Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Grenadella-kaaskoek in ’n flessie

Jan 25, 2024 | Cold dessert, Desserts, sweet treats & baking, Fruit

Baie mense is dol oor kaaskoek, maar is huiwerig om dit te maak. ’n Gebakte kaaskoek kan maklik droog wees en die gelatien in ’n yskas-weergawe is ’n bestanddeel waarmee min mense gereeld werk. Hierdie is ’n vinnige alternatief, met ’n heerlike romerige tekstuur en jou gaste gaan beslis dol wees daaroor. Dis ook aansienlik gesonder, want die resep bevat nie kondensmelk nie – ‘n baie tipiese bestanddeel in heel party kaaskoekresepte. Hier is ook geen bakwerk of gelatienpoeier ter sprake nie – net grenadella-lekkerte! Maak die nagereg in klein flessies om vir ‘n piekniek in te pak of maak dit deel van enige ander buite-ete, soos op ‘n stoep.

Resep

Grenadella-kaaskoek in ’n flessie

Lewer 6 porsies

Bestanddele

Kors

½ x 200 g-pakkie gemmer- of spekulaas-koekies

fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

60 ml (¼ k) botter, gesmelt

 

Vulsel

10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil

1 x 250 g-bakkie geroomde of gladde maaskaas

250 ml (1 k) ongegeurde dubbel-dik jogurt

5 ml (1 t) vanieljegeursel

2 x 115 g-houers of blikkies grenadellapulp of gebruik 3-4 vars grenadellas

vars bessies soos bloubessies en aarbeie om mee voor te sit

Metode

  1. Kors: Breek die koekies in ’n voedselverwerker tot fyn krummels vorm (of sien die wenk). Meng die suurlemoenskil en botter deeglik by.
  2. Vulsel: Plaas die suurlemoenskil met die maaskaas, jogurt en vanieljegeursel in ’n groot mengbak. Klits deeglik deur en roer tweederdes van die grenadellapulp by.
  3. Skep lepelsvol van die korsmengsel onderin ses glasflessies (van ongeveer 125 ml volume) of bakkies – gebruik so helfte van die koekiemengsel.
  4. Verdeel die vulsel eweredig tussen die flessies en maak bo-op gelyk. Skep die orige korsmengsel bo-op en versprei eweredig. Druk liggies vas.
  5. Bedek elke flessie met ’n dekseltjie of kleefplastiek. Verkoel 1-2 ure of oornag in die yskas om heeltemal te stol.
  6. Skep die orige grenadellapulp bo-op net voor die kaaskoekies voorgesit word en garneer met die bessies.

Wenke

  1. Plaas die koekies in ’n stewige plastiek sakkie en rol met ’n rolstok of groot glasfles fyn.
  2. Vervang grenadella met 200 g vars frambose of aarbeie. Verpulp tweederdes en roer soos die grenadella in. Die res kan heel ingeroer of as garnering gebruik word.
Grenadella-kaaskoek in ’n flessie
Grenadella-kaaskoek in ’n flessie

Hierdie Grenadella-kaaskoek in ’n flessie was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Somer 2023/2024.
Fotos Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This