Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Blatjanghoender

Aug 31, 2018 | Light meals, Mains, Poultry

Blatjanghoender is ’n Suid-Afrikaanse gunsteling en vir baie mense deel van hul kos-erfenis. Met ’n handjievol bekende bestanddele, is dit maklik om dié geurige ete op tafel te hê. Hierdie smullekker weergawe is lekker, maar heelwat gesonder as sommige resepte. Ongelukkig is daar ’n paar tipiese bestanddele vir die resep, wat nie altyd ewe gesond is nie. Soppoeier om die sous te verdik, is die eerste sondebok, want dit het ’n baie hoë soutinhoud. Heelwat room word ook dikwels gebruik. Blatjang kan onnodig baie suiker bevat, so maak dit ‘n gewoonte om kos-etikette te lees om te kyk hoeveel suiker en preserveermiddels daar in die blatjang en selfs die mayonnaise is wat jy gebruik.  

Met ’n paar eenvoudige veranderinge, is dit wel moontlik om steeds die groot gunsteling op ’n gesonder manieer voor te sit. Gebruik ongegeurde jogurt in plaas van room of mayonnaise, vervang die soppoeier met mielieblom en maak ’n goeie keuse as jy blatjang koop. ’n Paar uiewiggies voeg ekstra geur by en so kan jy met min moeite en gesonder keuses, steeds heerlik smul. Maak jou bord verder vol met ’n verskeidenheid groente en vrugte van jul keuse. Gebruik veral dit wat in seisoen is, vir lekker kleur en geur. 

Resep
Blatjanghoender
Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 4 — 6 porsies
Bestanddele

8 hoenderporsies, bv. dye of boudjies, oortollige vet verwyder

10 ml (2 t) mielieblom

125 ml (½ k) sterk Rooibostee

125ml (½ k) blatjang van goeie gehalte

1 groot ui, gehalveer en in dun skyfies gesny

250 ml (1 k) ongegeurde jogurt

2,5 ml (½ t) sout

vars tiemieblare (opsioneel)

Metode

1.  Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas die hoenderporsies in ’n oondbak.

2.  Meng die mielieblom met van die tee om ’n pasta te vorm. Meng die res van die tee by.

3. Roer die blatjang en ui by. Voeg die jogurt en sout by en roer tot goed gemeng.

4. Skep die jogurtmengsel eweredig oor die hoenderporsies.

5.  Bak vir 30-45 minute of tot goudbruin en die hoender gaar is.

6.  Garneer met vars tiemie en sit warm saam met slaai of groente van jou keuse as ’n heerlike aandete voor. 

Wenk

1. Rooster stukkies botterskorsie saam met die uie in die oondbak om sommer ook ’n stysel in die ete in te sluit.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This