Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Appel-&-hawermoutmuffins

Jul 13, 2018 | Desserts, sweet treats & baking, Kosblik 101 / Lunch boxes

Met meeste van die skole wat dié week vir die derde kwartaal heropen, is kosblik-pak van nuuts af op die agenda. Dié lekker muffins is propvol vesel en met die kombinasie van hawermout, appel, kaneel en amandels- iets wat almal sal geniet. Dit het ook niks meer nodig, soos kaas of konfyt, om mee voorgesit te word nie. 

Selfs wanneer ’n kosblik gepak word, bly dit belangrik om die ete gebalanseerd te hou, met iets uit elke voedselgroep. Dit geld vir die hele gesin. Leer ook sommer jou kinders van kleins af om nuwe smake en teksture te geniet, want dit maak jou lewe vorentoe net soveel makliker. Bestanddele soos hawermout is inderdaad gesond, want dit is hoog in vesel en dit  help om jou bloedsuikervlakke en cholesterol te beheer. Ongelukkig is kinders (en heel party grootmense) minder lief daarvoor as ontbytpap. Gelukkig is daar vele ander maniere om dit deel te maak van verskillende etes. Hierdie muffins is ’n goeie voorbeeld. Hawermout is ook ideaal om in frikadelle, bobotie of viskoekies as bindmiddel te gebruik. Onthou om ook ’n voorbeeld vir jou kinders te wees en self die kosse deel te maak van jul etes. 

Resep
Appel-&-hawermoutmuffins 
Resep aangepas uit Maak vyf/ Make five
Lewer 12 – 15 muffins 
Bestanddele

125 ml (½ k) sagte bruinsuiker

7,5 ml (½ e) gemaalde gemengde speserye

10 ml (2 t) gemaalde kaneel

500 ml (2 k) koekmeel

250 ml (1 k) volkoringmeel

250 ml (1 k) rou hawermout

7,5 ml (½ e) bakpoeier

125 ml (½ k) grofgerasperde Pink Lady® appels, met die skil aan

125 ml (½ k) gedroogde bosbessies of rosyne

80 ml (⅓ k) sonneblomolie

10 ml (2 t) vanieljegeursel

2 ekstra-groot eiers, geklits

500 ml (2 k) karringmelk

1 Pink Lady® appel, in dun skyfies gesny en skyfies gehalveer 

30 ml (2 e) gekapte amandels

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n muffinpan deeglik met botter of olie.

2. Meng die suiker en speserye saam en hou 15 ml (1 e) eenkant. Meng die res van die suiker en speserye saam met die koek- en volkoringmeel, hawermout en bakpoeier in ’n groot mengbak. Roer die gerasperde appel en bosbessies of rosyne goed deur.

3. Klits die olie, vanielje en eiers saam. Voeg met die karringmelk by die meelmengsel. Vou die vloeistof liggies deur die droë bestanddele tot dit net deurgemeng is. Moenie te veel meng nie.

4.  Skep die beslag in die muffinholtes. Plaas 3-4 appelskyfies op elke muffin en druk liggies in die beslag.

5. Meng die res van die kaneelmengsel met die amandels en strooi bo-oor die muffins.

6.  Bak vir 30-35 minute of tot goudbruin en ’n toetspen skoon uitkom. Laat ’n paar minute afkoel en keer dan die muffins versigtig uit die pan. Laat op ’n afkoelrakkie afkoel.

Wenke
1. Pak die muffins in ’n kosblik met avokado, vars groente soos groenboontjies en tamatiewiggies, neute en oorskiet-hoenderporsies vir ’n gebalanseerde maaltyd. 

2. Dis ’n lekker vullende muffin vir kinders wat nie van ontbyt hou nie, maar iets voor skool moet eet. 

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This