Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Bessietert

Feb 11, 2022 | Desserts, sweet treats & baking, Fruit

Bessietert
’n Delikate broskors, fluweelsagte bakkersvla (crème pâtissière) met ’n tikkie suurlemoen, vanielje en ’n fees van vars bessies, gaan almal beïndruk. Meeste van die werk kan vooraf gedoen word, so dan is dit maklik om die mooie tert as nagereg of op ’n teetafel voor te sit.

Wenke vir ’n bobaas bessietert
Ja, daar is ’n broskors en vulsel om voor te berei en wel ’n hele paar stappe in die resep, maar dis absoluut die moeite werd. Met ’n bietjie beplanning, kan alles in fases gedoen word en dan is dit soveel makliker. Berei die deeg die dag van te vore, want dit lewer die beste resultate as die deeg eers ’n bietjie kon rus. Dan het jy tyd om dit uit te rol en blind te laat bak, want die kors moet afkoel voor jy die vulsel inskep. Onthou om die deeg so min as moontlik te hanteer, sodat die eindresultaat bros en delikaat bly. Skep die vulsel in die kors net voor die tert voorgesit gaan word, sodat dit bros bly.

Die vulsel kan ook die vorige dag gemaak word, sodat dit eers kan afkoel. As jy wel min tyd het, berei die vulsel terwyl die broskorsdeeg rus en gebak word. Dan koel alles gelyktydig af en is jy gereed om die afronding te doen.

 

Bessietert
Bessietert
Bessietert

Resep

Bessietert

Resep uit The AMC book wat ek in 2000 geskryf het
Lewer 8 – 10 porsies

Bestanddele

Broskors

350 ml (200 g) koekmeel

30 ml (2 e) strooisuiker

110 ml (110 g) koue botter, in blokkies gesny

1 ekstra-groot eiergeel

30 ml (2 e) yskoue water

5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil

 

Vanielje-vla (bakkersvla)

4 ekstra-groot eiergele (sien wenk)

75 ml (5 e) strooisuiker

45 ml (3 e) mielieblom

325 ml melk

10 ml (2 t) vanieljegeursel of ’n groot knippie vanieljepoeier

15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil

 

Om voor te sit

300-400 g vars bessies van jou keuse, soos aarbeie, bloubessies en frambose

Metode

  1. Broskors: Plaas die meel, suiker en botter in ’n voedselverwerker en meng tot dit soos growwe broodkrummels lyk. (’n Elektriese klitser sal ook werk.)
  2. Meng die orige korsbestanddele saam en voeg by die meelmengsel. Meng tot dit ’n sagte deeg vorm, maar moenie die deeg te veel hanteer nie. Rol in ’n bal, bedek met kleefplastiek en plaas vir 1 uur in die yskas. (Sien wenke.)
  3. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n sirkel uit. Rol versigtig tot ’n sirkel van omtrent 24-26 cm in deursnee. Strooi nog meel oor die rolstok of werksoppervlak as die deeg daaraan wil vassit. Of rol die deeg op ’n groot stuk bakpapier uit.
  4. Voer ’n 22 cm losboom-tertpan met die deeg uit, sodat daar ’n klein randjie ekstra deeg oor die pan se rand hang. Prik die kors oral-oor met ’n vurk.
  5. Bedek die kors met kleefplastiek en verkoel vir 20 minute in die yskas. Voorverhit intussen die oond tot 200 °C.
  6. Skeur ’n sirkel van 24-26 cm in deursnee uit foelie. Voer die deeg met die foelie uit, blink kant na die deeg, en druk liggies teen die deeg vas. Vul die tertkors met droë bone en bak blind (sonder ’n vulsel) vir 15 minute of tot goudbruin en bros.
  7. Haal uit, verwyder die foelie en sny nou die deegrand met ’n skerp mes gelyk met die tertpan se rand. Laat die kors heeltemal afkoel. (Die kors kan die vorige dag tot hier voorberei word.)
  8. Vanielje-vla: Plaas intussen die eiergele, suiker en mielieblom in ’n mengbak en klits tot lig en donsig. Plaas melk in ’n kastrol en bring oor matige hitte tot net onder kookpunt.
  9. Roer die vanielje en suurlemoenskil by die melk en roer dit geleidelik by die eiermengsel in die mengbak, sodat so min as moontlik lugborrels vorm.
  10. Giet die mengsel terug in die kastrol en roer heeltyd met ’n draadklitser oor ’n lae hitte, tot die mengsel liggies begin prut en verdik – dit moenie klonte vorm nie. Skep vla in ’n skoon bak en laat afkoel. (Die vla kan ook die vorige dag berei word.)
  11. Om voor te sit: Skep vanielje-vla in die afgekoelde tertkors en smeer eweredig. Pak die bessies bo-op en sit binne ’n uur voor, anders kan die kors sag word.

Wenke

  1. Eierwitte vries uitstekend. Gebruik dit vir ’n meringue of klits styf en vou by ’n eiermengsel in om pof-omelette te maak.
  2. Broskors is ’n delikate deeg, so moenie dit te veel hanteer nie, anders krimp dit te veel wanneer dit gebak word.
  3. Ander seisoensvrugte, soos perskes, druiwe of ’n kombinasie van vrugte en bessies kan ook vir die tert gebruik word.

Hierdie Bessietert was deel van ’n kos-artikel in LiG Tydskrif, Lente 2021.
Foto’s: Adel Ferreira Photography.

 

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This