Roosterbrood met groente, eier & mosterdkaassous
Resep
Roosterbrood met groente, eier & mosterdkaassous
Lewer 4 porsies
Panbraai groente en sit dit met ‘n geposjeerde of gebakte eier op dik skywe vars of geroosterde brood voor. Skep lepelsvol geurige kaassous oor en rooster dit vir ekstra lekkerte onder ’n warm element … mmm!
Bestanddele
Mosterdkaassous
30 ml (2 e) botter
30 ml (2 e) koekmeel
300 ml melk
100 ml grofgerasperde gruyère- of beleë wit cheddarkaas
15 ml (1 e) korrelmosterd
sout en peper
Pangebraaide groente
15 ml (1 e) olyfolie
250 g bruin sampioene, in kwarte gesny
200 g babatamaties, gehalveer
30 ml (2 e) balsamiese asyn
100 g babaspinasie
4 dik snye roosterbrood om mee voor te sit, soos rog-, suurdeeg- of vars plaasbrood
4-8 geposjeerde of gebakte eiers (sien wenk)
Metode
- Sous: Smelt botter oor matige hitte in ’n klein kastrolletjie en roer die meel by tot dit ’n dik pasta vorm. Laat vir 1 minuut kook.
- Roer klein hoeveelhede melk op ’n slag by die meelpasta tot al die melk bygeroer is en ’n sous vorm. Roer deurentyd met ’n klitser of silikonlepel, tot die melk alles geabsorbeer is, voor nog melk bygevoeg word. Prut vir 5 minute tot die sous effens verdik het en gaar is.
- Roer die kaas en mosterd by tot die kaas gesmelt het. Geur na smaak en hou oor ’n lae hitte warm, maar moenie dat die sous weer kook nie.
- Groente: Verhit intussen die olie oor matige hitte in ’n braaipan. Braai die sampioene tot goudbruin en gaar. Voorverhit die oond tot 200 °C.
- Roer die tamaties by die sampioene en soteer tot die skilletjies net oopbars. Verlaag die hitte en roer die balsamiese asyn by. Roer die spinasie deur tot dit net begin sag word, maar steeds heldergroen is. Geur die groente na smaak.
- Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en pak die snye roosterbrood daarop uit. Skakel die oondroosterelement aan.
- Verdeel die groente tussen die snye roosterbrood en plaas 1 of 2 eiers per porsie bo-op.
- Skep lepelsvol sous bo-oor die eiers en rooster vir ’n paar minute onder die warm element tot die sous liggies goudbruin bo-op is. Sit die oop broodjies dadelik voor.
Wenk
1. Onthou dat die eiers en sous nog onder die oondroosterelement gerooster gaan word, so moenie die eiers te ver gaarmaak as jy van ’n loperige eiergeel hou nie.
In Somer 2021 was hierdie Roosterbrood met groente, eier & mosterdkaassous deel van ’n artikel oor laatontbyt-idees in LiG Tydskrif.
Foto’s: Adel Ferreira.
Die versoekings, die versoekings.
Dit klink heerlik…