Hummus

Maak nie saak hoe jy dié woord uitspreek nie, dit bly een van die lekkerste en veelsydigste bykomstighede om in jou yskas te hê. En ’n tuisgemaakte weergawe is só lekker en maklik om te maak. Hummus (of hoemoes gespel en as ‘goemoes’ uitgespreek) is ’n bekende Mediterreense kekerertjie-‘patee’. Dis ’n smullekker happie op warm repe geroosterde pitabrood, as ’n doopsous met groente, koue frikkadelle of hoendervleis of op enige toebroodjies, om maar net ’n paar idees te noem. Die songedroogde tamatie weergawe hier onder is absoluut heerlik. Hummus is deesdae baie gewild, want dis so geurig, veelsydig en propvol gesonde bestanddele. Dis ook ’n ideale plantaardige bron van proteïen.
Hoe kan ek dit nog gebruik?
Die mengsel is gewoonlik redelik dik, maar kan maklik met ongegeurde jogurt, water of selfs nog olyfolie verdun word om as slaaisous te gebruik. Dis regtig lekker oor geroosterde groente en is veral ideaal vir vegetariese geregte. Ander geurmiddels soos brandrissie, gemaalde komyn, gewone of gerookte paprika kan ook met die kekerertjies ingemeng word om elke keer ’n ander resultaat te verkry.
Skep ’n groot gedeelte van die hummus op ’n plat word, versprei effens wyer en garneer met enige van die bestanddele hier bo genoem, of selfs geroosterde kekerertjies of sesamsaadjies, ’n goeie skeut olyfolie en Italiaanse pietersielie, kruisement of koljanderblare. Sit met groente as peuselhappie of voorgereg voor.
Probeer gerus enige van hierdie resepte met die hummus: Oondgeroosterde wortels, papats en eiervrug met komyn, Somer-tortillas met steak & slaai, Roasted veggies with hummus yoghurt sauce of die Falafels with a yoghurt sauce.
Resepte
Hummus
Lewer ongeveer 500 ml
Bestanddele
1 x 420 g-blik kekerertjies
150 ml tahini (sesamsaadpasta by groot supermarkte en spesialiteitswinkels of beskikbaar, sien die wenke)
2 knoffelhuisies, fyn gedruk
100 ml vars suurlemoensap
60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie
sout en peper na smaak
Metode
1. Dreineer die kekerertjies, maar behou die vloeistof.
2. Plaas die kekertjies met die tahini, knoffel, suurlemoensap, olie en 75-100 ml van die behoue vloeistof in ’n mengbak. Druk stukkend met ’n vurk of plaas in ’n voedselverwerker, en meng tot so glad of grof soos wat jy dit verkies. ’n Stokmenger werk ook uitstekend.
3. Voeg nog van die behoue vloeistof of water by, indien ’n sagter mengsel verkies word. Geur na smaak, maar onthou dat die kekeretjie-vloeistof reeds sout bevat, so moenie te veel insit nie, gebruik liewer nog suurlemoensap.
4. Bêre in ’n lugdigte houer in die yskas vir tot ’n week (as daar nog vir so lank iets gaan oorbly).
Songedroogde-tamatie hummus
Lewer ongeveer 500 ml
Metode
Berei die gewone hummus en dan:
Verpulp 10-15 gemarineerde songedroogde tamaties met die hummus. Voeg van die marinade by as die mengsel nog vloeistof nodig het en vir nog meer geur.
Wenk
1. Kook self kekerertjies: Week 125 g (160 ml) droë kekerertjies oornag in heelwat koue water. Dreineer en prut 1-1½ uur in vars water tot sag genoeg om fyn te maak. Dit kan ook vir 20-25 minute in ten minste 1 liter water, in ’n drukkastrol gekook word. Dit hoef dan nie vooraf geweek te word nie. Berei die hummus soos hier bo beskryf en gebruik van die water waarin dit gekook is om die mengsel voor te berei.
2. As jy nie tahini het nie, kan 125 ml sonneblomsade eers droog in ’n pan tot goudbruingerooster word. Verpulp dit dan saam met die kekerertjies om ’n neuterige smaak aan die hummus te gee. As die mengsel te droog of styf is, kan nog van die kekerertjievloeistof of olyolie bygeroer word.
In Oktober 2020 was hierdie deel van ’n artikel oor slaaisouse in LiG Tydskrif.
Fotos: Adel Ferreira Photography