Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Sampioen-lasagne met appelslaai

Apr 26, 2018 | Kosblik 101 / Lunch boxes, Mains, Meat

Van kleins af, is lasagne hoog op my lys van koesterkos-geregte. As my ma ons wou bederf of wanneer jy kon kies watter gunsteling jy vir jou verjaarsdagete wil hê, was lasagne gereeld eerste genoem. Ja, lasagne bestaan uit lae geurige maalvleis en pasta met ’n kaassous, maar met deesdae se innoverende kosneigings, is dit nie meer die enigste manier waarop dié bekende gereg gemaak kan word nie. Die pasta word dikwels met groente van ’n soort vervang of die maalvleis word selfs hoender, of vis – daar is baie opsies.

Maalvleis, sampioene en spinasie is ’n heerlike kombinasie en ideaal om inderdaad ’n glutenvrye-lasagne mee te maak. En al gebruik jy nie ’n kaassous bo-op nie, is ’n mengsel van karringmelk, kruie en kaas ewe lekker. Onthou, kaassous word tipies met meel gemaak, so dit bevat ook gluten, soos die pasta.

Enige maalvleismengsel kan vir hierdie weergawe gebruik word, maar hierdie resep sluit spesifiek meer groente in, om seker te maak dat die ete steeds vullend genoeg is. Die seldery, murgpampoentjies of selfs wortel as jy dit wil gebruik, is ook ’n manier om dalk groente waarvan party kinders nie hou nie, wel in jul etes in te sluit. Die maalvleis word ook verder aangevul met sampioene wat in klein blokkies gesny is. Dit gee nie net meer volume aan die lasagne nie, maar dra beslis ook by tot die voedsaamheid van die ete. Sampioene wat gesoteer en so saam met die maalvleis geprut het, se tekstuur is baie soortgelyk aan dié van maalvleis en absorbeer al die geure, so dit meng uitstekend saam. Sampioene is ’n goeie bron van ’n wye verskeidenheid vitamiene, minerale, vesel en antioksidante.

Hierdie lasagne bevat geen pasta nie en die lae word met spinasie en geroosterde sampioene gemaak. Gebruik ’n bruin sampioen vir die resep, want dit het die meeste geur. Wanneer dit boonop eers gerooster word, is dit selfs nog geuriger en die neuterige smaak is perfek met die spinasie. Sampioene het ook van nature ’n souterige smaak, so hou jou southand met die maalvleismengsel lig.Aangesien daar geen pasta in die resep is nie, bak dit ook heelwat korter as ’n ander lasagne, want alles is reeds gaar. Gebruik ’n middelslag-oondbak, sodat die lae eweredig versprei kan word, maar sonder dat die bak so diep is, dat dit lank neem om dwarsdeur warm te bak. As jy ’n baie groot, vlakker bak wil gebruik, moet jy dalk net die karringmelkmengsel effens meer maak.

Resep
Sampioen-lasagne
Resep aangepas uit Cooking from the heart 3
Lewer 4 porsies
Bestanddele
30 ml (2 e) avokado- of olyfolie

500 g maalvleis

1 groot ui, gekap

2 selderystingels met blare, fyn gekap

2 murgpampoentjies, grof gerasper

400 g bruin sampioene, helfte in klein blokkies gesny en die res in skywe

5 ml (1 t) paprika

10 ml (2 t) gemaalde koljander

10 ml (2 t) gedroogde origanum

2 x 410 g-blikke gekapte tamaties

5 ml (1 t) Worcestershiresous

90 ml (6 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie

suurlemoensap en swartpeper na smaak

2-3 groot handevol baba-spinasieblare

300 ml karringmelk

100 ml gerasperde cheddarkaas

Metode
1. Verhit 10 ml van die olie in ’n groot braaipan (bv. ’n AMC 28 cm Chef’s Pan) en verbruin die maalvleis, terwyl enige klonte met ’n houtlepel kleiner gebreek word. Skep vleis uit en hou eenkant.

2. Voeg nog ’n bietjie van die olie by en soteer die ui tot sag. Voeg die seldery en murgpampoentjies by en soteer vir ’n paar minute. Roer die blokkies sampioene by en soteer tot dit begin gaar word en nie meer ekstra vloeistof uitstoot nie.

3. Voeg paprika, koljander, origanum, tamaties en Worcestershiresous met die maalvleis by. Prut met ’n deksel vir 25-30 minute of tot die maalvleis gaar is. (As daar nog heelwat vloeistof in die mengsel is, laat dit vir ’n paar minute sonder ’n deksel prut.)

4. Roer 60 ml van die pietersielie by en geur met suurlemoensap en peper na smaak. Voorverhit intussen die oond tot 200 °C.

5. Plaas die skywe sampioene op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is en verf sampioene met die orige olie. Skakel die element van die oond aan en rooster vir 8-10 minute of tot liggies goudbruin en gaar, maar steeds sappig.

6. Skakel die element van die oond af en verlaag oondtemperatuur tot 180 °C.

7. Skep intussen helfte van die maalvleismengsel in ’n oondbak. Bedek met die spinasieblare in ’n eweredige laag. Skep die orige maalvleis bo-op en bedek met die gaar sampioenskywe.

8. Meng die karringmelk, orige pietersielie en helfte van die kaas en skink egalig oor die sampioene. Strooi die orige kaas oor en bak vir 20-30 minute of tot goudbruin en deurwarm.

9. Sit warm voor met ’n appel-en-fetaslaai (sien wenk).

Wenk
1. JAZZ™ Appelslaai: Berei ’n vinnige kraakvars-slaai deur 1-2 JAZZ™ appels, met die skil in dun wiggies te sny en met gekrummelde feta en mikro-kruie in klein cos- of botterslaaiblare voor te sit. .
error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This