Geroosterde tamaties op geroomde feta

Resep
Geroosterde tamaties op geroomde feta
Lewer 8 porsies as ’n voorgereg
’n Eenvoudige, maar altyd indrukwekkende gereg as peuselhappie voor ’n ete.
Bestanddele
200 g klein rooi of geel rosa tamaties, in die lengte gehalveer
100 g kersietamaties, gehalveer
groot knippie sout
90 ml (6 e) olyfolie
15 ml (1 e) balsamiese asyn
3 groot takkies vars roosmaryn, blare van die takkies gestroop
2 skywe feta, gekrummel
fyngerasperde skil van een suurlemoen
15 ml (1 e) suurlemoensap
peper
vars basiliekruidblare
Metode
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
- Plaas al die tamaties in ’n enkellaag op die bakplaat en sprinkel die sout oor. Rooster vir 15-20 minute of tot die tamaties gaar en amper uitgedroog is, maar steeds hul vorm behou.
- Meng 60 ml van die olie saam met die asyn en roosmaryn in ’n mengbakkie. Roer die tamaties en al die vloeistof uit die pan versigtig deur.
- Laat tamatiemengsel vir 10-15 minute marineer.
- Plaas feta met die oorblywende olie, suurlemoenskil en sap in ’n mengbak of -beker. Meng met ’n stokmenger tot ’n gladde mensel en geur met peper.
- Smeer die feta op ’n opdienbord en skep die tamaties en marinade bo-oor. Garneer met basiliekruidblare.
- Sit as skemerkelkie of voorgereg met geroosterde ciabatta voor. (Feta is redelik sout, so moenie dit met soutkoekies voorsit of nog sout bysit nie.)
Wenke
- Die geroosterde tamaties is ook heerlik as deel van ’n ontbyt met enige eiergereg.
- Roer die gemarineerde tamaties by warm pasta in. Sit oorskiet-hoender by vir ’n vinnige aandete.
- Vervang die feta met ’n houertjie hummus en sit die tamaties daarop voor, as jy dit suiwelvry of vegetaries wil maak.
Hierdie Geroosterde tamaties op geroomde feta was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Lente 2023.
Foto by Adel Ferreira Photography.
Tags: Basil | Basiliekruid | bykos | feta | Geroosterde tamaties op geroomde feta | Side dish | Tamaties