Suurlemoen-grenadellapoeding
Op ’n koue dag maak die poeding jou hart én maag warm. Die gebakte suurlemoenpoeding met sy soetsuursous onder in die bak is alombekend. My ma, Letteli Nel, het eendag besluit om grenadellapulp by die beslag te roer en wat ’n verrassing! Nou is dit ons ‘onthoukos’, want my kinders vra altyd dat ek die poeding so moet maak.
Resep
Suurlemoen-grenadellapoeding
Resep aangepas uit Onthoukos
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
45 ml (3 e) botter
300 ml (240 g) suiker
sap en fyngerasperde skil van 2 suurlemoene
80 ml (⅓ k) koekmeel
4 eiers, geskei
250 ml (1 k) melk
250 ml (1 k) room
2 x 115 g-blikkie of 300 ml vars grenadellapulp
ekstra grenadellapulp en fyngerasperde suurlemoenskil vir garnering
Metode
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n vlak 3-liter oondbak liggies met botter.
- Klits botter en suiker met ’n elektriese klitser in ’n mengbak saam. Voeg suurlemoensap en -skil by en klits goed.
- Klits meel, eiergele, melk en room by. Die mengsel mag dalk skif, hou net aan met klits tot goed gemeng – dit sal nie die resultaat beïnvloed nie. Roer die grenadellapulp by.
- Klits eierwitte in ’n skoon mengbak (en met silwerskoon klitsers) tot stywepunte vorm. Vou versigtig met ’n groot metaallepel by die suurlemoenmengsel in.
- Skink die beslag in die gesmeerde bak. Plaas die bak in ’n groot oondpan en skink kookwater rondom sodat die bak halfpad in water staan. Dit laat die beslag egaliger bak.
- Bak vir sowat 40-45 minute of tot dit gaar en goudbruin bo-op is. Toets met ’n toetspen om seker te maak die boonste ‘deeg’-lagie is gaar. Die sous wat onderin vorm, mag dalk die poeding effens ‘rou’ laat vertoon, maar as die boonste laag gaar is, is die poeding gereed.
- Skep ekstra grenadellapulp en suurlemoenskil bo-op en sit dadelik voor, sodat die poeding nie sy volume verloor nie.
Hierdie Suurlemoen-grenadellapoeding was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Winter 2022.
Foto Adel Ferreira Photography.
Sounds delicious!
Yummy!
Enjoy Rina!
Hierdie suurlemoen-grenadellapoeding kan net lekker wees. Dit gaan defnitief ‘n familie resep word.
Baie dankie,
Groetjies, Lina.
Dis wondelik om te hoor, dankie Lina!
Hallo Lina, baie dankie vir die heerlike terugvoer. Geniet die resep en ek hoop die hele gesin gaan dit geniet.
Groete
Heleen
Oh my word this lemon-grenadella podding sounds fantastic it’s a must bake .