Patat-nachos met tuisgemaakte chakalakasous

Die kombinasie van ’n geurige tuisgemaakte tamatiesous (chakalaka) met soet skyfies oondgeroosterde patat is heerlik en almal hou van ’n bietjie gesmelte kaas. Die res van die bord kan jy vul met vars groente en vrugte waarvan julle hou, maar die appel, blomkool en broccoli is besonder lekker saam met die bloukaas-doopsous. Die chakalakasous-resep kom uit Cooking from the heart en alhoewel dit in die boek met mieliepap voorgesit is, kan dit baie variasies op die tema hê. Dis vinnig en maklik om te maak en die vars gemmer en tikkie kerriepoeier saam met die tamatie, uie en soetrissie is die ideale manier om iets so basies soos ryp tamaties met natuurlike geurmiddels voor te berei. Die sous kan selfs op steak, hoenderfilette, porsies vis, met wors of frikkadelle voorgesit word. Of skep die sous oor gaar frikkadelle en sprinkel ’n bietjie kaas en sonneblompitte oor, bak in die oond en sit met groente voor.
Peuselhappies het dikwels een of ander vorm van deeg as basis of is diepgebraai – dus nie baie gesond nie. Die ander probleem is dat sulke happies jou vinnig vol laat voel en eintlik jou aptyt vir die ete wat nog moet volg, bederf. Om iets uit ’n pakkie oop te maak, is wel gerieflik maar beslis nie so gesond soos tuisgemaakte peuselhappies nie. En dit hoef nie baie tyd of moeite te verg nie. Maak die chakalaka vooraf en maak dit net weer vinnig warm voor jy dit nodig het. Die patatskyfies kan sommer rooster terwyl julle kuier en die bloukaas-doopsous meng jy in ’n japtrap – dit het net drie bestanddele. As daar iets soos neute of skyfies avokado of guacamole ook op die bord is, is die keuse van knibbelkos lekker wyd en sluit jy ook gesonde olies op dié manier in – sommer nog ekstra gesonder. ’n Goeie balans tussen die ryker smake en vars bestanddele, soos die appel en groente sorg dat daar iets vir elke smaak is.
Lewer 4 – 6 porsies
Chakalakasous
10 ml (2 t) olyf-of avokado-olie
1 ui, gekap
1 cm stuk vars gemmer, gerasper
1 rooi soetrissie, ontpit en gekap
5 ml (1 t) paprika
5 ml (1 t) matige kerriepoeier
4 ryp tamaties, geskil en gekap (sien wenk)
suurlemoensap en peper na smaak
handvol vars koljanderblare
Patat-nachos
30 ml (2 e) olyf-of avokado-olie
500 g klein patats, in baie dun skyfies gesny
200 ml gerasperde wit cheddarkaas
1. Chakalakasous: Verhit olie oor ’n matige hitte in ’n kastrol (bv. ’n AMC 20 cm Low) en braai die ui, gemmer en rooi soetrissie saam tot sag. Voeg die paprika, kerriepoeier en tamaties by. Verlaag die hitte en prut vir 20 minute of tot ’n dik sous. Geur met suurlemoensap, peper en vars koljanderblare.
2. Patat-nachos: Voorverhit die oond tot 200-220˚C. Voer ’n bakplaat of twee met bakpapier uit.
3. Plaas olie in ’n mengbak en voeg die patatskyfies by en meng tot bedek is. Pak op die bakplate.
4. Rooster die skywe vir 12-15 minute of tot goudbruin en bros.
5. Pak die gaar patat-nachos op ’n oondbak of hitte-bestaande bord en skep die chakalakasous oor. Strooi die kaas oor en rooster vir 5 minute of tot goudbruin en die kaas gesmelt het.
6. Garneer met koljanderblare. Vars avokado of guacamole is ’n maklike manier om ook gesonde vette in te sluit.
2. Vervang die vars tamaties met 1-2 x 410 g-blikkies gekapte tamaties.
3. Geur die chakalakasous met kruie in plaas van speserye, indien verkies. Italiaanse geure soos basiliekruid of origanum sal lekker wees.
4. Om ryp tamaties te skil, sny met ’n geriffelde groentemessie ’n kruisie aan die stingelkant van die tamatie. Plaas in ’n hittebestande bak en giet kookwater oor. Laat dit vir ’n paar minute staan en trek dan die skilletjies af. Die tamaties kan dan in blokkies gesny en vir die resep gebruik word, of vries dit vir ’n volgende keer. Onthou, hoe ryper die tamaties is, hoe makliker skil dit af.