Kekerertjies in ’n Marokkaanse sous
Resep
Kekerertjies in ’n Marokkaanse sous
Lewer 6 porsies
Met kekerertjies kan jy my in ’n wip vang! En as daar nog eiervrug ook by is, is ek nog meer opgewonde. Hierdie aromatiese tamatiesous met speserye is die perfekte basis vir beide dié bestanddele en dis ewe lekker om warm of teen kamertemperatuur te eet. Moenie vir die lang lys bestanddele skrik nie, dis net die lysie geurige speserye wat dit langer maak, maar jy het waarskynlik reeds heelwat daarvan in jou kas. Hierdie gereg is perfek as vegetariese maaltyd, omdat die kekerertjies ‘n goeie bron van proteïene is. Of sit dit as bygereg voor, want die kekeretjies bevat ook stysel.
Bestanddele
30 ml (2 e) olyfolie
2 gewone of rooi uie, in wiggies gesny
1 groot knoffelhuisie, gekneus
1 eiervrug, in lang skywe en dan in breë wiggies gesny
1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer en vloeistof behou
15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
5 ml (1 t) matige kerriepoeier
10 ml (2 t) gemaalde kaneel
15 ml (1 e) gemaalde komyn
5 ml (1 t) gemaalde koljander
2,5 ml (½ t) gemaalde borrie
2,5 ml (½ t) vinkelsade (opsioneel)
30 ml (2 e) tamatiepasta
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
60 ml (¼ k) vars koljanderblare
sout en peper
125 ml (½ k) gevlokte amandels, gerooster
vars koljanderblare of kruisementblare om mee voor te sit
Metode
- Verhit die olie in ’n braaipan en soteer die uie en knoffel tot sag. Roer die eiervrug en kekerertjies by en soteer vir ’n paar minute.
- Roer die gemmer en al die droë speserye by en soteer tot dit aromaties is. Roer die tamatiepasta by en laat dit vir ’n paar minute prut.
- Roer die gekapte tamaties met 200 ml van die behoue kekerertjie-vloeistof en die suurlemoenskil en -sap by. Verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 20-30 minute of tot die eiervrug gaar is.
- Prut vir nog 15-20 minute sonder ’n deksel, tot die sous verdik het. Roer die gekapte koljanderblare by en geur na smaak.
- Sit warm of teen kamertemperatuur met die amandels en vars kruie voor.
Hierdie Kekerertjies in ’n Marokkaanse sous was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Lente 2022.
Foto by Adel Ferreira Photography.
Baie dankie’Heleen, hierdie resep maak my nèt so opgewonde!