Subscribe for more recipes

Enter your email address to subscribe to this blog and receive notifications of new posts by email.

Mieliepaptert met sampioene

May 4, 2018 | Sides & salads, Starchy side

 

Het jy ook met pap as ’n stysel vir etes grootgeword? Veral met braaivleis of wors en sous? Ek is dol daaroor, maar ander kan glad nie verstaan dat ’n mens hieroor opgewonde kan raak nie. Daar is ook verskillende maniere waarop liefhebbers daarvan hou – fyn krummels, loperig, in groot, sagte klonte of dan soos hier in ’n paptert-styl gebak.

Paptert kan soms onnodig ryk wees, met room of baie kaas en selfs ander bestanddele soos spek, maar dan voel dit vir my of jy nie eintlik meer die mieliepap proe nie. Ek verkies ’n eenvoudiger weergawe, soos hierdie een met ’n bolaag van vars sampioene, uiewiggies en mieliepitte. Terwyl dit bak, word die geure van die bolaag deel van die gereg en dis heerlik. Die gereg kan warm of teen kamertemperatuur geëet word.

Gebruik ’n lekker growwe mieliemeel, sodat die gereg baie vesel bevat, want onthou, mieliemeel bly ’n vorm van stysel, so hoe minder verfyn dit is, hoe beter. Die meel het heelwat vloeistof nodig, so moenie skrik vir die baie loperige mengsel wat jy in die oondbak gaan skep nie. Al die vloeistof word geabsorbeer soos die meel gaar word. Soos met vele vorige resepte, bly die keuse van bestanddele om ’n gereg te geur, ’n belangrike aspek van gesonde koskeuses. So, in plaas van ’n onnodige klomp botter of room, is die sampioene en mielies ’n smullekker en gesonde opsie.

Sampioene is ook ’n gerieflike bestanddeel om as deel van die aanbevele 5-’n-dag vars vrugte of groente in etes in te sluit, want dit kan ewe maklik rou of gaar gebruik word. Daar is verskillende soorte vars sampioene beskikbaar en veral die groter, meer neuterige sampioene is ideaal om dié gereg mee te geur. Die natuurlike souterige smaak (umami) van sampioene maak dit verder veelsydig, want dan kan jy heelwat minder sout in geregte gebruik. Moenie sampioene was nie, vee dit net met ’n stukkie kombuispapier af of gebruik ’n sagte sampioen-borseltjie. Die struktuur van sampioene maak dat hulle soos klein sponsies reageer, so as dit gewas word, is daar onnodig baie vog in die gereg.

Resep
Mieliepaptert met sampioene
Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
Lewer 4 – 6 porsies
Bestanddele
500 ml (2 k) growwe mieliemeel

500 ml (2 k) melk

500 ml (2 k) water

90 ml (6 e) olyf- of avokado-olie

2 mielies aan die stronk, gekook en pitte van die stronk afgesny

15-20 ml (3-4 t) vars tiemieblare

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

1 klein ui, in dun wiggies gesny

125 g portabellinisampioene, in kwarte of wiggies gesny

10-12 ekstra takkies vars tiemie

Metode

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n oondpan met bakpapier uit en smeer liggies met olie. (Gebruik liewer ’n vlakker as té ’n diep pan, anders bak die gereg baie lank. Of smeer ’n oondbak liggies met olie.)

2. Meng mieliemeel, melk, water, olie, helfte van die mieliepitte en die tiemieblare saam in ’n mengbak. Geur na smaak en skep in die oondbak.

3. Pak die ui, sampioene en die res van die mielies in ’n eweredige laag oor die mieliemeelmengsel. Strooi tiemietakkies bo-op.

4. Bak vir 1 uur of tot die meel gaar en gereg goudbruin bo-op is. Sit dadelilk warm voor.

error: Content is protected !!

Pin It on Pinterest

Share This