50 ml olyfolie, 30 ml appelasyn, 20 ml heuning, 10 ml mosterd, sout en peper en gekapte kruisementblare of tiemie.
Slim slaai-plan
Gebruik geroosterde neute of sade om interessante tekstuur aan slaai te gee. Sade soos sonneblom- of sesamesaad is maklik en vinnig om in ’n droë pan (sonder enige olie) oor matige hitte, tot goudbruin te rooster. Sit dit op die tafel voor en laat elkeen ’n bietjie aan tafel oor die slaai sprinkel. Maak jou eie dukkah as ’n geurige toevoeging tot enige slaai.
Tuisgemaakte dukkah (ongeveer 250 ml): rooster 125 ml (½ k) grofgekapte, ongesoute neute bv. amandels of makadamianeute sonder enige olie, oor matige hitte, in ’n pan tot goudbruin. Voeg 125 ml (½ k) sesamsaad by en rooster tot goudbruin. Verwyder van die hitte en meng 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel en 1,2 ml (¼ t) gemaalde komyn by. Laat dit afkoel en stoor in ’n glasfles of lugdigte-houer.
Al hoe beter… die winterlyfies maak gereed vir die somer.
Fantasties baie dankie gaan sommer n paar kombinasies aanmekaar bou
Groot plesier Etna. Maak ‘n smullekker slaai!
So bly ek kon jou slaai kolom opspoor nadat jy oor RSG gepraat het. Sien uit om jou slaaie te probeer. Lyk so vars en smaaklik! Baie dankie!!!
Geniet die slaairesepte en idees!
Wow!!!
Dankie Heleen!!
Ek gaan hierdie table lamineer en teen my yskas opsit!! Mens se eie planne raak so eentonig en hier kom jy en blaas weer nuwe idees en planne deur die slaai! Met jou gekarameliseerde uie ook nog by, gaan ons SMUL.
Gaan met nuwe ywer slaai maak!!
Petro.
Baie dankie Heleen.
Waardeer en geniet jou resepte
Baie dankie dat jy hierdie heerlike slaai resepte met ons deel.
Groot plesier Anneke!