Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Steak-toebies

Jan 31, 2024 | Light meals, Light meat

Resep

Steak-toebies

Lewer 6 porsies

Dié geurige toebroodjies is ’n gesellige manier om saam te eet, want elkeen kan hul eie broodjie met hul keuse van bestanddele ‘bou’. Dis ewe lekker as deel van ‘n piekniek of vir ‘n kuier-ete op ‘n stoep. As jy dit vir ‘n piekniek wil inpak, maar nie lus het om alles apart te neem nie, vul die broodjies vooraf, bind met ‘n toutjie vas en verpak elkeen s’n in waspapier om dit makliker te kan vervoer. Die kombinasie van aromatiese steak en pangebraaide tamaties is regtig spesiaal. Sien ook die wenke om ‘n vegetariese weergawe te kan maak. Enige oorskiet maaskaas-sous is heerlik om op ander toebroodjies of as doopsous te gebruik.

Bestanddele

10 ml (2 t) gedroogde tiemie

10 ml (2 t) gewone paprika

2,5 ml (½ t) gemaalde koljander

30 ml (2 e) olyfolie

sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

400-500 g dik gesnyde steak

sout en peper na smaak

200 g kersietamaties, gehalveer

6 ciabatta broodrolletjies of 1 groot ciabatta, gerooster of warm gemaak

roket- of botterslaaiblare

¼ komkommer, met ’n aartappelskiller in dun repe gesny

beleë cheddar of enige ander geurige kaas, in dun skyfies gesny

 

Maaskaas met mosterd en kruie

250 ml (1 k) ongegeurde gladde laevetmaaskaas

45 ml (3 e) gekapte Italiaanse pietersielie

10 ml (2 t) korrelmosterd

Metode

  1. Meng die tiemie, paprika, koljander, olie, suurlemoensap en -skil saam in ’n mengbakkie. Vryf dit oral oor die steak. Laat vir 15-30 minute marineer.
  2. Verhit ’n braaipan oor matige hitte. Braai die steak vir 3-4 minute aan elke kant, tot net goudbruin, maar nog pienk in die middel. Die marinade se olie behoort voldoende te wees vir die braaiproses, maar verhit ’n bietjie ekstra olie, indien nodig. (Die dikte van die vleis sal die gaarmaaktyd bepaal.)
  3. Geur die steak na smaak terwyl dit braai. Skep uit en laat effens afkoel. Sny steak dan in dun repies.
  4. Plaas intussen die tamaties met enige oorblywende marinade in die pan en soteer vir ’n paar minute tot die tamaties net begin sag word. Skep uit en hou eenkant.
  5. Maaskaas: Meng die bestanddele saam en geur na smaak met peper.
  6. Sny die broodrolletjies oop of sny die groot brood in dik skywe. Smeer van die maaskaas op elke broodjie en pak die res van die bestanddele in lae as ’n vulsel bo-op.

Wenke

  1. Vegetariese variasie: Vervang die steak met groot sampioene of skywe eiervrug, marineer en braai soos hierbo beskryf. Sit nog kaas vir ekstra proteïene op die broodjies of smeer een helfte van die broodjies met hummus.
  2. Enige orige maaskaas is ’n heerlike doopsous of bedien as ’n sous met hoender of aartappels.

Hierdie Steak-toebies was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Somer 2024.
Foto by Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This