Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Growwe Italiaanse sop

Aug 27, 2020 | Mains, Vegetarian

Kom skep op, dis soptyd!
Hierdie groentesop is propvol Italiaanse geure. Die groente is in growwe stukkies gesny wat dit ’n regte koesterkos-sop maak. Die kombinasie van tamatie, soetrissie, eiervrug, ’n bietjie komyn en die kruie is ’n heerlike wintersete. Sit dit as vleislose ete voor of roer bone, kekerertjies, repies gaar hoender of spekrepies as proteïen by.

Verpulp die sop as jy die groente vir kieskeurige eters wil ‘wegsteek’. Die sop is so geurig dat dit beslis gou ’n nuwe gunsteling gaan word.

’n Paar sopwenke:
Soteer en rooster: moenie net alles saam kook nie. Soteer, braai of rooster groente, speserye en vleis vooraf vir meer geur.
Geurmiddels: hou dit natuurlik met vars kruie, speserye, gemmer, brandrissies, knoffel en suurlemoen.
Vloeistof: gekoopte aftreksel kan baie sout wees, so vervang dit of gebruik om die helfte met sterk Rooibostee.
Romerige tekstuur: verpulp een deel van die sop en roer by die res terug – dit maak die sop romerig en verdik dit, sonder die nodigheid vir meel, mielieblom of room, is gesonder en gee ’n interessante tekstuur. Styselryke bestanddele soos bone, gort, aartappels of botterskorsie is ook ideaal om sop te laat verdik.

Saam met die sop
Ja, brood is die gewildste bykos, maar daar is heelwat ander gesonde opsies, veral as jy probeer om minder stysel te eet. En soms is daar genoeg stysel in die sop, so garneer dit dan net om dit interessant te hou. Gebruik avokado, vars kruie, repies pita of roti (sien die resep hier onder), dukkah, geroosterde kekerertjies, kase soos pecorino, cheddar en feta of selfs bloukaas is lekker. ‘n Lepeltjie suurroom, room of karringmelk is heerlik of ’n goeie skeut olyf- of avokado-olie.

 

Resep
Growwe Italiaanse sop

Aangepas uit Kos is op die tafel vir LiG Tydskrif
Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele
10 ml (2 t) komynsaad

15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie

1 groot rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny

2 uie, gekap

2-3 knoffelhuisies, fyngedruk

3 selderystingels met blare, in skyfies gesny

2 wortels, in blokkies gesny

2 middelslag-eiervrugte met die skil, in blokkies gesny

2 x 410 g-blikke gekapte tamaties

1,25-1,5 liter (5-6 k) groenteaftreksel of sterk Rooibostee

1 lourierblaar

60 ml (¼ k) gekapte vars Italiaanse pietersielie

suurlemoensap, sout en peper na smaak

2-3 handevol babaspinasieblare of 2-3 groot spinasieblare, in dun repies gesny

45 ml (3 e) gekapte vars kruisementblare

repies pecorino- of parmesaankaas, met ’n aartappelskiller gemaak of fetakaas

2-3 klein roti’s of pitas, in repies of driehoekies gesny en vir ’n paar minute teen 200 °C in die oond tot bros gerooster (opsioneel)

Metode
1. Verhit ’n groot kastrol oor matige hitte en rooster die komynsaad, sonder enige olie, vir 2-3 minute of net tot aromaties. Hou dop dat dit nie brand nie – voeg dan liewer ’n klein bietjie olie by. Skep die saadjies uit en hou eenkant.

2. Verhit die olie in dieselfde kastrol oor matige hitte en soteer die soetrissie, uie en knoffel tot amper sag. Voeg die seldery, wortels en eiervrug by en soteer nog ’n paar minute.

3. Roer die komynsaad met die tamaties, aftreksel, lourierblaar en helfte van die pietersielie by. Sit die deksel op, verlaag hitte en prut vir 25-30 minute of tot die groente sag is. Geur na smaak.

4. Roer die spinasie deur tot dit net sag is, maar steeds helder groen. Roer die orige pietersielie en kruisement by. Sit dadelik met die kaas en roti’s of brood van jou keuse voor.

Foto’s: Adel Ferreira
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This