Pasta-oondgereg met hoender & broccoli

’n Paar bekende bestanddele kan maklike in ’n oondgebak omskep word wat vir die hele gesin gaan lekker wees. Broccoli en hoender is ’n algemene kombinasie en as jy dit met pasta meng en soos ’n macaroni-en-kaas bak, het jy in ’n japtrap aandete. En behalwe daarvoor, kan jy ook sommer terselfdertyd ’n paar bestanddele gaarmaak vir die heel jongste lede van die gesin – veral die wat dalk nog nie daarvan hou dat alles saamgemeng is in een gereg nie.
Ek is ’n groot voorstaander van die idee om kinders van babadae af te leer om so ver as moontlik dieselfde kos as die res van die gesin te eet. Dit maak jou kookwerk soveel makliker en stel hulle van kleins af bloot aan kos wat beslis nie net opgekook of vaal en vervelig is nie. Sulke kinders is gewoonlik heelwat minder kieskeurige etertjies. Hulle kan aanvanklik kosse apart eet, of dit in ’n fyner formaat kry en op die manier leer om van tuisgemaakte kos te hou, in plaas van iets uit ’n botteltjie van ’n winkelrak.
Deur hoender gaar te maak soos in hierdie resep, bly dit lekker sappig en jy kan sommer dubbel die hoeveelheid hoender gaarmaak. Vries ’n gedeelte vir ’n tweede maaltyd of gebruik dit vir kleiner kinders se etes. Die hoender kan in klein stukkies gesny of selfs fyner gepluis word, afhangend van hoe maklik hulle al kan kou. Kook die pasta en broccoli soos dit hier onder verduidelik is en hou ook daarvan apart as dit nodig is. Druk die broccoli fyner vir ’n baba wat leer om vaste kos te begin eet, dis so ’n gesonde groente. Kies ’n pastavorm wat vir klein vingertjies maklik is om te hanteer en laat hulle gerus toe om met hul handjies te eet. Op die manier ervaar hulle die teksture van kos soveel beter en dis sommer goeie oefening vir hul hand-oog-koördinasie. Wees kreatief met die maniere waarop jy kinder leer om van groente te hou. My kinders het van broccoli-boompies gepraat toe hulle klein was en heerlik daaraan leer smul.
Die slaai wat saam met die ete voorgesit word, is regtig maklik om voor te berei, maar so kleurvol en geurig, dat jy dit eenvoudig moet maak. Feta en kruisement is ’n uitstekende kombinasie om iets so basies soos tamaties en soetrissie in ’n interessante slaai te omskep. Onthou ’n goeie skeut olyfolie en swartpeper om dit mee voor te sit.
Lewer 6 porsies
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
2 uie, gekap
3 hoenderborsies aan die been, gehalveer, vet en vel verwyder
125 ml (½ k) water
10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie
250 g penne of enige ander pasta van jou keuse
5 ml (1 t) sout
300 g broccoli, in blommetjies gesny
suurlemoensap en swartpeper na smaak
4 ekstra-groot eiers, geklits
600 ml melk
10 ml (2 t) korrelmosterd
30 ml (2 e) sesamsaad
2. Voeg nog ’n bietjie van die olie in die pan en braai hoender vir ’n paar minute aan beide kante tot goudbruin. Verlaag die hitte en voeg die water en kruie by.
3. Bedek en prut vir 20 minute of tot die hoender gaar,maar nog steeds sappig is. Skep die hoender uit en hou die vloeistof eenkant. Verwyder die hoenderbene en sny of vlok die vleis kleiner.
4. Plaas genoeg water in ’n groot kastrol (bv. ’n AMC 24 cm High) en bring tot kookpunt. Voeg penne en 2,5 ml (½ t) sout by en kook tot feitlik gaar. Voeg die broccoli vir die laaste 2 minute by of tot dit net gaar, maar steeds heldergroen is. Dreineer die pasta en broccoli saam.
5. Meng die hoender en uie-mengsel met die broccoli en pasta. Roer die res van die olie en sout by en geur met suurlemoensap en peper. Skep in ’n groot oondbak.
6. Klits die eiers, melk en mosterd saam, geur met peper en skink bo-oor die hoendermengsel.
7. Strooi die sesamsaad bo-oor en bak vir 45 minute of tot goudbruin en gestol.
8. Sit voor met ’n eenvoudige, maar treffende slaai van ryp tamaties, rooi en oranje soetrissie, kruisement en feta.
1. Slaai: sny ryp tamaties in wiggies – groot of klein tamaties kan gebruik word. Voeg repies rooi en oranje of geel soetrissie by en geur dit met fetakaas en vars kruisementblare vir ’n baie geurige en verfrissende slaai. Dit het nie ’n slaaisous nodig nie, maar net ’n lekker olyf- of avokado-olie en ’n lekker draai swartpeper.
2. Dié pastagereg kan selfs die volgende dag in ’n kosblik gepak word of hou van die elemente apart om saam met nog vars goed in ’n kosblik te pak.