Beste tamatiebredie! / The best tomato bredie!

Resep (Afrikaans)
Beste tamatiebredie
Hierdie resep was oorspronklik in my resepteboek, Onthoukos, gepubliseer. Die inspirasie daarvoor kom van Cass Abrahams, die bekende Kaapse koskenner. Die kombinasie van speserye mag dalk vreemd klink, maar dis absoluut hemels, met ‘n aroma wat aan tipiese Maleise geure herinner. Vir baie mense is tamatiebredie sommer net huiskos, maar dit bly ’n spesiale gereg en selfs ideaal om vriende mee te onthaal. Onthou dat ’n bredie stadig moet prut om te keer dat die vleis taai word. En dis mos die tipe gereg wat die volgende dag net nog lekkerder smaak.
Lewer 6 – 8 porsies
Resep aangepas Onthoukos/ Food from the heart
Bestanddele
30 ml (2 e) olyfolie
1 kg lamsvleis, dikrib, nek, skenkels of skouer, in stukkies gesny en oortollige vet verwyder
2 groot uie, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
8-10 swartpeperkorrels
6-8 heel naeltjies
8-10 wonderpeperkorrels
125 ml (½ k) water
3 heel kaneelstokkies
6 kardemompeule, gekneus om die saadjies vry te stel
20 ml (4 t) fyngerasperde vars gemmer
25 ml (5 t) gemaalde koljander
30 ml (2 e) gedroogde tiemie
1 kg baie ryp tamaties, geskil en gekap of 2 x 400 g gekapte tamaties
30 ml (2 e) tamatiepasta
1 klein rooi brandrissie, gekap (of hou dit heel vir minder byt)
2-3 middelslag-aartappels, geskil en in blokkies gesny
sout en peper na smaak
15-30 ml (1-2 e) gekapte vars tiemie of Italiaanse pietersielie
Metode
- Verhit helfte van die olie in ’n groot kastrol oor matige hitte. Soteer die vleis in sarsies tot dit verbruin is, skep uit en herhaal met die res van die vleis. Skep uit en hou eenkant.
- Plaas uie, knoffel, pepperkorrels, naeltjies en wonderpeper in die kastrol. Roer die water by en bring oor matige temperatuur tot kookpunt. Laat sonder ’n deksel prut tot al die water ingedamp het en die geure aromaties is. Voeg die orige olie by en soteer die uie tot goudbruin.
- Roer die vleis, kaneel, kardemom, gemmer, koljander en tiemie by. Verlaag die temperatuur en prut met die deksel vir 30 minute.
- Voeg die tamaties, tamatiepasta en brandrissie by. Prut vir nog 30 minute, roer die aartappels by en prut dan verder stadig vir 40-60 minute of tot aartappels en vleis gaar en sag is.
- Geur na smaak met sout en peper. Roer die kruie by en sit die bredie net so, of as jy verkies, op rys, koring, koeskoes of mieliepap voor.
Wenke
- Hoenderbredie: berei dieselfde resep met hoender, maar prut van stap 3 af net vir 45 minute of tot die hoender gaar is.
- Vir nog ‘n smullekker brediersep, maak my baie gewilde Groenboontjiebredie-resep.
Recipe (English)
The best tomato bredie
This flavourful recipe comes from my cookbook Food from the heart. It was inspired by a similar recipe from the Capetonian food guru, Cass Abrahams. The combination of spices may seems a bit strange, but it is absolutely stunning and you will have typical Malay aromas filling your kitchen. For many South Africans tomato bredie (stew) is true comfort food, but this special dish is fit for a king and perfect for entertaining. Remember that a bredie should preferably simmer gently to prevent the meat from toughening. It’s definitely a dish that tastes even better the next day!
Serves 6 – 8
Recipe from Food from the heart/ Onthoukos
Ingredients
30 ml (2 tbsp) olive oil
1 kg lamb rib, neck, shin or shoulder, cut in pieces and excess fat removed
2 large onions, chopped
2 cloves of garlic, crushed
8-10 whole black peppercorns
6-8 whole cloves
8-10 whole allspice berries
125 ml (½ cup) water
3 cinnamon sticks
6 cardamom pods, crushed to expose the seeds
20 ml (4 tsp) finely grated fresh ginger
25 ml (5 tsp) ground coriander
30 ml (2 tbsp) dried thyme
1 kg very ripe tomatoes, peeled and chopped or 2 x 400 g tins chopped tomatoes
30 ml (2 tbsp) tomato paste
1 small red chilli, chopped (or keep it whole if you prefer it less spicy)
2-3 medium potatoes, peeled and cubed
salt and pepper to taste
15-30 ml (1-2 tbsp) chopped fresh thyme or Italian parsley
Method
- Heat half of the oil in a large pot over a medium heat. Sauté in batches until golden brown. Remove from the pot and set aside for later.
- Place the onions, garlic, peppercorns, cloves and allspice in a large pot. Add water and bring to the boil over a medium heat. Allow to simmer without the lid until all the water has evaporated and the flavours are aromatic. Add the remaining oil and sauté the onions until golden brown.
- Stir in the meat, cinnamon, cardamom, ginger, coriander and thyme. Reduce the heat, cover with the lid and simmer for 30 minutes without adding extra liquid.
- Add tomatoes, tomato paste and chillie and season to taste. Simmer for another 30 minutes, add potatoes and simmer slowly for 40-60 minutes or until the potatoes and meat are tender.
- Season to taste with salt and pepper, if necessary. Stir in the herbs and serve bowls full of the bredie on its own, or if you prefer, with rice, pearled wheat, couscous or mealie pap.
Tip
- Chicken bredie (stew): Prepare the same recipe with chicken, but cook everything, from step 3, together for only 45 minutes.


Goeiedag Heleen, baie dankie vir die heerlike resepte! Ek gaan beslis die Bees bredie probeer.
Wil net graag by jou hoor of daar waarheid in is dat aartappels langer neem om sag te kook indien daar tamaties of tamatie souse in die gereg kom. Ek het dit al ondervind, maar wonder of dit nie net toevallig was nie!
Wil graag jou opinie hieroor hoor.
Baie dankie en ‘n geseënde dag vir jou.
Zelna Swart
Hallo Zelna, dis ‘n groot plesier! Ek hoop jy gaan die resep baie geniet.
Ja, aartappels kan langer neem om gaar te word as dit met tamatie gemeng word. Sommige aartappels word ook stadiger as ander in die tamatie gaar, so daar is beslis waarheid daarin. Dis hoekom die tamaties in hierdie gereg so lank in die tamatie kook. Maar dan het dit ook die voordeel dat die tamaties die geure van die gereg absorbeer. Ek hoop dit beantwoord jou vraag.
Lekker kook!