Geroosterde eiervrug met ’n jogurtsous

Eiervrug is een van daardie groente wat nogal ’n skeidslyn kan wees. Party mense, soos ek, is dol daaroor en ander eet dit glad nie. Of soms is die huiwering omdat mense nie seker is hoe dit gaargemaak moet word nie. Om eiervrug te rooster, is moeiteloos en die gekaramelliseerde smaak met die jogurt, suurlemoen en kruie waarmee dit voorgesit word, is besonders.
Resep
Geroosterde eiervrug met ’n jogurtsous
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
4 middelslag eiervrug, in dik wiggies gesny
60 ml (¼ k) olyfolie
sout en peper
250 ml (1 k) ongegeurde dubbelroom jogurt
30 ml (2 e) gekapte vars kruisement
30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie
10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil
1 skyf fetakaas, gekrummel
’n groot handvol rooibosbessies (of granaatpitte, wanneer dit in seisoen is)
ekstra kruie om mee voor te sit
Metode
- Voorverhit oond tot 200 °C. Plaas die eiervrug in ’n groot mengbak, skink die olie oor. Geur na smaak en skud die bak om die eiervrug met die olie te bedek.
- Plaas die eiervrug op ’n groot bakplaat of in ’n vlak oondbak.
- Rooster 30 minute of tot die eiervrug goudbruin en gaar is. Of rooster vir nog 5-10 minute, maar wees versigtig om dit nie té ver rooster nie, want dan word dit pap en val uitmekaar.
- Geur intussen die jogurt met die kruie, suurlemoenskil en peper en roer die fetakaas by.
- Garneer die eiervrug met die rooibosbessies en kruie. Sit warm of teen kamertemperatuur met die jogurtsous voor. Die gereg is perfek met geroosterde hoender of lamsvleis.
Wenk
- Patats in die skil, kan op dieselfde manier gerooster en voorgesit word.
Hierdie Geroosterde eiervrug met ’n jogurtsous was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Herfs 2022.
Foto Adel Ferreira Photography.
Dit klink heerlik, baie dankie Heleen, Eiervrug was juis vanaand op my spyskaart…groete en ek sien uit na toekomstige resepte…
Ooh, ek hoop jy het heerlik gesmul!