Beesvleisbredie met kool & appel
Die geurigheid van ’n winterbredie bring vir elkeen sy eie herinneringe en almal het hul gunsteling. Dalk is dit tamatiebredie, waterblommetjiebredie, of ’n bredie met kluitjies bo-op. Soveel groente is lekker in ’n bredie en verskillende snitte stowevleis kan gebruik word, solank dit net lank en stadig gaar word, tot dit sag en geurig is.Vir hierdie bredie word ’n paar basiese bestanddele in ’n smullekker winter-gesinsete omskep. Dis sommer ook ’n eenpotgereg, want daar is genoeg groente om dit vullend te maak. Die aartappels en wortels maak dit ook amper onnodig om die bredie op nog ’n stysel te eet en aangesien daar nog kool en appel ook bygeroer word, is dit sommer ’n maklike manier om juis ‘wit stysel’ te vermy. Daar is ’n paar maniere om seker te maak dat ’n bredie heerlik geurig is. Die eerste stap is om die vleis vooraf vir ekstra geur te verbruin. Onthou om die vleis in sarsies te verbruin en nie alles gelyktydig in die warm kastrol te gooi nie. As die kastrol te vinnig afkoel, stoot die vleis vog uit en kook dit eintlik, in plaas daarvan dat dit soteer. Deur die vleis apart te soteer, kan enige oortollige vet ook maklik afgeskink word. Daarna kan groente soos uie en knoffel of seldery ook eers bietjie gesoteer word en selfs speserye is ekstra geurig as dit eers bietjie gebraai word. Doen dit sommer saam met die uie en ander groentes aan die begin van die gaarmaakproses. Sodra al die bestanddele in die kastrol is, is die groot geheim dat die vleis lank en stadig in vloeistof moet gaar word. Moenie dit te vinnig laat prut nie, dan is die vleis maklik droog.
Die vloeistof in ’n bredie kan wissel van water en geurmiddels tot aftreksel of selfs sterk Rooibostee. ’n Gekoopte aftreksel kan maklik baie sout wees en dis nie moeilik om self te maak nie, selfs al prut jy net water met ’n paar speserye en groentes vir ’n tyd lank. (Sien ook die skakel vir ’n aftreksel in die resep hier onder.) Die lekkerte van ’n bredie is ook dat dit die volgende dag selfs nog lekkerder is, so as jy vroegtydig beplan, is dit eintlik min moeite. Sodra die bredie aan die gang is, is die meeste werk mos gedoen en dan is môre se aandete gereed.
Lewer 6 porsies
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
750 g stowevleis, in blokkies, sonder been, oortollige vet verwyder
1 ui, gekap
2 groot aartappels, in blokkies gesny
2 groot wortels, in dik diagonale skywe gesny
15 ml (1 e) gemaalde koljander
1 lourierblaar
125 ml (½ k) water of sterk Rooibostee
125 ml (½ k) tuisgemaakte hoenderaftreksel of water met 30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie
1-2 klein wit kole, in wiggies gesny
2 rooi appels met die skil, in wiggies gesny
2,5 ml (½ t) sout
45 ml (3 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie
suurlemoensap en swartpeper na smaak
2. Verhit die res van die olie in dieselfde kastrol en soteer die ui, aartappels en wortels. Voeg die koljander en lourierblaar by en soteer vir ’n paar minute.
3. Voeg die water of tee, vleis en aftreksel of nog water en kruie by. Prut met die deksel vir 1½ uur of tot die vleis amper sag is.
4. Roer die kool en appels by en prut vir nog 15-20 minute. Meng die sout en die helfte van die pietersielie by.
5. Geur met die suurlemoensap en peper na smaak. Strooi die res van die pietersielie oor en sit voor.
Hallo Heleen, jou bonesop is heerlik. My man is vetsot op boontjiesop en joune is die beste ooit… dankie daarvoor.
Hallo Hettie,
Baie dankie vir die lekker boodskap! Geniet die sop elke keer.
Groete
Heleen