Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Sjokolademousse met jogurt

Apr 6, 2021 | Chocolate, Cold dessert, Desserts, sweet treats & baking

Dié maklike sjokolademousse word met jogurt in plaas van room gemaak, wat steeds ’n heerlike fluweelsagte tekstuur verleen, maar baie minder ryk is. Jy hoef ook nie met eierwitte te sukkel wat eers styfgeklits en ingevou moet word nie. Die groot geheim om daardie ekstra lekker sjokoladesmaak te kry? Goeie gehalte sjokolade en kakao vir ’n romerige donkersjokolade-smaak.

Onthou dat dit juis donkersjokolade is wat die kenmerkende smaak gee. Alhoewel baie mense verkies om melksjokolade te eet, het dit ’n heelwat matiger smaak en ook dikwels soeter. Dit kan die mousse ’n afgewaterde smaak gee, so gebruik beslis die beste gehalte donkersjokolade wat jy kan kry.

Resep
Sjokolademousse met jogurt
Lewer 4 porsies
Bestanddele

120 g (1½ standaard blok) goeie gehalte donkersjokolade, grofgekap

90 ml (6 e) goeie gehalte kakao

60 ml (¼ k) kookwater

25 ml (5 t) heuning

15 ml (1 e) vanieljegeursel

375 ml (1½ k) dubbelroom ongegeurde jogurt

granaatpitte of enige seisoensvrugte en eetbareblomme

Metode

1. Plaas ’n glasbak, met die sjokolade, oor liggies pruttende water. Die bak moenie aan die water raak nie. Die water moet net prut en nie kook nie – as die sjokolade te warm word kan dit hard en krummelrig word. Roer tot gesmelt en laat effens afkoel.

2. Klits die kakao en kookwater tot glad en roer die heuning en vanielje by. Roer die sjokolade by die kakaomengsel en meng deeglik tot ’n gladde mengsel. Laat effens afkoel.

3. Roer die helfte van die jogurt by die sjokolademengsel tot goed gemeng. Vou die res by tot ‘n gladde mengsel.

4. Verdeel die mousse tussen 4 klein koppies, glase of bakkies en verkoel vir 1-2 ure. Sit met granaatpitte of enige seisoensvrugte, soos druiwe, mango, perskes, pere, bessies of aarbeie en eetbare blomme voor.

Wenke

1. Verkoel die mengsel in ’n glasbak as dit die vorige dag gemaak word. Roer liggies deur as dit dalk vog uitgestoot het. Verdeel tussen die opdienbakkies, garneer en sit voor.

2. Vries die mousse vir net 2 ure en sit as ‘roomys’ voor – moenie dit te lank vries nie, dan vorm dit onaptytlike yskristalle.

3. Roer ongeveer 0,6 ml (⅛ t) gemaalde kaneel of kardemom of na smaak, by die kakaomengsel vir ’n spesiale geur.

In April 2020 was hierdie deel van ’n artikel oor sjokolade in LiG Tydskrif.
Fotos: Adel Ferreira Photography

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This