Sardyne-gebak

Resep
Sardyne-gebak
Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 4 porsies
Hierdie aandete is ’n wenner – vinnig, vullend en so maklik om te maak. Selfs mense wat nie dol is oor geblikte vis nie, geniet die gereg. Geblikte sardyne is propvol voedingswaarde, want dit is ’n uitstekende bron van proteïene, gesonde olies en kalsium. Die groente in die gereg kan met enige bevrore groente soos ertjies, boontjies of mielies verder aangevul word.
Bestanddele
4 snye bruin- of volgraanbrood
250 ml (1 k) melk
1 x 425 g-blik sardyne in tamatiesous
1 ui, gekap
1 wortel of murgpampoentjie, grof gerasper
4 groot eiers, geklits
30 ml (2 e) gekapte vars pietersielie
suurlemoensap en swartpeper na smaak
5 ml (1 t) paprika
60 ml (¼ k) gerasperde kaas
Metode
- Voorverhit oond tot 180 °C.
- Skeur brood in stukkies en plaas in ’n groot mengbak. Giet die melk oor. Laat dit bietjie week en druk met ’n vurk fyn.
- Roer die vis in tamatiesous by en druk fyn. Onthou om die sagte grate in die sardyne deel van die mengsel te maak. Dit druk maklik fyn en is propvol kalsium, so deel van die rede waarom die sardyne so gesond is.
- Voeg ui, wortel of murgpampoentjie en eiers by en meng goed deur. Roer pietersielie by en geur met suurlemoensap, swartpeper en die helfte van die paprika.
- Skep in ’n oondbak en strooi kaas en die orige paprika oor. Bak vir 30-40 minute tot goudbruin en gaar. Sit met slaai voor.
Wenke
- Die gereg kan ook teen kamertemperatuur voorgesit word, want dit kan maklik in blokkies gesny word.
- Dis ’n lekker manier om groente van kieskeurige (picky) gesinslede weg te steek. Voeg meer wortel of murgpampoentjie by of gebruik enige van die bevrore groente, soos voorgestel. As meer as 250 ml (1 k) ekstra groente bygevoeg word, mag nog 1 eier nodig wees, om die mengsel te bind.
Foto: Adel Ferreira vir Cooking from the heart, Pharma Dynamics.
Baie dankie !!
Baie dankie dat ek jou resepte per e-pos kan kry.
Het jy dalk resepte met hoender vir een persoon, somer in die mikrogolf.
Ek is enkellopend en kan tog nie vir myself jou resep was ek pas gekry het, sardyne gebak, maak nie. Dit lyk baie lekker, ek sal sommer probeer om die bestanddele minder te maak en in die mikrogolf warm te maak.
Hallo Joey, ek kook baie min in die mikrogolf, maar my voorstel is dat jy ‘n heel hoender in die oond maak en dan in porsies vries om op verskillende maniere te gebruik. Jy kan die sardynegebak se vol resep ook maak en dit in porsies sny. Dit vries uitstekend.
Baie dankie vir hierdie heerlike nuwe resep wat ek definitief gaan beproef Heleen
Groot plesier!