Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Franse roosterbrood is ’n bekende ontbyt idee, maar dis ewe lekker as ligte ete en boonop kan jy byna enige iets as bolaag daarop eet. Hier is my resep vir dié gereg, met drie idees om dit mee voor te sit: pangebraaide sampioene met maaskaas en roket of kaas, tamatie en vars kruie. En as jy van ’n soeter smakie hou, is daar vars pere met heuning, kaneel en neute.

So eenvoudig soos wat Franse roosterbrood is, kan daar wel ’n paar dinge verkeerd loop, so volg die riglyne in die resep, sodat jy dit elke keer perfek regkry. Een belangrike punt is die soort brood wat jy kies. Behalwe vir die feit dat ’n gesonder keuse met meer vesel en voedingswaarde altyd beter is, is ’n stewiger sny brood makliker om in die eier te laat week en dan te braai. Gebruik verkieslik bruin-of volkoringbrood. Daar moet genoeg eier wees, sodat die brood deeglik deurweek is – een eier per porsie, is ’n goeie basis. Moenie die pan te warm maak nie, want dan brand die brood voor die eier gaar is. ’n Matige hitte is meer as genoeg, want eiers het nie ’n hoë temperatuur nodig om te stol nie. Braai die snye brood ook net in ’n baie dun lagie olie, want anders is die Franse roosterbrood onnodig olierig en dis nogal onaptytlik.

Die idees vir bolae wat vir Franse roosterbrood gebruik kan word, is eindeloos. Onthou net om dit so gesond as moontlik te hou, sodat die ete steeds voedsaam is. Dit moenie te veel sout bevat nie en ’n tuisgemaakte opsie is altyd beter as net nog iets wat klaargemaak aangekoop word. As jy dit self maak, weet jy mos wat alles in die ete is. Sampioene se natuurlike sout smaak, ook bekend as umami, is perfek vir ’n bolaag. Die sampioene hoef net in ’n pan gebraai te word – en dit het nie eers olie nodig nie. Braai die sampioene oor ’n matige hitte, in sarsies as dit nodig is, en geur met vars suurlemoensap en swartpeper vir ’n baie geurige eindresultaat. Dit is heerlik saam met ’n bietjie maaskaas, of avokado, as jy nie van suiwel hou nie. ’n Paar roketblare daarmee saam, rond dit perfek af.

 

Franse roosterbrood
Resep
Franse roosterbrood

Resep aangepas uit Cooking from the heart 2
Lewer 4 porsies

Bestanddele

4 groot eiers

60 ml (¼ k) water

1,2 ml (½ t) sout

swartpeper na smaak

15 ml (1 e) olyfolie

4 snye bruin- of volkoringbrood

Metode

1. Klits die eiers en water saam en geur na smaak. Giet die mengsel in ’n vlak bord of houer.

2. Verhit die helfte van die olie oor ’n matige temperatuur in ’n groot pan. Doop die snye brood een vir een, aan beide kante, in die eiermengsel. Moenie die brood te lank in die eiermengsel los nie, want dit sal te pap word.

3. Braai 1-2 snye brood op ’n slag tot gaar en goudbruin aan beide kante.

4. Herhaal die proses met die orige olie, eiermengsel en brood.

5. Sit voor met ’n verskeidenheid bolae soos ’n drupsel heuning, gemaalde kaneel, piesangskyfies, bloubessies of pere. Gekapte makadamias of amandels is heerlik. Vir ‘n sout bolaag, probeer pangebraaide sampioene (sien wenke) met growwe maaskaas en roketblare of vars kersietamaties met ’n mengsel van gekapte vars kruie en wit cheddarkaas.

Wenke

1. Geur die pangebraaide sampioene met suurlemoensap, indien verkies.

2. ’n Knippie gemaalde kaneel of vanieljegeursel kan by die eiermengsel geroer word, as jy die Franse roosterbrood met ’n soet bolaag gaan voorsit.

3. Spek is heerlik saam met Franse roosterbrood, maar dit het ’n hoë sout inhoud moet dan nie sout in die eiermengsel gebruik nie.

4. Gebruik brood wat ’n dag of twee oud is, sodat dit nie te maklik pap word as dit geweek is nie.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This