Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Kerrievis

Apr 12, 2019 | Light meals, Light seafood

’n Yskoue stukkie kerrievis met ’n broodjie (om die sous op te ‘vee’) en slaai, is ’n bekende en baie gewilde Suid-Afrikaanse ete. Party mense ken dit as gepiekelde vis, maar hoe jy dit ook al noem, dit bly smullekker. Die resep is dalk ’n bietjie meer moeite as om vis net in die pan te braai, maar dit hou uitstekend in die yskas en is ’n gerieflike ete om byderhand te hê.

Die speserye in die kerriesous is aromaties en is ’n heerlike kombinasie van geure saam met die soetsuur smaak van die konfyt en asyn – beslis iets wat Suid-Afrikaners altyd geniet. Daar is verskillende maniere om kerrievis te maak, maar ek verkies om die vis eers te panbraai en dan in die sous te marineer. Dit kan vir 5-7 dae in die yskas hou of selfs langer as jy dit in ’n gesteriliseerde bottel verpak en só in die yskas hou.

 

Hier is ’n paar wenke vir die beste resultate met die resep

Kies ek die regte vis?
Gebruik verkieslik ’n stewige soort vis. Geelstert word tipies gebruik, maar stokvis, snoek of dorado kan ook goed werk.

Maak ek dit reg gaar?
Vis word vinnig en maklik gaar en kan op baie maniere voorberei word. Van rooster oor die kole, tot panbraai, oondrooster, posjeer of stoom en nog vele meer. Vir kerrievis is dit veral belangrik dat die vis nie oorgaar en droog is nie.

Onthou die volgende:
– rou vis het ’n ‘deursigtige’ kleur, maar verander na ’n soliede wit as dit gaar is
– gaar vis moet maklik vlok, maar steeds klam en sappig wees – oorgaar vis val uitmekaar en is droog
– trek die gaar vis met twee vurke uitmekaar, as dit maklik vlok, is dit gaar
– onthou dat vis vir nog ’n paar minute aanhou gaar word, selfs na dit van die hitte verwyder is
– maak seker dat die visporsies ewe groot is, sodat dit gelyktydig gaar word
– vou die dunner stertdeel van ’n visfilet onder die dikker deel in, sodat die porsie eweredig gaar word

‘Bel’ ’n vissie
Baie van ons visspesies word bedreig, maar deur die regte keuses te maak, kan ons ons deel doen om hulle van uitwissing te red. Die WWF se SASSI-robotkleurgids is ’n goeie manier om te bepaal of die vis op die groen, oranje of rooi lys is. Lees meer daaroor op hulle webtuiste, slimfoon-toepassing of sosiale media platforms. Of stuur ’n sms na 079 499 8795 as jy weer vis koop of in ’n restaurant bestel vir ’n vinnige antwoord.

Hierdie is ’n resep wat ek baie jare terug vir AMC Classic ontwikkel het. Nou het ek dit as een van die resepte in LiG-tydskrif se April-uitgawe gebruik en deel dit graag met almal.

Resep

Kerrievis

Resep aangepas uit The AMC Cookbook
Lewer 8 – 10 porsies

Bestanddele

60-75 ml (4-5 e) olyf- of avokado-olie

1,5-2 kg ferm vis, soos geelstert, dorado, snoek of stokvis, in klein porsies gesny

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

125 ml (½ k) sagte bruinsuiker

160 ml tuisgemaakte appelkooskonfyt

750 ml (3 k) wit druiweasyn

300 ml water

35 ml (7 t) matige kerriepoeier

15 ml (1 e) borrie

10 ml (2 t) heel koljandersaad

10-12 swartpeperkorrels

8 elk heel wonderpeperkorrels en naeltjies

4 lourier- of suurlemoenblare

4 middelslag-uie, in dun skyfies gesny

4 knoffelhuisies, in dun skyfies gesny

2-3 cm stuk vars gemmer, in dun repies gesny

1-2 klein brandrissies, ontpit en in dun skyfies gesny (opsioneel, ontpit indien verkies)

45 ml (3 e) koekmeel

125 ml (½ k) sultanas

Metode

  1. Verhit ’n dun lagie olie oor ’n matige temperatuur vir 5-7 minute in ’n groot braaipan (bv. ’n AMC 28 cm Chef’s Pan of AMC 30 cm Electric Frying Pan).
  2. Braai ’n paar van die visporsies op ’n keer vir omtrent 3-5 minute aan beide kante tot goudbruin en gaar. Die dikte van die porsies sal die gaarmaaktyd bepaal – maak seker dat dit nie oorgaar word nie, dan is dit droog.
  3. Skep die gaar vis uit en plaas op kombuispapier om te dreineer. Herhaal met die orige olie en vis. Dreineer en geur na smaak. Hou eenkant.
  4. Plaas die suiker, konfyt, asyn, water, speserye en lourier- of suurlemoenblare in ’n middelslag-kastrol (AMC 20 cm Gourmet Low of AMC 20 cm Gourmet High). Verhit oor ’n matige hitte en hou aan roer tot die suiker en konfyt opgelos het.
  5. Bring die mengsel tot kookpunt, verlaag dan die hitte en prut sonder die deksel vir 10 minute.
  6. Voeg die uie, knoffel, gemmer en brandrissies (opsioneel) by die sous en prut sonder ’n deksel vir nog 8-10 minute. Die uie moet gaar, maar steeds effens krakerig wees.
  7. Roer ’n bietjie koue water by die meel, om ’n pasta te vorm. Roer van die warm sous by die meelpasta en roer dit by die warm sous in.
  8. Verlaag die hitte en prut vir ’n paar minute tot die sous verdik. Roer die sultanas by.
  9. Skep die sous en vis om die beurt, in lae in ’n groot bak of houer. Laat dit heeltemal afkoel en sit as ligte ete met slaai en broodjies (vir die lekker sous) voor.

 

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This