Quiche met ham, emmenthaler & tiemie
Resep
Quiche met ham, emmenthaler & tiemie
Lewer 8 – 10 porsies
Quiche is ’n immergewilde laatontbyt of ligte ete en kan selfs vir ’n teetafel gebak word. Baie soorte vulsels kan vir ’n quiche gemaak word. Probeer gerus dié kombinasie van ham en ’n geurige kaas.
Bestanddele
Kors
360 ml (200 g) koekmeel
’n knippie sout
15 ml (1 e) vars tiemieblare
125 ml (125 g) harde botter, in blokkies gesny
125 g ongegeurde gladde maaskaas, verkieslik laevet of volroom, maar nie vetvry nie
Vulsel
125 ml (½ k) melk
125 ml (½ k) suurroom
3 eiers, geklits
10 ml (2 t) dijonmosterd
30 ml (2 e) vars tiemieblare
sout en peper
250 ml (100 g) grofgerasperde emmenthaler- of wit cheddarkaas
100 g Gypsey of ander gerookte ham, in repies gesny
2-3 groot handevol roketblare om mee voor te sit
Metode
- Kors: Plaas die meel, sout, tiemie en botter in ’n voedselverwerker en meng tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die maaskaas by en meng net tot ’n sagte bal deeg vorm, maar moenie dit te veel meng nie. Rol die deeg versigtig in ’n dik rol, bedek met kleefplastiek en plaas vir 30 minute in die yskas. (Sien wenk.)
- Voorverhit intussen die oond tot 200 °C. Plaas ’n bakplaat in die oond om solank ook warm te word.
- Sny die rol deeg met ’n tandjiesmes in 0,5 cm-skywe. Voer ’n ronde of vierkantige 23 cm-losboomquichepan of tertbak met die skyfies deeg uit. Plaas die skyfies teen mekaar en druk die rande liggies saam om die deeg eweredig oor die pan se bodem en teen die kante te versprei. Dis nie nodig om die pan of bak te smeer nie.
- Sny enige oortollige deeg om die bo-rand af. (As die quiche nie dadelik gebak gaan word nie, kan die deeg met kleefplastiek bedek en weer in die yskas verkoel word.)
- Vulsel: Klits die melk, suurroom, eiers, mosterd en kruie deeglik saam. Geur na smaak.
- Sprinkel die helfte van die kaas oor die kors en pak die ham bo-op. Skink die eiermengsel versigtig oor en sprinkel die orige kaas bo-oor. Plaas die quichepan op die warm bakplaat in die oond en bak vir 35-40 minute of tot net gestol. (Die warm bakplaat help om die kors egalig te laat bak.)
- Laat quiche 10 minute rus en verwyder uit die losboompan. Sit warm of teen kamertemperatuur met die roket voor.
Wenk
- Die deeg kan ’n dag of twee vooraf gemaak en in die yskas gehou word tot jy dit nodig het. Dit vries ook uitstekend.
In Somer 2021 was hierdie Quiche met ham, emmenthaler & tiemie deel van ’n artikel oor laatontbyt-idees in LiG Tydskrif.
Foto: Adel Ferreira.
Die Quiche lyk heerlik! Hou van roomkaas in kors.
Dit lyk heerlik gaan definitief probeer
Tersia
Geniet dit!