Oondgeroosterde sampioene
Eenvoud is die vreugde van die lewe, so het Koos du Plessis gedig, en dis net so waar as mens oor kos gesels. Die lekkerste kombinasie van bestanddele is soms die eenvoudigste. As mens eers weet watter bestanddele perfekte pasmaats is, is helfte van die werk in die kombuis reeds gedoen.
’n Verskeidenheid sampioene wat vinnig teen ’n hoë temperatuur gerooster word, beklemtoon die natuurlike geur van die sampioene baie goed. As die sampioene met ’n gesonde en geurige olie, sout en peper en vars tiemie gegeur word, het jy regtig nie veel meer nodig nie. Maak seker dat die sampioene nie te lank rooster nie, sodat hulle net gaar, maar steeds sappig is.
Die geroosterde sampioene is ook baie veelsydig, want dit kan op gebraaide vleis, as deel van ’n slaai, of dan soos hier, vir ’n voorgereg of bygereg gebruik word. Die langnaweek is om die draai, en hierdie is ’n ideale resep om as deel van jou spyskaart te beplan. Wanneer baie familie en vriende saam kuier en mens iets spesiaal wil voorsit, wil jy nie noodwendig ure in die kombuis spandeer nie. ’n Interessante gereg wat jy self gemaak het, smaak ook beslis lekkerder as net nog iets wat voorafberei is en van ’n winkelrak of -yskas kom.
Ek is dol oor vars kruie en gebruik dit graag saam met suurlemoen en ander vars bestanddele as geurmiddels. Sampioene pas by ’n wye verskeidenheid geure, van kruie tot brandrissie, gemmer en speserye. Komyn is een van my groot gunstelinge en so lekker met sampioene, soos wat ek in die pateeresep ’n week of wat gelede gebruik het. Sampioene kan rou of gaar gebruik word en as die regte gaarmaakmetode die natuurlike geure nog meer na vore bring, het jy ook nie baie ander elemente nodig om dit suksesvol voor te sit nie.
Lewer 4 porsies
400 g sampioene van jou keuse, soos portabellini-, bruin-, knopie- en baba-knopiesampioene
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
12-15 takkies vars tiemie
sout en peper
100 g sagte bokmelkkaas
vars tiemieblare om mee voor te sit
2 handevol klein slaaiblare, Italiaanse pietersielieblare, roketblare of basiliekruidblare
1. Voorverhit oond tot 220 °C. Sny of skeur die sampioene in growwe stukke as dit baie groot is. Klein sampioene kan heel gerooster word.
2. Plaas die sampioene en olie in ’n groot mengbak. Meng liggies deur om die sampioene met olie te bedek. Pak in ’n enkellaag op ’n bakplaat en strooi die tiemie, sout en peper oor.
3. Rooster 8-10 minute of tot die sampioene net gaar, maar nog sappig is. Laat afkoel en sit sampioene met sagte bokmelkkaas, tiemieblaartjies en vars kruie soos roket, basiliekruid en Italiaanse pietersielie of sagte slaaiblare voor.
Wenk
1. Suurlemoensap is ook heerlik met sampioene. Druk ’n skeut sap oor die rou sampioene voor dit gerooster word, of oor die warm sampioene, sodra dit uit die oond kom.