Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Klein vark-&-appelburgers

Dec 7, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Light meals, Light meat

Sodra die vakansie aanbreek, is jou roetine hopelik ook bietjie rustiger. Dis ’n ideale tyd om die kinders in die kombuis te laat help. Hoe meer hulle daar betrokke is, hoe groter is die kans dat hulle opgewonde is om dit te eet waarmee hulle gehelp het. En moenie verbaas wees as hulle dan ook meer avontuurlustig is met nuwe geure en bestanddele nie. Hierdie varkburgers is so maklik om te maak en selfs ’n kleiner kind kan help om die maalvleismengsel in balletjies te rol. Die geurkombinasie van varkvleis, appel, kruie en speserye is heerlik.

Enige maalvleis kan vir die patties gebruik word, maar maak seker dat dit maer maalvleis is. Lees ook die etiket om seker te maak dat die vleis so ‘skoon’ as moontlik is, met geen semels of ander bestanddele bygevoeg nie. Beesvleis sal ook lekker wees met die appel, maar die vark is ’n ekstra geurige opsie. Appel en vark is ’n bekende kombinasie en as die appel so sappige en soet soos ’n JOYA® Appel is, is dit ekstra lekker.

Resep
Klein vark-&-appelburgers
Maak 8 klein burgers
Bestanddele
Varkpatties (aangepas uit Cooking from the heart 2)

500 g maer varkmaalvleis

1 JOYA® Appel met die skil, grof gerasper

60 ml (¼ k) rou hawermout

1,2 ml (¼ t) gemaalde neutmuskaat

15 ml (1 e) gemaalde koljander

10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie

30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of koljanderblare

20 ml (4 t) gekapte vars kruisementblare

2,5 ml (½ t) sout

1 ekstra-groot Nulaid eier, geklits

suurlemoensap en swartpeper na smaak

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie om in te braai

 

Koolslaai (genoeg vir 4-6 burgers)

30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie

5 ml (1 t) heuning

15 ml (1 e) gekapte vars kruisementblare of dille

30 ml (2 e) appelasyn

swartpeper na smaak

½ klein witkool, in dun repies gesny

 

sagte slaaiblare bv. botterslaaiblare

2 JOYA® Appels met die skil, in dik skywe gesny

8 klein volkoring-broodrolletjies, oopgesny

Metode
1. Varkpatties: Plaas al bestanddele, behalwe die olie, in ’n mengbak. Geur na smaak met suurlemoensap en swartpeper en meng goed deur.

2. Verdeel die maalvleismengsel in 8 klein balletjies. Druk met die palms van jou hande plat om klein patties te vorm.

3. Verhit ’n dun lagie olie oor ’n matige hitte in ’n braaipan (bv. ’n AMC 28 cm Chef’s Pan).

4. Braai die patties in sarsies aan albei kante tot goudbruin. Verlaag die hitte, plaas ’n deksel op en prut vir 5-6 minute of tot net gaar, maar nie droog nie. Herhaal met die orige patties en olie.

5. Koolslaai: Meng die olie, heuning, kruisement of dille en appelsyn saam. Geur na smaak met swartpeper. Meng die sous met die kool in ’n mengbak tot goed gemeng. Laat die mengsel vir 10-15 minute staan om die kool te marineer.

6. Skep van die koolslaai op die oopgesnyde rolletjies of gebruik slaaiblare vir die wat nie van kool hou nie. Plaas patties en appelskywe bo-op.

7. Steek broodjies met ’n tandestokkie vas, indien nodig. Geniet as ’n ligtemaaltyd of pak in as deel van ’n kosblik, vir padkos of enige plek waar julle die vakansie gaan kuier.

Wenke
1. Skep ongegeurde jogurt op die broodrolletjies in plaas van botter of ’n ander sous, dis heerlik met die appel en vark.

2. Die varkpatties vries goed. Berei ’n dubbele hoeveelheid en vries helfte vir nog ’n ete.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This