Sampioenpatee met komyn

Sampioene gee aan ’n gereg ’n baie unieke en interessante geur, veral as dit eers gaargemaak word om daardie bekende neuterige smaak te beklemtoon. Hierdie vinnige sampioenpatee kan op soveel lekker maniere gebruik word – van ’n doopsous met groenterepies, smeersel vir ’n gourmet-toebroodjie tot ’n sous op ’n stukkie steak.
Sampioene het ook van nature ’n souterige smaak, wat juis beteken dat jy minder sout in ’n gereg nodig het, as dit reeds sampioene in het. Die gesonder manier om kos te geur, is beslis met natuurlike geurmiddels soos suurlemoen, kruie, knoffel, speserye en selfs gemmer en brandrissie. Nou kan jy sommer sampioene ook op die lysie sit as alternatief vir daardie souterige smaak waarvoor ons soms so lus kan word.
Daar is verskillende maniere om sout in jou etes te verminder. Let veral op na die soutinhoud van produkte wat jy koop – dit behoort op die etiket aangedui te word. Soms word dit as sodium aangedui en ’n maklike riglyn is om te weet dat 5 g sout = 5 ml sout = 2000 mg sodium? Ons moet verkieslik nie meer as 5 g per dag inneem nie. Nog ’n manier om sout te verminder, is om die regte gaarmaakmetodes te kies om geur aan bestanddele te verleen, sonder dat sout nodig is. Soos om bv. die sampioene in die resep eers te soteer, sodat hulle so geurig moontlik is. Gebruik dan geurmiddels wat bestanddele komplementeer en aanvul, soos die komyn en sampioene in die patee-resep. Tiemie en sampioene is ’n wenkombinasie en ’n skeut suurlemoensap daarmee saam is soms al wat nodig is. Probeer ook om nie uit gewoonte sout aan tafel te hê, tensy dit regtig nodig is nie. Leer ook jou kinders om nie ’n swaar sout-palet te ontwikkel nie, want dis iets wat mens soms moeilik afleer.
Sampioenpatee met komyn
Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer ongeveer 500 ml
Gebraaide sampioene gee dié patee ’n heerlike neuterige smaak en dis regtig veelsydig.
250 g elk knopie- en bruin sampioene, in skyfies gesny
1 groot knoffelhuisie, fyn gedruk
15 ml (1 e) vars tiemieblaartjies
sout en peper na smaak
15 ml (1 e) suurlemoensap
2,5 ml (½ t) gemaalde komyn
80 ml (⅓ k) ongegeurde gladde volvet of geroomde maaskaas of 30-45 ml tahini of na smaak (sien wenk)
Om mee voor te sit
komkommer- en wortelrepies en geblansjeerde boontjies of ander groente
- Verhit ’n groot braaipan oor matige hitte. Soteer helfte van die sampioene, sonder enige olie tot goudbruin en tot al die vog verdamp het, maar nie oorgaar nie.
- Skep sampioene uit. Soteer die orige sampioene, met die knoffel en tiemie tot die sampioene goudbruin is. Skep by die ander sampioene, geur na smaak en laat afkoel.
- Plaas sampioene met die orige bestanddele in ’n voedselverwerker of meng met ’n stokmenger tot ’n gladde mengsel. Meng ’n skeutjie olyfolie by as jy die patee meer smeerbaar verkies.
- Skep in ’n bakkie, bedek en verkoel tot benodig. Gebruik die patee as doopsous met groenterepies, smeer dit op broodjies, of soutbeskuitjies of gebruik as bolaag vir skemerhappies.
Wenke
- Tahini is ’n sesamsaadpasta wat gewoonlik in groot supermarkte se gesondheidsafdeling beskikbaar is. Die neuterige smaak is perfek saam met sampioene. Tahini se konsistensie verskil soms baie tussen handelsmerke, so gebruik eers ’n bietjie minder as dit baie styf – dit moenie die sampioensmaak oorheers nie.
- Skep lepelsvol patee op ’n gebakte aartappel as bygereg vir ’n ander ete.
Hierdie Sampioenpatee met komyn was deel van ‘n kos-artikel in LiG Tydskrif, Somer (Des 2023-Feb 2024.)
Foto by Adel Ferreira Photography.