Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Bros mieliemeel-tortillas

Nov 16, 2018 | Light meals, Light vegetarian

Die einde van die jaar is om die draai en daarmee saam, word die dae warmer. Ligter etes met somerslaaibestanddele en vars produkte is nou ook meer gereeld op ons tafels. Daar is soveel om van te kies en omdat seisonale vars goed so geurig is en dikwels mekaar se geure op jou bord komplimenteer, hoef jy nie veel daarmee te doen, om lekker te kan eet nie. Om solank ’n paar idees vir die vakansietyd bymekaar te maak, kan ook nie skade doen nie.

Hieronder is ’n resep vir ’n tuisgemaakte mieliemeel-tortilla wat op ’n wye verskeidenheid maniere voorgesit kan word. Die tekstuur is heelwat brosser as ’n roti of wrap, so jy gaan nie ’n vulsel daarin kan toevou nie, maar dit skeur maklik in groot stukke en dan kan dit as basis vir ’n bolaag van jou keuse gebruik word. Dis sommer ook ’n lekker sosiale manier om ’n bordvol tortillas en bakkies met bestanddele op ’n tafel te sit en elkeen sy eie kombinasies as bolaag te laat kies.

Alhoewel jy enige bestanddele as bolaag kan gebruik, is die kombinasie van die soet smaak van vars appels en ander slaaibestanddele met die delikate kerriegeur van die eiermengsel regtig lekker saam.

Resep
Bros mieliemeel-tortillas
Maak 8 tortillas
Bestanddele

250 ml (1 k) wit mieliemeel

300 ml steengemaalde volkoringmeel

2,5 ml (½ t) sout

5 ml (1 t) gemaalde komyn

30 ml (2 e) sonneblom-, olyf- of avokado-olie

250 ml (1 k) kookwater

ekstra 125 ml (½ k) koekmeel om mee uit te rol

 

Bolaag

250 ml (1 k) ongegeurde jogurt

5 ml (1 t) matige kerriepoeier

8 ekstra-groot eiers, hardgekook en met ’n vurk fyngedruk (sien wenke)

4 rooi appels, met die skil, in kwarte en dan in dun wiggies gesny

2 mielies aan die stronk, gekook en pitte van die stronk gesny

2 handevol klein slaaiblare

½ komkommer, gehalveer en in dun skyfies gesny

2 selderystingels, in dun diagonale skywe gesny

’n handvol kruisement en Italiaanse pietersielie

Metode

1. Mieliemeel-tortillas: Plaas beide die mele in ’n groot mengbak. Voeg die sout en komyn by en roer die olie by die meel.

2. Skink die kookwater by die meelmengsel en roer met ’n houtlepel tot ’n sagte deeg vorm.

3. Verdeel die deeg in 8 balletjies en rol dit in individuele sirkels op ’n meelbestrooide oppervlak uit.

4. Vou elke sirkel in die helfte en vou dan weer in die helfte en rol weer in sirkels uit. Herhaal met al die orige deeg en bedek met ’n skoon afdroogdoek totdat dit gebraai word.

5. Verhit ’n dun lagie olie oor ’n lae tot matige temperatuur in ’n braaipan.

6. Braai die tortillas aan albei kante in die pan tot goudbruin. Herhaal met die res van die tortillas.

7. Bolaag: Meng die jogurt, kerriepoeier en eiers saam.

8. Skeur elke tortilla in stukke, en bedien dit saam met die eiermengsel, appels en die res van die slaaibestanddele.

Wenke

1. Vir perfekte sirkels, sny die deeg met ’n 20 of 24 cm-deksel uit sodra dit klaar uitgerol is.

2. Hardgekookte eiers: Plaas die eiers met kraanwater in ’n kastrol en verhit oor ’n matige temperatuur. Begin die tyd meet sodra die water begin prut en kook die eiers vir 8-10 minute. Skep eiers in ’n bak met koue water en sodra dit koud genoeg is om te hanteer, kan jy die eierdoppe liggies teen ’n harde oppervlak kraak – dit sal help om die eiers later makliker af te dop.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This