Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Marokkaanse vis- & seekoskebabs

May 12, 2017 | Mains, Seafood

Marokkaanse vis- & seekoskebabs

Resep uit Kos is op die tafel
Lewer 6 porsies
1 uur (plus 2-3 ure of oornag om te marineer)

’n Maklike, maar indrukwekkende resep om gaste mee te bederf. Dit is al jare lank een van my pa se gunsteling maniere om vars vis voor te sit en ek het besluit om seekos by te voeg. Die saffraan is ’n belangrike bestanddeel en die perfekte smaak saam met vars vis en seekos.

Bestanddele

Marinade (voldoende vir 1-1,5 kg vis en/of seekos)

2 middelslag uie, fyn gekap

4-5 knoffelhuisies, fyn gedruk

5 ml gemaalde komyn

5 ml paprika

2,5 ml cayenne-peper

2,5 ml (0,5 g) saffraan

125 ml gekapte vars koljanderblare

100 ml gekapte vars Italiaanse pietersielie

125 ml olyfolie

50-60 ml suurlemoensap

15 ml fyngerasperde suurlemoenskil

15-20 ml growwe sout

varsgemaalde swartpeper na smaak

Vis- en seekos

750 g vars ferm lynvis, bv koningklip, geelstert of dorado, in groterige blokkies gesny

200 g rou garnale, ontdooi, skoongemaak en drooggedruk

450 g rou mossels, ontdooi, skoongemaak en drooggedruk

30-45 ml olyfolie vir panbraai

12-14 hout-kebabstokkies

Metode

1. Marinade: Meng al die bestanddele saam in ’n mengbak. Plaas die vis en seekos in ’n enkellaag in ’n groot, vlak glasbak. Skep marinade bo-op en meng versigtig deur. Bedek en marineer ten minte 3-4 ure of oornag in die yskas.

2. Vis- en seekos: Ryg vis en seekos om die beurt op kebabstokkies. (Week stokkies eers 10 minute in water, indien dit oor die kole gerooster gaan word – dit keer dat die stokkies brand.)

3. Plaas die kebabs in ’n toeknyp-rooster en rooster 5-7 minute aan elke kant oor matige kole of tot die vis en seekos net gaar is. Draai die kebabs gereeld om. Anders kan helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan verhit word. Braai helfte van die kebabs 5 minute aan elke kant of tot net gaar. Hou warm en herhaal met orige kebabs en olie.

4. Indien verkies kan die orige marinade verhit en soos ’n sous met die kebabs voorgesit word. Sit voor op bruinrys of koeskoes met ’n groen slaai.

Wenke

1. Bevrore vis sal nie dieselfde resultate lewer nie.

2. Sny die visblokkies sodat dit min of meer so groot soos die seekos is. Dit verseker dat alles eweredig gaar word. Ryg die seekos só, dat soveel as moontlik daarvan aan die pan sal raak, wanneer dit gebraai word. Garnale kan bv in ’n halfmaan-vorm, deur die kop en stert, geryg word, sodat dit ‘plat’ lê.

3. Hierdie is ’n redelike droë marinade en kan vir ’n heel stuk vis of –filet gebruik word. Die marinade is ook heerlik met hoender-, vark- of lamsvleis.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This