Varksosaties met ’n Thaise doopsous (Satay)

Resep
Varksosaties met ’n Thaise doopsous (Satay)
Dié gewilde gereg, oorspronklik uit Indonesië, se grondboontjiesous mag dalk vreemd klink, maar dit is regtig ongelooflik lekker. Jy gaan elke laaste druppel daarvan wil eet. Mense maak dikwels die fout om te dink dat geregte met ‘n oosterse aanslag noodwendig jou mond gaan laat brand. Maar as jy meer in die lyn van geurig en aromaties dink, is dit ‘n baie meer akkurate beskrywing, veral vir ‘n resep soos hierdie een. Natuurlik kan jy die ‘hitte’ met nog kerriepasta of ‘n brandrissie, na gelang van wat jou gesin sal geniet, aanpas.
Die resep gebruik ‘n hele paar baie tipiese bestanddele, soos gemmer, sojasous, komyn en lemmetjie. Die kombinasie van klappermelk, grondboontjiebotter en die Thaise kerriepasta is wat die sous sy unieke geur gee. Vissous is deesdae by die meeste supermarkte beskikbaar, maar as jy dit nie wil gebruik nie, is net nog ‘n bietjie sojasous ook voldoende. Die sous ruik baie sterk, maar as dit eers met ander bestanddele gemeng word, gee dit die sous ‘n spesiale ‘umami’-geur.
Die sosaties kan met vark, bees of hoender gemaak word en jy kan besluit hoe en met watter bykomstighede jy dit wil voorsit. Ek gee ‘n vinnige komkommersalsa-resep in die wenke. Hierdie mag dalk na ’n lang lys bestanddele lyk, maar dis basies ‘n volledige maaltyd en jy kan dit net so geniet of met ‘n groen slaai, groen groente of porsies rys voorsit, soos hier onder beskryf.
Terloops, enige orige sous is heerlik as sous met ander vleis of groente.
Lewer 6 – 8 porsies
Bestanddele
Marinade
2,5 ml (½ t) elk gemaalde komyn en koljander
2,5 ml (½ t) elk borrie en gemaalde neutmuskaat
1 klein knoffelhuisie, fyngedruk
5 ml (1 t) suiker
20 ml (4 t) olie
15 ml (1 e) sojasous
15 ml (1 e) suurlemoensap
2,5 ml (½ t) sout
Vark
800-1 kg varkfilette in 2,5 x 2,5 cm blokkies gesny (of gebruik hoender of bees)
1-2 rooi of geel soetrissies, ontpit en in 2,5 x 2,5 cm blokkies gesny
10-12 sosatiestokkies
30 ml (2 e) olie om mee te braai
Sous
1 x 400 ml-blik klappermelk
25-30 ml (5 t-2 e) Thaise rooi kerriepasta (sien wenke)
45-50 ml growwe grondboontjiebotter
20 ml (4 t) sagte bruinsuiker
20 ml (4 t) sojasous
15 ml (1 e) vissous of nog sojasous
30 ml (2 e) lemmetjie- of suurlemoensap of meer na smaak
Metode
- Marinade: Meng al die bestanddele saam. Skink dit oor die varkblokkies en meng goed deur. Bedek en laat vir 2 ure in die yskas marineer.
- Vark: Ryg varkvleisblokkies om die beurt met die soetrissie op die sosatiestokkies.
- Sous: Plaas intussen helfte van die klappermelk in ’n klein kastrolletjie en bring oor matige hitte tot kookpunt. Verlaag hitte en prut 5 minute sonder ’n deksel tot effens verdik.
- Roer die kerriepasta deur en prut nog 8-10 minute sonder ’n deksel tot aromaties. Roer die orige klappermelk by en prut nog 5 minute liggies om die sous te verdik.
- Roer die orige sousbestanddele by tot die grondboontjiebotter gesmelt het. Prut nog 5 minute en roer gereeld om te voorkom dat ’n vel op die sous vorm. Die sous moenie te loperig wees nie.
- Verhit intussen ’n dun lagie van die olie oor matige hitte in ’n braaipan. Braai die sosaties vir 3-5 minute aan elke kant tot goudbruin en net gaar, maar nie droog nie. Hou dit eenkant warm terwyl die res gebraai word. Voeg nog olie by soos nodig. Sit die vark met die warm sous en ’n komkommersalsa voor. ’n Groen groente of slaai pas ook uitstekend hierby en jy kan dit selfs met rys voorsit as jy verkies. Terloops, enige oorskiet sous is ’n heerlike doopsous vir groenterepies of sit dit met gaar groen groentes voor.
Wenke
- Indien die rooi kerriepasta nie beskikbaar is nie, ontpit en kap 1 klein rooi brandrissies fyn en roer by die sous. Die geur sal effens anders wees, maar steeds heerlik.
- Vervang die grondboontjiesous met ’n gekoopte soet brandrissiesous as jy dit verkies.
- Komkommersalsa: Sny ¼ komkommer en ½ ryp groot tamatie in klein blokkies en 1 klein sprietui in dun skyfies en meng met 15 ml (1 e) gekapte koljanderblare en 10 ml (2 t) gekapte vars kruisement, 15 ml (1 e) olyfolie en 5 ml (1 t) appelasyn en geur met sout en peper.
Foto deur Adel Ferreira vir LiG Tydskrif, Winter 2025.

Dis inderdaad heerlik; het dit so pas in Singapoer ook weer geniet. En my vermoede is die ‘satay’ is waar ons ‘sosatie’ vandaan kom. Dit het ook, soos hierdie, lekker geurige vleis ingeryg op ‘n stokkie.