Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Romerige mieliepap met geroosterde groente

Sep 14, 2018 | Breakfast, Light meals, Light vegetarian

Mieliepap – wat is die herinnering wat dit by jou oproep? Ek het daarmee groot geword en is baie lief daarvoor, en beslis meer as bygereg met braaivleis, as vir ontbyt. Maar die moontlike maniere om dit voor te sit, strek baie verder as net met braaivleis. Hoe klink geroosterde groente met kaas, neute, kruie en olyfolie op romerige mieliemeel? Dis ewe lekker as laat-ontbyt of vegetariese ete. Dit herinner baie aan hoe Italianers polenta sal voorsit. Polenta is ’n geel mieliemeel wat dikwels in ’n redelike sagte vorm as stysel voorgesit word met ’n vleisgereg. Polenta, soos mieliepap, het die vermoë om ’n sous ‘op te tel’ en dis een van die redes waarom dit so gewild is.

Geroosterde groente is nie ’n nuwe idee nie, maar dit bly een van die veelsydigste maniere om groente voor te berei. Dit kan warm of teen kamertemperatuur gebruik word en is ewe lekker as bygereg of as slaai met ’n paar roket- of klein spinasieblare en dalk ’n bietjie fetakaas of geroosterde sade. Die resep vir geroosterde groente uit Pharma Dynamics se tweede Cooking from the heart resepteboek, het ons al op vele maniere gebruik, wat juis wys hoe veelsydig dit kan wees. Die resepteboeke is gratis op hul webwerf beskikbaar en in die boek is dit juis as een van die ontbyt-idees voorgesit. Die tweede boek fokus op opsies vir ontbyt, kosblikke en peuselhappies. Die idee was juis om mense te wys hoe maklik dit is om lekker en gesond te eet.

Hierdie resep is ’n heerlike opsie as vegetariese basis en selfs vleisliefhebbers kan by ’n vegetariese ete of twee per week baat vind. Groente is van nature vol vesel en met ’n paar bekende geurmiddels en die roosterproses om dit gaar te maak, word die natuurlike geure heerlik beklemtoon. Enige groente van jul keuse kan gebruik word, maar kombineer groente wat min of meer in dieselfde tyd sal gaar word, of rooster die harde groente soos botterskorsie en patats eerste en sit later groente wat vinnig rooster, soos sampioene, by.

Resep
Romerige mieliepap met groente
Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 4 porsies
Bestanddele

Geroosterde groente

30 ml (2 e) olyf-of avokado-olie

30 ml (2 e) balsamiese asyn

15 ml (1 e) gedroogde gemengde kruie of gedroogde roosmaryn

2,5 ml (½ t) sout

suurlemoensap en swartpeper na smaak

1 eiervrug, gehalveer en in dun wiggies gesny

3 murgpampoentjies, in dik diagonale skywe gesny

200 g babatamaties, gehalveer

1 rooi soetrissie,ontpit en in repe gesny

200 g bruinsampioene, in dik skywe gesny

 

Mieliepap

500 ml (2 k) geel mieliemeel of jou gunsteling mieliemeel

1,25 liter (5 k) water

2,5 ml (½ t) sout

 

Om mee voor te sit

125 ml (½ k) gerasperde wit cheddarkaas

’n handvol grofgekapte rou amandels, gerooster (sien wenk)

lekker ekstra skeut olyf- of avokado-olie

’n handvol vars kruie bv. Italiaanse pietersielie of basiliekruidblare

Metode

1. Geroosterde groente: Voorverhit die oond tot 200 °C. Meng die olie, asyn, kruie en sout saam in ’n groot mengbak. Geur na smaak met suurlemoensap en peper.

2. Plaas al die groente op ’n bakplaat en giet die asyn-mengsel bo-oor. (Pak elke groente in ’n aparte ry, dan is dit makliker vir elkeen om dit waarvan húlle hou, op te skep.)

3. Rooster die groente vir 25 minute of tot gaar, maar nie pap nie.

4. Mieliepap: Meng mieliemeel, water en sout in ’n kastro. Bring tot kookpunt oor ’n matige hitte. Verlaag die hitte en prut met die deksel vir 45 minute tot 1 uur of tot gaar. Roer die pap gereeld gedurende die kookproses.

5. Skep lepelsvol van die pap in bakkies met die groente bo-op.

6. Strooi kaas en amandels bo-oor en sit voor met olie en vars kruie.

Wenk

1. Rooster die gekapte amandels oor ’n matige temperatuur in ’n pan, maar wees versigtig, dit brand maklik.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This