Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Marmerkoek met suurroom & bessies

Dec 14, 2021 | Baking, Desserts, sweet treats & baking

Spesiale bederf
Met ’n spesiale verjaarsdag op die kalender, wou ek graag ’n lekker koek bak. Ek kon nie besluit of dit ’n sjokolade- of vanieljekoek moes wees nie en só ontstaan die idee toe om ’n marmerkoek te bak – die beste van twee wêrelde. Ek is ook nie lief vir ’n koek met baie room of versiersuiker nie, maar verkies beslis ’n koek met ’n sagte, klam tekstuur.

Variasie op ’n basiese botterkoek
My basiese botterkoekresep was die perfekte keuse om mee te werk. Die resep is juis só ontwikkel, dat dit maklik met verskillende geure aangepas kan word. As bolaag, het ek ook besluit om suurroom of crème fraîche met bessies te gebruik. Die eindresultaat, ’n Marmerkoek met suurroom en bessies, was nie net baie mooi nie, maar inderdaad ’n wonderlike bederf.

Maak dit marmer
Deur helfte van die koekmeel met ’n lekker donker kakao te vervang en ’n deel van die vloeistof met sterk, swart koffie, het die sjokoladedeel van die koek ’n besonderse smaak. Dit balanseer baie goed met die vanilejegeur en die bolaag van suurroom en bessies, is ’n heerlike alternatief vir soet versiersuiker.

 

Marmerkoek met suurroom en bessies
Marmerkoek met suurroom en bessies
Marmerkoek met suurroom en bessies

Resep

​Marmerkoek met suurroom & bessies

Lewer 1 groot koek

Bestanddele

300 ml (300 g) sagte botter

350 ml strooisuiker

6 groot eiers

10 ml (2 t) vanieljegeursel

625 ml (2½ k) koekmeel

15 ml (1 e) bakpoeier

100 ml melk

125 ml (½ k) goeie gehalte kakao

100 ml sterk swart koffie of nog melk


Bolaag

150-200 ml suurroom

sowat 125 g vars bessies van jou keuse, bv. bloubessies, frambose of aarbeie
eetbare blommetjies

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 24 cm-gevormde (Bundt-pan) of gewone ringpan deeglik met botter. Sprinkel met ’n dun lagie meel, sodat die kante van die pan egalig bedek is. Skud die ekstra meel uit. Of voer ’n ronde 24 cm-koekpan met bakpapier uit. Smeer liggies met botter.
  2. Klits die botter en suiker met ’n elektriese klitser in ’n mengbak saam tot lig en donsig. Klits vir ’n paar minute om soveel lug moontlik in die mengsel in te sluit. Dit lewer ’n beter tekstuur.
  3. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke bygevoeging. Klits tot ’n gladde mengsel en klits die vanielje by. Sif die meel en bakpoeier saam.
  4. Verdeel die eiermengsel gelyk tussen twee skoon mengbakke. Vou die melk met ‘n metaallepel, om die beurt met 375 ml (1½ k) van die meelmengsel by die een eiermengsel om ’n vanieljebeslag te vorm.
  5. Sif die kakao by die orige meelmengsel. Vou die koffie met ‘n metaallepel, om die beurt met die kakao-en-meelmengsel by die ander eiermengsel, om ’n sjokoladebeslag te vorm. Moenie een van die twee te veel roer nie.
  6. Skep lepelsvol van die vanieljebeslag om die beurt met die sjokoladebeslag in die pan. Herhaal tot al die beslag in die pan is. Gebruik ’n toetspen om die twee mengsels liggies te roer om die marmereffek te kry. Maak liggies bo-op gelyk.
  7. Bak die koek vir 30-40 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
  8. Laat vir ’n paar minute in die pan afkoel, maak die koek versigtig los en keer dit op ’n afkoelrakkie uit. Laat heeltemal afkoel.
  9. Bolaag: Skep lepelsvol suurrrom op die koek en versier met die bessies en eetbare blomme.

Wenke

  1. Hoe donker die kakao, hoe sterker sal die sjokoladesmaak wees. Die koffie sal ook die sjokoladesmaak meer prominent maak.
  2. Vervang die bolaag met die drupversiersel van die kolwyntjies. Garneer met bessies en eetbare blomme of sjokoladeskaafsels.

In Desember 2020 was hierdie Marmerkoek met suurroom & bessies deel van ’n artikel oor koek in LiG Tydskrif.
Foto’s: Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This