Italiaanse geroosterde sampioene

Groot bruinsampioene, of portabella’s, is nie net ideaal as ’n bygereg of groente nie, maar word dikwels as basis vir ’n vegetariese ete gebruik. Hierdie groot sampioene het ’n stewige tekstuur en herinner amper aan ’n steak – juis die rede waarom dit so gewild is.
Die kombinasie van tamatie en kruie is absoluut heerlik en verfrissend en as dit met olyfolie en suurlemoen in ’n Italiaanse marinade omskep word, is dit baie veelsydig. Die geure word tweeledig in die resep gebruik. Aan die een kant is dit die geurmiddel vir die groot sampioene en dan word dit met wiggies vars kersietamaties gemeng om ’n geurige bolaag vir groot bruinsampioene te wees. Hierdie is ’n goeie voorbeeld van ’n resep wat regtig besonders is, as die regte kombinasie van bestanddele gebruik word, wat mekaar alles so goed aanvul. Dis ook ’n glutenvrye idee – iets waarvoor baie mense dikwels vra.
Die gevulde en geroosterde sampioene mag dalk soos klein pizzas lyk, maar dis inderdaad baie meer as dit. Gebruik die idee as ’n voorgereg of bygereg vir ’n volgende braaivleis-ete. Die beginsel om met vars bestanddele wat mekaar goed aanvul, tuisgemaakte kos voor te berei, is die fokus van soveel van die resepte op my webwerf.
As jy wel aan die idee as ’n pizza wil dink, is die groot sampioene ’n ideale vervanging vir deeg. Die bruinsampioen het ’n heerlike geur en pas so goed by ’n verskeidenheid bestanddele. Wanneer dit gerooster word, kry dit selfs ’n nog meer prominente smaak. Onthou dat vars en gaar sampioene almal ’n goeie bron van vesel en baie ander voedingswaarde, antioksidante en selfs proteïene is.
Wenke met sampioene:
– MOENIE WAS nie: sampioene absorbeer net die water en word gou sleg.
– VEE dit AF: gebruik liewer net kombuispapier om dit saggies skoon te maak.
– UIT die PLASTIEK: haal sampioene uit die plastiek verpakking en hou in ’n papier- of lapsakkie in die YSKAS. Of stoor dit in ’n lugdigte houer in die yskas, maar sit kombuispapier onder in die houer, om die vog te absorbeer.
– SARSIES: maak dit in sarsies in ’n pan gaar vir die beste resultate of ROOSTER teen hoë hitte.
– MIN OLIE: moenie te veel olie gebruik nie – sampioene is soos sponsies en sal alles absorbeer.
– NIE OORGAAR: moenie sampioene oorgaar maak nie, dan krimp die sampioene tot niks en stoot net al hul vog uit.
4-6 groot bruinsampioene (portabella’s)
80 ml (⅓ k) olyf- of avokado-olie
45 ml (3 e) gekapte Italiaanse pietersielie
fyngerasperde skil van ½ suurlemoen
swartpeper na smaak
200 g kersietamaties, in wiggies gesny
125 ml (½ k) grofgerasperde mozzarellakaas
125 ml (½ k) grofgerasperde beleë wit cheddarkaas
6-8 repe topgehalte gerookte ham of gaar spek (opsioneel)
45-60 ml (3-4 e) basiliekruidpesto
’n handvol roketblare
1. Voorverhit die oond tot 200 °C en plaas sampioene op ’n bakplaat of in ’n vlak oondbak.
2. Meng die olie, pietersielie, suurlemoenskil en peper saam. Verf sampioene met helfte van die olie-mengsel.
3. Meng die tamaties met die orige olie-mengsel en skep op sampioene. Meng die twee kase saam en sprinkel bo-oor.
4. Rooster vir 10-12 minute of tot die kaas gesmelt is en effens begin verkleur.
5. Rond sampioene met repies koue vleis of spek, lepelsvol basiliekruidpesto en roketblare af.
Klink heerlik!
Hi Heleen.
Baie dankie vir resep. Dit lyk voortreflik😋👍
Baie dankie. Lyk so lekker.
Baie dankie Heleen, klink baie lekker!
Will definitely try the mushroom recipe
Enjoy it Diane!