Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Geroosterde aartappeltjies met kaas & kruie

Sep 23, 2022 | Sides & salads, Vegetable side

Smullekkerrrrr! Dis ’n goeie beskrywing vir dié brosgeroosterde aartappeltjies. Aartappels, in een of ander vorm, is altyd gewild en perfek met braaivleis. Probeer beslis dié nuwe manier om ’n ou bekende in ’n japtrap voor te sit. Voor die kole mooi gereed is, is die aartappels klaar.

Dis so maklik soos:
KOOK die aartappeltjies in die skil;
BREEK dit met ’n vurk;
STROOI ’n bietjie kaas, kruie en olyfolie oor;
ROOSTER onder die element tot bros en goudbruin.
SMUL!

Resep

Geroosterde aartappeltjies met kaas & kruie

Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele

500-750 g dwerg-aartappeltjies in die skil

3 takkies vars roosmaryn

growwe sout en peper

75-90 ml (5-6 e) olyfolie

30 ml (2 e) grofgekapte vars kruie, soos roosmaryn, tiemie, pietersielie, origanum of ’n mengsel hiervan

125 ml (50 g) grofgerasperde beleë wit cheddar- of pecorinokaas

Metode

  1. Plaas die aartappels, roosmaryntakkies, ongeveer 250 ml water en ’n knippie sout in ’n kastrol en bring oor matige hitte tot kookpunt.
  2. Verlaag hitte en prut die aartappels met die deksel vir 20 minute of tot net sag. Dreineer deeglik en pak die aartappeltjies in ’n enkellaag in ’n vlak oondbak.
  3. Voorverhit die oond tot 200 °C. Druk elke aartappeltjie liggies met ’n vurk om dit net oop te breek.
  4. Meng die olie en kruie en skink oor die aartappels. Geur na smaak en strooi die kaas oor.
  5. Skakel die oondroosterelement aan en rooster die aartappels vir 8-10 minute of tot goudbruin en bros. Sit dadelik voor.

Wenk

  1. Kook die aartappeltjies sommer al die vorige dag en rooster dan soos hier bo om verder tyd te spaar.

Hierdie Geroosterde aartappeltjies met kaas & kruie was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Herfs 2022.
Foto Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This