Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Rooibos-malvapoeding & vla

Aug 19, 2022 | Baking, Desserts, sweet treats & baking, Hot dessert

Mal oor malvapoeding?
Malvapoeding is ’n Suid-Afrikaanse ikoon en bekend as ’n tande-klap-soet nagereg. Ek verkies beslis ’n minder soet weergawe sodat die ander geure in die gebak ook geproe kan word. Met die regte bestanddele, is my resep ewe lekker en boonop gesonder.

Karringmelk vir ’n sagte tekstuur en Rooibostee vir ’n subtiele, maar interessante geur – dit maak dié resep spesiaal. Die tuisgemaakte Rooibosvla is heerlik – moenie die fyngerasperde suurlemoenskil uitlos nie, dis ’n verrassende geurelement. Die resep gebruik aansienlik minder suiker, maar jy gaan dit nie eers agterkom nie.

Resep

Rooibos-malvapoeding & vla

Lewer 8 porsies

Bestanddele

250 ml (1 k) koekmeel

5 ml (1 t) koeksoda

1 eier, geklits

80 ml (⅓ k) suiker

60 ml (¼ k) appelkooskonfyt

5 ml (1 t) vanieljegeursel

250 ml (1 k) karringmelk of melk

45 ml (3 e) botter

10 ml (2 t) witwynasyn

 

Sous

125 ml (½ k) melk

125 ml (½ k) sterk Rooibostee

60 ml (¼ k) botter

60 ml (¼ k) suiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

 

Rooibos-vla

750 ml (3 k) melk

4 Rooibosteesakkies

75 ml (5 e) vlapoeier

30 ml (2 e) ligte bruinsuiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil

 

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n 1,5-litre oondbak liggies met botter.
  2. Meng meel en koeksoda saam. Klits eier, suiker, konfyt en vanielje saam tot glad, lig en donsig.
  3. Meng die karringmelk en botter saam in ’n kastrol oor ’n matige hitte tot die botter gesmelt het. Voeg die asyn by – moenie bekommerd wees as dit skif nie.
  4. Klits die meelmengsel by die eiermengsel. Voeg die warm karringmelkmengsel geleidelik by en klits om ’n gladde beslag te vorm.
  5. Giet die beslag in die oondbak en bak vir 30-35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
  6. Sous: Plaas intussen die sousbestanddele in ’n klein kastrol. Roer oor matige hitte tot die suiker opgelos het. Bring tot kookpunt en prut vir 5-10 minute.
  7. Prik die warm poeding oral-oor met ’n vurk. Giet die warm sous oor en laat heeltemal intrek. Plaas vir nog 5 minute terug in die oond.
  8. Vla: Skink 550 ml van die melk in ’n kastrol en sit die teesakkies daarin. Bring dit oor matige hitte tot net onder kookpunt.
  9. Meng intussen die vlapoeier, suiker en orige melk tot ’n gladde pasta. Skink ’n bietjie van die warm melk by die vlamengsel en roer tot daar geen klonte is nie. Haal die teesakkies uit die melk.
  10. Giet die vlamengsel terug in die kastrol en laat dit liggies vir ’n paar minute prut, terwyl die vla heeltyd geroer word. Prut tot dit verdik het en roer dan die vanieljegeursel en suurlemoenskil by.
  11. Sit die warm malvapoeding dadelik met die warm vla voor.

Hierdie Rooibos-malvapoeding & vla was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Winter 2022.
Foto Adel Ferreira Photography.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This