Mieliepap met tamatiesmoor
Mieliepap met ’n tamatiesmoor en wors bly ’n wonderlike ete. Sit ’n paar sampioen-kebabs daarby en jy het ’n smullekker ete. En as jy ’n growwe mieliemeel gebruik, is die pap selfs nog lekkerder. Hoe hou julle van mieliepap? Fyn krummels, met groot klonte of ’n meer loperige tekstuur (slap-pap)?
Met die regte verhouding meel tot water en die regte gaarmaakmetode, is dit maklik om keer op keer mieliepap te kook presies soos julle daarvan jou. Maar, voor ons die mieliepap kook, moet ons ’n paar ander dinge oor pap en ander stysels onthou. Dit bly ’n vorm van koolhidrate en daarom is porsiebeheer regtig belangrik. Vul liewer jou bord met lae-stysel groente of slaai, as om te veel mieliepap op een slag te eet. Deur groente of ander vars elemente as deel van die ete voor te sit, kan jy maklik ook seker maak dat die ete gebalanseerd is. As die mieliemeel lekker grof is, soos die een wat ek hier gebruik, is daar ook heelwat meer vesel en voedingswaarde in die pap as met ’n verfynde weergawe.
Hoe om mieliepap te kook.
Dis nie moeilik nie en met ’n paar praktiese wenke, kan dit net makliker word. Begin in ’n groot genoeg kastrol, want om mieliepap te roer in ’n kastrol wat te klein is, is ’n nagmerrie. Onthou om vir putu-pap/groot klonte die water eers amper tot kookpunt te bring en dan die meel in ’n hopie daarby te gooi. Laat die water daarna liggies met die deksel vir 8-10 minute oor ’n lae hitte prut sodat dit die meel kan stoom, voor dit vir die eerste keer deeglik geroer word. Gebruik ’n groot houtlepel vir die roerwerk. Daarna prut die pap vir ten minste ’n uur oor ’n baie lae hitte, anders brand die pap aan. Roer die pap gereeld in die tyd. Dieselfde metode word vir krummelpap gebruik. Vir slap-pap word die water, meel en sout aan die begin alles saam gemeng en in die kastrol gesit. Dan word dit liggies geprut en gereeld geroer tot die meel gaar is. ’n Groot pot pap kan tot ’n uur kook voor dit regtig gereed is. Sien die wenke hier onder oor watter verhouding water tot mieliemeel jou die beste gaan pas en watter metode die beste gaan werk. Growwe mieliemeel is baie gewild en meer en meer mense besef deesdae dat ’n onverfynde en minder verwerkte produk nie net gesonder is, danksy die ekstra vesel, ens nie, maar dikwels ook heelwat lekkerder smaak.
Resep
Mieliepap met tamatiesmoor
Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
Mieliepap
Fyn krummelpap:
750 ml (3 k) water
2,5 ml (½ t) sout
500 ml (2 k) Toeka se geel Mieliemeel of jou gunsteling mieliemeel
Groter klonte (putu-pap):
1 liter (4 k) water
2,5 ml (½ t) sout
500 ml (2 k) Toeka se geel Mieliemeel of jou gunsteling mieliemeel
Sagte pap:
1,25 liter (5 k) water
2,5 ml (½ t) sout
500 ml (2 k) Toeka se geel Mieliemeel of jou gunsteling mieliemeel
Tamatiesmoor
10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie
1 ui, gekap
1 cm stukkie vars gemmer, fyn gekap
10 ml (2 t) gedroogde gemengde kruie
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
suurlemoensap en swartpeper na smaak
20 ml (4 t) gekapte vars kruie bv. Italiaanse pietersielie, tiemie of basilikruidblare
Metode
1. Mieliepap: Kies die konsistensie van die pap waarvan jou gesin hou en volg die bypassende metode. Die metode vir krummelpap en die met groter klonte is dieselfde:
2. Verhit die water met sout oor ’n matige hitte in ’n kastrol tot kookpunt (bv. ’n AMC 20 cm High). Skink die meel in ’n hopie in die water en sit die deksel op. Stoom so vir 10 minute en roer dit dan goed deur. Verlaag die hitte en prut stadig met ’n deksel tot gaar, terwyl dit af en toe geroer word. Dit neem ongeveer 40-45 minute.
3. Vir slap pap word die meel, water en sout eers saam geroer en dan oor lae hitte geprut tot dit gaar is.
4. Tamatiesmoor: Berei intussen die tamatiesmoor voor. Verhit olie oor matige hitte in ’n kastrol en braai die ui en gemmer tot sag.
5. Roer die gedroogde kruie en tamaties by en prut oor ’n lae hitte vir 20 minute tot effens verdit en aromaties.
6. Geur met suurlemoensap en swartpeper na smaak en roer die vars kruie by.
7. Sit die tamatiesmoor warm voor op pap saam met braaivleis, boerewors of sampioenkebabs (sien wenke).
Wenke
1. Sampioenkebabs: Sny ’n verskeidenheid vars sampioene in kwarte of in die helfte en ryg op kebabstokkies. Verf met olyfolie of suurlemoen-gegeurde avokado-olie en braai oor matige kole vir 5-10 minute. Geur met swartpeper en vars tiemieblare. Gebruik 10-12 sampioene vir 10-12 kebabs. Die kebabs kan ook in ’n pan gebraai word. Onthou om houtstokkies net eers ’n halfuur in koue water te week. Dit help dat die stokkies nie vlamvat nie. Anders werk metaalstokkies die beste. Of verhit ’n dun lagie olie in ’n pan en braai die sosaties só.
2. Indien verkies, roer ’n goeie skeut olyf- of avokado-olie, botter, heelpitmielies of suikermielies by die mieliepap vir ’n ekstra romerige tekstuur en lekker geur. ’n Kombinasie van olie en mieliepitte is ook baie lekker.