Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Kosblik 101

Spyskaart
Sampioenpatee

Sampioene gee aan ’n gereg ’n baie unieke en interessante geur, veral as dit eers gaargemaak word om daardie bekende neuterige smaak te beklemtoon. Hierdie vinnige sampioenpatee kan op soveel lekker maniere gebruik word – van ’n doopsous met groenterepies, smeersel vir ’n gourmet-toebroodjie tot ’n sous op ’n stukkie steak.

Sampioene het ook van nature ’n souterige smaak, wat juis beteken dat jy minder sout in ’n gereg nodig het, as dit reeds sampioene in het. Die gesonder manier om kos te geur, is beslis met natuurlike geurmiddels soos suurlemoen, kruie, knoffel, speserye en selfs gemmer en brandrissie. Nou kan jy sommer sampioene ook op die lysie sit as alternatief vir daardie souterige smaak waarvoor ons soms so lus kan word.

Daar is verskillende maniere om sout in jou etes te verminder. Let veral op na die soutinhoud van produkte wat jy koop – dit behoort op die etiket aangedui te word. Soms word dit as sodium aangedui en ’n maklike riglyn is om te weet dat 5 g sout = 5 ml sout = 2000 mg sodium? Ons moet verkieslik nie meer as 5 g per dag inneem nie. Nog ’n manier om sout te verminder, is om die regte gaarmaakmetodes te kies om geur aan bestanddele te verleen, sonder dat sout nodig is. Soos om bv. die sampioene in die resep eers te soteer, sodat hulle so geurig moontlik is. Gebruik dan geurmiddels wat bestanddele komplementeer en aanvul, soos die komyn en sampioene in die patee-resep. Tiemie en sampioene is ’n wenkombinasie en ’n skeut suurlemoensap daarmee saam is soms al wat nodig is. Probeer ook om nie uit gewoonte sout aan tafel te hê, tensy dit regtig nodig is nie. Leer ook jou kinders om nie ’n swaar sout-palet te ontwikkel nie, want dis iets wat mens soms moeilik afleer.

 

Pharma Dynamics se resepteboeke, Cooking from the heart (gratis beskikbaar op http://cookingfromtheheart.co.za/ ) het ’n insiggewende vergelyking tussen verskillende kosprodukte se soutinhoud, op bl. 18 en 19 van die tweede boek, bv. gesoute en ongesoute grondboontjies. Daar is ook verder in die resepteboekie heelwat inligting oor sout en praktiese raad om dit in jou etes te beperk. Die resepte volg ook almal die beginsel van natuurlike geurmiddels en die regte gaarmaakmetodes om geurig en gesonde etes voor te berei.

Daar is verskillende soorte sampioene beskikbaar en soms is dit juis lekker om die geur en tekstuur van twee soorte te kombineer vir die lekkerste eindresultaat. In hierdie patee word knopiesampioene en portabellini’s saam gesoteer en dan met die geurmiddels verpulp. Portabellini-sampioene het ’n stewige struktuur en prominente neuterige geur en dit is selfs meer prominent wanneer die sampioene gaar is. Sampioene bevat ook van nature min sout en vet, maar heelwat vesel en selfs proteïene, yster, vitamiene en minerale.

Moenie sampioene afskil nie, meeste van die voedingswaarde is in die skil of net onder die skil. Vee dit net met kombuispapier af, indien daar enige groeimedium aan die sampioene vassit. Of gebruik ’n sagte sampioenborseltjie, wat in supermarkte te koop is, om dit liggies skoon te maak, sonder om die sampioen te kneus. Vir nog interessante inligting oor sampioene – www.mushroominfo.co.za

Die sampioenpatee is effens grof as dit net klaar verpulp is en om dit ’n gladder tekstuur te gee en saam te bind, het ek ongegeurde jogurt daarby ingeroer. En ek het nie sommer net enige jogurt gebruik nie, maar wel van Indezi River Creamery se baie lekker bokmelk-jogurt. Die jogurt is besonder romerig en die effens pikante smaak van die jogurt is so lekker saam met die sampioene. As deel van ’n peuselbord met groenterepies, is stukkies kaas ook heerlik saam met die sampioenpatee. Probeer gerus van Indezi se bokmelk-gouda, met die mooi naam n’Tabamhlope, dis iets wat die hele gesin sal geniet.

Elkeen van die Indezi-kase het ’n baie mooi eg Suid-Afrikaanse naam – kyk gerus daarvoor in die winkel. Die patee is heerlik op toebroodjies, in plaas van botter, saam met enige ander vulsel-opsies waarvan julle hou. Indezi maak ook ’n koeimelk Tilsitter-kaas, met die naam Amabutho, wat baie lekker is saam met die patee.

Hoe gereeld hoor jy Afrikaanse mense ‘mushroom’ sê, as hulle na sampioene verwys? Dalk meer as wat jy besef, maar let bietjie daarna op, mens hoor dit nogal baie. Die regte benamings vir die verskillende sampioene is so mooi in Afrikaans: knopiesampioene, baba-sampioene of bruinsampioene. En dan is daar die kultivars soos Portabellini en Portabella wat na die heel groot bruin sampioen verwys, wat ook só in Afrikaans gebruik word. Die ATKV borg elke week ’n woord en doen baie moeite om ons almal geïnspireerd te hou oor ons mooi taal. Die ATKV is natuurlik ook baie bekend vir die lekker vakansieoorde waar jy kan gaan uitspan. Kuier en eet gerus ook by ’n Koswerf-restaurant as jy weer op ’n oord is en let op na die mooi Afrikaanse benamings vir die geregte, stiekie hoendervlerkies, ’n Magrieta-pizza of die manier waarop tjips in Afrikaans geskryf word, in plaas van die swaarder woord: aartappelskyfies.

 

Resep

Sampioenpatee

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer ongeveer 500 ml

Bestanddele

250 g elk knopie- en Portabellini sampioene, in skyfies gesny

1 groot knoffelhuisie, fyngedruk

swartpeper na smaak

15 ml (1 e) suurlemoensap

5 ml (1 t) gemaalde komyn

80 ml (⅓ k) Indezi River Creamery ongegeurde bokmelkjogurt of ongegeurde gladde maaskaas

60 ml (¼ k) gemaalde amandels

Metode

1. Verhit in ‘n groot braaipan (soos ’n AMC 24 cm Chef’s Pan) oor matige hitte. Soteer sampioene in twee sarsies tot geurig, maar nie pap nie. Skep uit en laat afkoel.

2. Plaas sampioene met die orige bestanddele, behalwe die jogurt of maaskaas, in ’n voedselverwerker of meng met ’n stokmenger tot ’n gladde mengsel. Roer die jogurt of maaskaas by. Roer nog suurlemoensap en swartpeper by, as jy wil.

3. Skep in ’n bakkie, bedek en verkoel in die yskas tot benodig. Smeer die patee op broodjies of sit voor as doopsous met groenterepies en kaas. Dit is heerlik as deel van ’n ligte ete, as ’n ‘sous’ vir hoender of vleis of gebruik dit as smeersel vir peuselhappies.

Wenk

1. As jy ’n gladder patee verkies, roer nog van die jogurt of maaskaas by of selfs ’n skeut olyf- of avokado-olie.

Pin It on Pinterest

Share This