Twee idees met vis
Twee idees met vis
’n Geurige ete met vis, is ’n feesmaal. En dis nie moeilik om dit lekker voor te berei nie. Die beste raad is om dit so eenvoudig as moontlik te hou, beide in terme van ’n gaarmaakmetode en die geurmiddels.
Vars vis is beslis die lekkerste, maar bevrore en selfs geblikte vis kan net so smaaklik en voedsaam wees. Vis is ’n ligter proteïen as rooivleis, met minder vet en aansienlik makliker om te verteer. Die olies wat in vis voorkom is tipies die gesonde omega-olies wat ons gereeld moet eet.
Hoe weet ek ’n heel ‘vars’ vis is regtig vars?
– Stywe lywe: die lyf en vel moet styf wees, met klam skubbe.
– Goeie kleur: vars vis het ’n helder kleur en verloor die kleur soos die varsheid afneem.
– Skoon kiewe: dit moet helderrooi of pienk wees, skoon en nie ‘verlep’ lyk nie.
– Blink-oog: helder oë wat soos ’n albaster uitstulp, is waarna jy soek. ’n Ingesonke oog is nie goeie nuus nie.
– Vars see-reuk: as dit ‘na vis’ ruik, moet jy lont ruik – ’n vars see-reuk is ideaal.
– Vis wat reeds gevlek of in porsies gesny is, moet ook ferm en klam wees, glad nie slymerig of pap nie.
Het jy geweet?
Stokvis is nie ’n baie aantreklike kalant nie – daarom sny die viswinkel of -toonbank in ’n supermark die koppe reeds af. Hulle sê as ons weet hoe stokvis lyk, sal ons dit dalk nie wil koop nie.
Pasta met tuna, broccoli & suurlemoen
Lewer 4 – 6 porsies
Geblikte tuna, broccoli en suurlemoen is ’n heerlike kombinasie en blitsvinnige manier om ’n pasta-ete voor te berei.
Bestanddele
300 g penne of spaghetti
200 g broccoli, in blommetjie gesny of groenbone, in die breedte gehalveer
2 x 170 g-blikke tuna in water, gedreineer
sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
45 ml (3 e) olyfolie
30 ml (2 e) gekapte Italiaanse pietersielie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
125 ml (½ k) sonneblomsaad, gerooster
1 skyf fetakaas, gekrummel of 100 ml grofgerasperde Pecorinokaas
suurlemoenwiggies om mee voor te sit
Metode
- Verhit 3 liter water in ’n groot kastrol tot kookpunt en voeg 15 ml sout by. Kook pasta tot net sag (al dente). Voeg die broccoli of bone by net voor die pasta gedreineer word en kook vir ’n paar minute of tot dit net heldergroen word.
- Hou 80-100 ml van die pastawater as ‘sous’ en dreineer die res.
- Plaas die behoue pastawater en tuna in die warm kastrol en verhit oor ’n lae hitte tot die tuna net deurwarm is.
- Roer die gedreineerde pasta en groente met die suurlemoensap en -skil by tot goed deurgemeng. Roer die olyfolie en pietersielie deur en geur na smaak.
- Strooi sonneblomsaad en kaas oor. Sit dadelik met suurlemoenwiggies voor.
Oondgebakte vis met drie geure
Sny 1-1,2 kg vars stokvis in 6 porsies en verf met olyfolie. Bedek die porsies met een van die volgende bolaag-opsies, waarvan die bestanddele net saam gemeng is:
Italiaanse pietersielie & suurlemoen: 90 ml (6 e) gekapte Italiaanse pietersielie; fyngerasperde skil van 1-2 suurlemoene; 90 ml (6 e) olyfolie; 60 ml (4 e) suurlemoensap; sout en swartpeper na smaak
OF
Paprika & sesamsaad: 25 ml (5 t) paprika; 250 ml (1 k) sesamsaad; 30 ml (2 e) olyfolie; sout en swartpeper na smaak
OF
Makadamianeut & tiemie: 375 ml (1½ k) makadamianeute, grof gekap; 30 ml (2 e) vars tiemieblare; 45 ml (3 e) olyfolie; sout en swartpeper na smaak
Voorverhit die oond tot 200 °C, plaas visporsies op ’n bakplaat, met bakpapier uitgevoer. Skep bolaag op, skakel die roosterelement aan en rooster die vis vir 15-20 minute of tot net gaar. Sit voor met ’n stysel en slaai van jou keuse.
Fotos by Adel Ferreira Photography vir LiG Tydskrif.
My gevriesde geelbek kom nou dadelik uit die yskas. Dankie, H!
Hoop dit was heeeerlik!