Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Tuisgemaakte muesli

Apr 21, 2023 | Baking, Desserts, sweet treats & baking

Moet dit nie misloop nie
Ontbyt bly ’n belangrike ete van die dag, selfs al is jy besig. Die gesegde ‘eet ontbyt soos ’n koning, middagete soos ’n prins of prinses en aandete soos ’n arm man’, is so oud soos die berge, maar het baie waarheid. As die ‘gewig’ van jou etes deur die dag versprei is, is die kans dat jy jou eie gewig beter kan bestuur, net soveel beter. Ontbyt is die ete wat jou metabolisme aan die gang kry en beslis ’n verskil aan jou energievlakke deur die loop van die dag maak.
Dit hoef nie ’n groot ontbyt te wees om jou tot middagete of dalk ’n gesonde peuselhappie later in die oggend, versadig te hou nie. Die geheim is dat dit voedsaam en vullend moet wees, verkieslik met iets uit elke voedselgroep – dit bly ’n goeie beginsel.

So bietjie beplanning
Om dinge soggens makliker te maak, is dit die moeite werd om te sorg dat die bestanddele wat jy vir ontbyt nodig het, aangekoop is. Besluit die vorige aand wat môreoggend se ontbyt gaan wees en doen solank wat jy kan om dit vinnig te kan gereed hê. Week byvoorbeeld hawermout vooraf in die water, dan kook dit soveel vinniger. Vrugte wat klaar gesny is, of dalk klein porsies gevriesde bessies of skyfies piesang is ideaal vir ’n koue smoothie. En selfs al eet jy meer as een keer in ’n week hawermout of eier, is dit maklik om dit elke keer anders voor te sit en só ’n wye verskeidenheid kosse in jou etes in te sluit.

Bokspap is gerieflik, niemand stry daaroor nie, maar het jy al die moeite gedoen om op die etiket te lees hoeveel suiker, verfynde stysel en preserveermiddels daar dikwels in die pappe is? Om nie eers van gegeurde en gekleurde bokspap te praat nie. Gee veel eerder vir jou gesin iets wat julle self van natuurlike en vars bestanddele gemaak het.

Resep

Tuisgemaakte muesli

Tuisgemaakte muesli is ’n bonus om in jou kombuis te hê. Maak ’n groot hoeveelheid wat sommer vir ’n hele paar dae se ontbyte gereed kan wees. Met ’n tuisgemaakte weergawe weet jy ook wat daarin is en hoeveel suiker en olie gebruik word.

Lewer ongeveer 1 kg

Bestanddele

5-6 Rooibos- of enige natuurlik-gegeurde Rooibostee-sakkies (’n bessiegeur is ideaal)

250 ml (1 k) kookwater

125 ml (½ k) olyf-, avokado- of sonneblomolie

125 ml (½ k) heuning

30 ml (2 e) gemaalde kaneel of 10 ml (2 t) vanieljegeursel

1 kg (1 boks) gerolde hawermout

125-250 ml (½-1 k) rou amandels, grof gekap

80 ml (⅓ k) pampoensaad

250 ml (1 k) sonneblomsaad

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit.
  2. Plaas teesakkies in ’n beker en skink kookwater oor. Laat dit trek tot dit lekker sterk is en haal die sakkies uit.
  3. Voeg olie, heuning en kaneel of vanieljegeursel by die tee en meng goed.
  4. Plaas die res van die bestanddele in ’n groot mengbak en roer die teemengsel deur tot goed gemeng.
  5. Skep in ’n enkellaag op die bakplaat en bak 20-25 minute of tot goudbruin en bros. Roer ’n paar keer deur om te verhoed dat dit aan die kante brand of te donker word.
  6. Laat heeltemaal afkoel en bêre in ’n lugdigte houer.
  7. Sit voor met melk of jogurt en vars vrugte soos piesang of ander seisoensvrugte en nog neute.

 

Wenk

1. Ongegeurde jogurt se neutrale geur maak dit juis opwindend. Dit kan selfs met die tuisgemaakte muesli geëet word. Daar is ’n wonderlike verskeidenheid van bestanddele waarmee dit verder opgekikker kan word. Besluit self of jy laevet of volroom jogurt wil gebruik, afhangend van die hoeveelheid en tipe vet wat jy andersins in jou etes insluit. Kies bolae en geurmiddels wat so vars en natuurlik as moontlik is. Vars vrugte is altyd ’n goeie opsie en neute, sade, chiasaad, klapper en selfs onversoete grondboontjiebotter is heerlik. As jy nie van jogurt hou nie of suiwel vermy, kan gaar hawermout met enige van hierdie idees voorgesit word.

Tuisgemaakte muesli
Tuisgemaakte muesli

Hierdie Tuisgemaakte muesli was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Februarie 2019.
Fotos Berna Coetzee.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This