Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Botterkorsie-&-rooi uiequiche

Mar 27, 2020 | Baking, Light meals

Resep

Botterkorsie-&-rooi uiequiche

Resep uit Kos is op die tafel
Lewer 6 – 8 porsies

Hierdie kors het ’n effens ander tekstuur as ’n tipiese broskors, maar is makliker om te hanteer, want dit hoef nie uitgerol te word nie.

Bestanddele

Kors

200 g (360 ml) koekmeel

’n knippie sout

30 ml (2 e) sesamsaad

80 g (80 ml) harde botter, in blokkies gesny

125 g gladde geroomde maaskaas

 

Vulsel

400 g botterkorsie, geskil en in blokkies gesny

3 groot rooi uie, gehalveer en in wiggies gesny

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

30 ml (2 e) vars tiemieblare

30 ml (2 e) sagte bruinsuiker

30 ml (2 e) balsamiese asyn

sout en peper na smaak

250 ml (1 k) melk

3 ekstra-groot eiers

15 ml (1 e) vars tiemieblare

125 ml (½ k) fyngerasperde Pecorino- of wit Cheddarkaas

Metode

1. Kors: Plaas die meel, sout, sesamsaad en botter in ’n voedselverwerker en meng tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die maaskaas by en meng net tot ’n sagte bal deeg vorm. Moenie te veel meng nie. Rol die deeg versigtig in ’n dik rol, bedek met kleefplastiek en plaas 30 minute in die yskas.

2. Vulsel: Voorverhit intussen die oond tot 200 °C. Plaas die botterkorsie en uie in ’n groot mengbak. Roer die olie, tiemie, suiker en asyn by tot die groente deeglik met die oliemengsel bedek is. Geur na smaak.

3. Skep die mengsel op ’n groot bakplaat en rooster 15-20 minute of tot die botterskorsie net sag en goudbruin is.

4. Sny intussen met ’n tandjiesmes 0,5 cm-skywe van die verkoelde deeg. Voer die bodem en kante van ’n 23 cm-losboomquichepan of oondvaste tertbak met die skyfies deeg uit. Plaas die deegskyfies teen mekaar en druk die rande liggies saam om ’n eweredige kors te vorm. Of rol die deeg op ’n liggies meelbestrooide oppervlak uit en voer die pan daarmee uit.

5. Druk die deeg liggies om die vorm van die pan aan te neem. Sny enige oortollige deeg om die bo-rand af. (As die quiche nie dadelik gebak gaan word nie, kan die deeg met kleefplastiek bedek en in die yskas verkoel word.)

6. Skep die botterkorsie en uie in die kors en versprei eweredig.

7. Klits die melk, eiers en tiemie saam, geur na smaak en roer helfte van die kaas by. Skink melkmengsel versigtig oor die groente en strooi die orige kaas oor.

8. Bak 35-40 minute of tot die eiermengsel net gestol het. Laat quiche 10 minute rus en sit dan warm of teen kamertemperatuur met ’n groenslaai van slaaiblare, komkommer, liggies gestoomde groenboontjies en geroosterde sonneblomsade, voor.

Wenk

1. Die botterskorsie kan ook met olie besprinkel en in die oond gerooster word tot net gaar.

2. Gebruik net 300 g botterskorsie en voeg 10-15 gemarineerde songedroogde tamaties, grof gekap by die vulsel. Vervang die roosmaryn met 20-25 ml gekapte vars basiliekruidblare of ’n mengsel van die twee.

3. Bokmelk- & tamatiequiche: Klits 125 ml melk, 125 ml gladde maaskaas en 3 eiers saam. Skink in die kors en pak 200 g kersietamaties, gehalveer met 20 basiliekruidblare en 100 g bokmelkkaas in die melkmengsel. Bak soos hierbo beskryf. Sprinkel balsamiese asyn oor voor dit voorgesit word.

4. ’n Losboom-quichepan van vlekvrye staal gee die beste eindresultaat met ’n brosser tipe kors. Die los bodem maak dit ook maklik om die quiche uit te lig en te sny.

5. Voeg 2,5 ml paprika of 2,5-5 ml gedroogde kruie van jou keuse of selfs 5-10 ml sesamsaad vir ’n geurvariasie by die kors se meel.  

6. Die rou deeg kan met kleefplastiek bedek en tot ’n dag of twee in die yskas gebêre word. Of bedek lugdig en vries vir tot een maand, ontdooi in die yskas en gebruik volgens resep.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This