Geurige shakshuka

Die kombinasie van ’n speserygegeurde tamatiesous met eiervrug en eiers is absoluut heerlik. Dié sous is ’n bekende Midde-oosterse gereg en alhoewel hierdie weergawe nie skerp is nie, kan jy dit met ’n heel brandrissie ‘warmer’ maak as jy daarvan hou.
Elkeen het hul manier om ’n shakshuka se sous te geur, maar die speserye in die resep is elkeen belangrik, so gebruik beslis alles in die lysie. Shakshuka word dikwels met ’n suiwelproduk voorgesit en dit kan wissel van feta- tot bokmelkkaas en selfs ongegeurde jogurt. En as jy nie van die idee van eiers in die sous hou nie, kan jy dit met bone, lensies of kekerertjies vervang, want dié bestanddele is almal heerlik in die sous.
Shakshuka is ook nie net vir ontbyt bedoel nie – eet dit sommer enige tyd van die dag. Dis regtig veelsydig in soveel opsigte, wat beslis tot die gewildheid van die lekker ete bydra.
Resep
Geurige shakshuka
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
45 ml (3 e) olyfolie
1 ui, gekap
1 rooi soetrissie, ontpit en gekap
1 knoffelhuisie, gekneus
15 ml (1 e) komynsaad
15 ml (1 e) gewone of gerookte paprika
15 ml (1 e) gemaalde koljander
15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
1 medium eiervrug, in kwarte en dan in dik wiggies gesny
50 ml tamatiepasta
2 x 410 g-blikke gekapte tamaties
45 ml (3 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie
sout en peper
6-8 eiers
1-2 skywe fetakaas, grof gekrummel of gebruik bokmelkkaas
ekstra vars Italiaanse pietersielie
suurlemoenwiggies en roosterbrood van jou keuse, om mee voor te sit
Metode
- Verhit 15 ml van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Soteer die ui, soetrissie, en knoffel vir ’n paar minute. Roer die speserye en gemmer by en soteer vir nog ’n paar minute.
- Roer die eiervrug en tamatiepasta goed deur, tot die mengsel aromaties is.
- Roer die tamaties en gekapte pietersielie by en verlaag die hitte. Prut met ’n deksel vir sowat 15 minute.
- Prut vir nog 10 minute sonder ’n deksel of tot die sous begin verdik. Geur na smaak.
- Maak 6-8 openinge in die sous en verdeel die orige olie tussen die openinge.
- Kraak ’n eier in elke opening (sien wenke). Strooi die kaas oor en prut vir nog 5-10 minute met ’n deksel, of tot die eiers so gaar is soos wat julle dit verkies.
- Sit met die pietersielie, suurlemoenwiggies en warm roosterbrood voor.
Wenke
- Maak die sous vooraf en verhit weer net voor die eiers daarin gebak gaan word. Of maak sommer genoeg vir nog ’n ete. Dis heerlik om frikkadelle of hoenderporsies in te bak.
- Vervang die eiers met botterbone of kekerertjies vir ’n vegetariese ete.
- Lepelsvol ongegeurde dubbelroom-jogurt is ook heerlik op ’n shakshuka.
Hierdie Geurige shakshuka was deel van ’n kos-artikel in LiG Tydskrif, Somer 2021.
Foto’s: Adel Ferreira Photography.
Gaan dit defnitief maak! Het onlangs in ‘n restaurant geëet en was mal oor die geure! Jou resep is die inspirasie waarvoor gewag het…: