Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Mielies aan die stronk – 3 maniere

Apr 5, 2024 | Sides & salads, Starchy side

Resep

Mielies aan die stronk – 3 maniere

Het jy al gaar mielies oor die kole gerooster vir ’n ekstra geur? Jy sal dit nie gou weer anders doen nie. Kies een van die drie geurige souse om die mielies mee voor te sit vir ekstra lekkerte.

Lewer 6 – 8 porsies

Bestanddele

6-8 mielies aan die stronk

 

Opsie 1:

45 ml (3 e) olyfolie

10 ml (2 t) gekapte vars Italiaanse pietersielie

10 ml (2 t) sesamsaad, gerooster (indien verkies)

2,5 ml (½ t) paprika of rooipeper na smaak (of ’n klein knippie gerookte paprika)

 

Opsie 2:

30 ml (2 e) sagte botter

1 skyf feta (ongeveer 70 g), gekrummel of 60 ml (¼ k) gerasperde pecorino- of parmesaankaas

1-2 jalapeños of pikantrissies (Peppadews®), fyngekap

 

Opsie 3:

45 ml (3 e) tahini (sien wenk)

15 ml (1 e) water of meer na smaak

10 ml (2 t) suurlemoensap

10 ml (2 t) gekapte vars Italiaanse pietersielie of tiemie

Metode
  1. Plaas mielies met 125 ml (½ k) water in ’n groot kastrol – geen sout is nodig nie. Bring tot kookpunt en prut met ’n deksel, oor lae hitte, vir net 6-8 minute of tot gaar. Die mieliepitte moet net heldergeel word, maar moenie dit te lank kook nie, dan krimp die pitte en verloor hul sappigheid.
  2. Dreineer die mielies deeglik. Sit dit net so met een van die sous-opsies voor, of rooster eers oor matige kole, as julle dalk braai. Rooster die mielies net vir ’n paar minute aan al die kante tot goudbruin. Hou die mielies dop – dit brand maklik.
  3. Opsie 1: Meng die bestanddele saam. Sit voor met die mielies en laat elkeen aan tafel, van die olie oor die mielies drup – ‘n heerlike alternatief vir botter.
  4. Opsie 2: Smeer van die botter oor die warm mielies en sprinkel dan met ’n bietjie kaas en jalapeños of pikantrissies.
  5. Opsie 3: Meng al die bestanddele saam en roer nog water by tot die dikte van jou keuse. Sit voor en laat elkeen lepeltjiesvol oor die warm mielies smeer vir ‘n gesonde opsie, propvol gesonde vette. 

Wenke

  1. Tahini (’n sesamsaadpasta) is in groot supermarkte beskikbaar, dikwels in die gesondheidsafdeling. Sommige handelsmerke is baie dik, so roer meer water by, as dit nodig is. Onthou dat die warm mielie dit ook loperiger sal maak.
  2. Enige van die souse is heerlik oor geroosterde groente of liggies gestoomde groen groente.

Hierdie Mielies aan die stronk – 3 maniere was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Herfs 2024.
Foto by Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This