Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Volkoringbroodjies met knoffel-kruiebotter

Dec 12, 2022 | Baking

Resep

Volkoringbroodjies met knoffel-kruiebotter

Varsgebakte brood is altyd ’n lekker bederf. Die brooddeeg is vinnig en maklik om te maak en die kruiebotter maak dit ekstra spesiaal. Sit die broodjies op ‘n groot bord in die middel van die tafel en laat elkeen sommer ‘n broodjie afskeur – heerlik vir heel om die tafel. 

Lewer 18 – 20 broodrolletjies

Bestanddele

Kruiebotter

3 groot knoffelhuisies, in die skilletjies

45 ml (3 e) olyfolie

5 ml (1 t) gekapte vars roosmaryn

15 ml (1 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie

10 ml (2 t) vars tiemieblaartjies

knippie rooipeper of paprika, na smaak

125 ml (½ k) sagte botter

 

Broodrolletjies

750 ml (3 k) volkoringmeel, verkieslik steengemaalde meel

310 ml (1¼ k) witbroodmeel, verkieslik steengemaalde meel

30 ml (2 e) bakpoeier

2,5 ml (½ t) sout

125 ml (½ k) fyngerasperde beleë wit cheddarkaas

2 eiers, geklits

500 ml (2 k) karringmelk

50 ml olyfolie

15 ml (1 e) melk om mee te verf

vars takkies roosmaryn om mee af te rond

 

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit en sprinkel liggies met ’n bietjie ekstra meel.
  2. Kruiebotter: Plaas die knoffelhuisies in ’n klein, vlak oondvaste bakkie of klein bakplaatjie. Meng 15 ml van die olyfolie met die roosmaryn en skink oor die knoffel. Hou eenkant tot die brooddeeg gereed is, want dit gaan saam gebak en gerooster word.
  3. Brood: Meng die mele, bakpoeier en sout in ’n groot mengbak saam. Roer helfte van die kaas by die meelmengsel. Klits eiers, karringmelk en olie saam.
  4. Roer die vloeistof by die meelmengsel en sny met die agterkant van ’n mes by die meelmengsel in tot ’n deeg vorm. Wees versigting om nie te veel te meng nie.
  5. Vorm die deeg in 18-20 balletjies. Druk jou hande in ’n bietjie ekstra meel as die deeg aan jou hande wil vassit.
  6. Pak die deegballetjies op die bakpapier, maar sonder dat die balletjies aan mekaar raak – daar moet steeds plek wees om tot teen mekaar uit te rys. Pak dit in ’n sirkel of selfs in ’n krans vir ’n interessante effek.
  7. Verf die broodjies met die melk. Sprinkel die orige kaas en ’n paar roosmarynblare oor die broodjies.
  8. Plaas die bakplaat met die brood en die bakkie of bakplaatjie met knoffel saam in die oond. Rooster die knoffel vir 15-20 minute of tot sag en goudbruin. Bak die brood vir nog 5 minute of tot goudbruin en gaar. (Die brood sal ver genoeg uitgerys wees, dat die oonddeur oopgemaak kan word om die knoffel uit te haal.)
  9. Om die botter klaar te maak: Druk die geroosterde knoffelhuisies uit die skilletjies. Meng die knoffelpulp met ’n lepel of klitser met die orige botterbestanddele in ’n mengbakkie saam. Skep die botter in ’n mooi bakkie.
  10. Sit die warm brood op ’n groot bord of houtplank met die botter. Sit as voorgereg of bygereg voor.

 

Volkoringbrood

In Somer 2022 was hierdie Volkoringbroodjies met knoffel-kruiebotter deel van ’n artikel oor kos vir buite in LiG Tydskrif.
Foto: Adel Ferreira.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This