Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Wortelkoek met ‘n karameldrupsel

Sep 21, 2023 | Baking, Desserts, sweet treats & baking

Resep

Wortelkoek met ‘n karameldrupsel

Lewer 1 koek

Wortelkoek word dikwels met ’n roomkaasversiersel voorgesit, maar probeer gerus hierdie weergawe met ’n karameldrupsel met ’n tikkie sout by.

Bestanddele

Koek

500 ml (2 k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

2,5 ml (½ t) koeksoda

2,5 ml (½ t) sout

10 ml (2 t) fyn kaneel

10 ml (2 t) fyn gemengde speserye

5 ml (1 t) fyn gemmer

5 ml (1 t) fyn wonderpeper (all spice)

4 groot eiers

250 ml (1 k) suiker

250 ml (1 k) sonneblomolie

5 ml (1 t) vanieljegeursel

125 ml (½ k) karringmelk

500 ml (2 k) grofgerasperde wortels, oortollige vloeistof uitgedruk

125 ml (½ k) grofgerasperde pynappel (of geblikte gebreekte pynappel), oortollige vloeistof uitgedruk

125 ml (½ k) grofgekapte neute van jou keuse (’n mengsel van amandels, pekan-, makadamia- of okkerneute is heerlik)

 

Karamel met ’n tikkie sout

80 ml (⅓ k) sagte bruinsuiker

60 ml (¼ k) gouestroop

30 ml (2 e) botter

100 ml vars room

30 ml (2 e) water

’n klein knippie fyn sout – niks meer as 1,2 ml

 

klapperskaafsels, droë klapper of enige van die neute, grof gekap, vir garnering

Metode

  1. Koek: Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n 22 cm-koekpan met bakpapier uit en smeer liggies met olie.
  2. Sif die droë bestanddele saam in ’n mengbak.
  3. Klits die eiers en suiker vir 5-8 minute met ’n elektriese klitser in ’n groot mengbak of in ’n staanmenger saam tot liggeel en donsig. Voeg die olie, vanielje en karringmelk by en klits tot goed gemeng.
  4. Vou die droë bestanddele met ’n groot lepel by die eiermengsel in tot net deur gemeng, maar moenie te veel roer nie.
  5. Vou die wortels, pynappel en neute in tot net gemeng en skep in die pan. Bak vir 50-60 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom – maak seker dat jy die koek in die middel toets.
  6. Laat ’n paar minute op ’n afkoelrakkie staan en keer dan die koek uit. Draai die koek om, sodat die plat onderkant na bo wys. Laat die koek só heeltemal afkoel.
  7. Karamel: Berei die karamel terwl die koek afkoel. Plaas al die bestanddele, behalwe die sout, in ’n klein kastrolletjie. Verhit oor ’n lae temperatuur en roer heeltyd, tot die suiker, stroop en botter opgelos het en ’n gladde mengsel vorm.
  8. Bring liggies tot kookpunt en laat vir 5 tot 8 minute prut tot die mengsel net begin verdik. Moenie dit te lank kook nie, dan word dit te taai. Onthou dat dit al hoe dikker sal word soos dit afkoel.
  9. Haal van die hitte af en roer die sout deeglik deur. Laat die karamel heeltemal afkoel voor dit oor die koek geskink word.
  10. Plaas die afgekoelde koek, met die plat kant na bo, op ’n groot koekbord – dan is die bokant heeltemal gelyk vir die afronding.
  11. Giet die karamel eweredig oor die koek, smeer gelyk en laat dit self teen die kante afloop. Garneer met die klapperskaafsels, klapper of neute en sit voor.

 

Hierdie Wortelkoek met ‘n karameldrupsel was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Winter 2023.
Foto by Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This